Paasnaweek-padsterftes neem af

Foto: ER24

Foto: ER24

Die aantal sterftes op die land se paaie die afgelope Paasnaweek het afgeneem in vergelyking met dieselfde periode verlede jaar, het die minister van vervoer Woensdag aangekondig.

Minister Dipuo Peters sê volgens voorlopige statistiek was daar tydens vanjaar se Paasnaweek 148 noodlottige ongelukke waarin 193 mense dood is. Tydens die Paasnaweek in 2013 was daar 201 noodlottige ongelukke waarin 241 mense dood is.

KwaZulu-Natal het vanjaar die meeste padsterftes oor Paasnaweek gehad met 39 noodlottige ongelukke waarin 49 mense dood is. Dit is gevolg deur die Oos-Kaap met 19 noodlottige ongelukke en 36 sterftes, Limpopo met 23 noodlottige ongelukke en 30 sterftes en Gauteng met 22 noodlottige ongelukke en 23 sterftes.

In Mpumalanga was daar 128 noodlottige ongelukke waarin 19 mense dood is, in die Vrystaat was daar nege noodlottige ongelukke waarin 15 mense dood is, in die Wes-Kaap was daar ses noodlottige ongelukke waarin agt mense dood is, in Noordwes was daar sewe noodlottige ongelukke waarin sewe mense dood is en in die Noord-Kaap was daar vyf noodlottige ongelukke waarin ses mense gesterf het.

Peters sê tydens die Paasnaweek in 2012 was daar 181 noodlottige ongelukke waarin 217 mense dood is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.