Paasnaweek begin op somber noot

Argieffoto

Altesaam 17 mense is Woensdag in aanloop tot die Paasnaweek in twee afsonderlike busongelukke in die Oos-Kaap dood.

In die eerste voorval is 13 mense dood en 42 beseer toe ʼn Vaal Maseru-bus, met 60 sitplekke, sowat 10 km buite Ngcobo in ʼn ongeluk betrokke was. Die bestuurder van die bus het beheer oor die voertuig verloor, waarna dit die pad verlaat en verskeie kere gerol het. Twaalf passasiers en die busbestuurder is op die toneel dood verklaar.

Die bus was van Welkom in die Vrystaat op pad na verskeie bestemmings in die Oos-Kaap.

Volgens kapt. Namhla Mdleleni, polisiewoordvoerder, moes drie reddingshelikopters ingespan word om diegene wat die ongeluk oorleef het, na veiligheid te neem. Die beseerdes is na verskeie hospitale in die omgewing geneem vir verdere behandeling.

Sizwe Kupelo, woordvoerder van die Oos-Kaap se departement van gesondheid, het gesê sewe mense is in ʼn kritieke toestand, 18 ernstig beseer en 17 is stabiel.

Woensdag laataand is vier mense dood en 24 beseer toe ʼn Translux-bus onderweg van Oos-Londen na Pretoria op die N6 naby Sterkstroom omgeslaan en gerol het.

Volgens Mdleleni is die beseerdes, onder wie ʼn kind, na die Frontier-hospitaal geneem vir behandeling.

Die polisie ondersoek in albei voorvalle sake van strafbare manslag.

Die Padverkeersbestuurskorporasie (RTMC) het gesê ʼn span ondersoekers gaan na die ongelukstoneel naby Ngcobo gestuur word om die omstandighede rakende die ongeluk te ondersoek.

Simon Zwane, woordvoerder van die RTMC, het ʼn beroep op alle padverbruikers gedoen wat oor die Paasnaweek op die paaie gaan wees, om uiters versigtig te bestuur. “Padongelukke kan vermy word as ons almal verantwoordelikheid vir ons eie lewens neem en die reëls van die pad gehoorsaam,” het Zwane gesê.

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Nola ·

Hoeveel plaasaanvalle en sterftes was daar nie in die afgelope maand nie, maar o jinne die regering is heel eerste om sterftesyfers op die paaie bekend te maak en hulleself te BEKOMMER en noodmaatreels in te stel .. busse, taxis . elke jaar dieselfde storie . jammer . voordat ons nie simpatie met die boere kry nie .. gaan ek maar by die beriggie verby.

Peet Schabort ·

Nee, nie net verantwoordelikheid neem van ons eie lewens maar eerder die lewens van andere wat ongevraagd en onskuldig betrokke is. Onoordeelkundige spoed maar ook slaap op die pad teen 60km/h is en bly gevaarlik. Jy kan teen 60km/h ook roekeloos bestuur afhangende van omstandighede. Die grootste probleem is GEDULD en VERDRAAGSAAMHEID. Ook behoort K53 hersien te word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.