Paashaas spring toe nié beurtkrag vry

Die Tutuka-kragsentrale in Mpumalanga. (Foto: Eskom)

Fase 2-beurtkrag is Sondag op kort kennisgewing ingestel en sal vanaf 16:00 Sondag geld.

Eskom het aanvanklik beloof dat geen beurtkrag oor Paasnaweek ingestel sal word nie, maar moes dié maatreël noodgedwonge instel nadat bykomende kragopwekkers die gees gegee het. Daar is ook ʼn vertraging in die herstel van kragopwekkers wat Eskom gehoop het teen dié tyd tot die stelsel gevoeg sou kon word.

Luidens ʼn verklaring deur die kragopwekker sal beurtkrag tot 05:00 Woensdag geld.

“Die verlies van vier bykomende eenhede by Matla, Tutuka, Duvha en Arnot, tesame met ʼn vertraging in die herstel van eenhede by Tutuka, Camden, Matla en Grootvlei, maak dat ons geen ander keuse het as om beurtkrag in te stel nie. Dit is nodig om energiereserwes weer aan te vul, wat tot dusver gebruik is om aan die vraag na krag te voldoen.”

Eskom sê hy kon wel daarin slaag om vier eenhede sedert Vrydag by die stelsel te voeg, maar dit is skynbaar nie genoeg om die ligte aan te hou nie. Onbeplande onderbrekings is tans verantwoordelik vir ʼn massiewe 17 000 MW aan verlies in krag, terwyl beplande onderbrekings op 5 500 MW staan.

Aangesien die kragnetwerk onstabiel is, sê Eskom hy kan nie die moontlikheid uitsluit dat ʼn hoër fase van beurtkrag later ingestel word nie. Kragverbruikers word dus gemaan om spaarsamig met krag te werk te gaan.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Swerwer ·

Geweet dit gaan gebeur, en dit gaan nog erger raak. Eskom kan maar heuning smeer soveel soos hul wil, ons weet mos wat voorlê. Zimbabwe het mos die voorbeeld gestel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.