Paasnaweek-padsterftes styg skerp

Foto: Netcare 911

Foto: Netcare 911

Die aantal sterftes op die land se paaie die afgelope Paasnaweek het skerp gestyg in vergelyking met dieselfde tyd verlede jaar, het die minister van vervoer Woensdag aangekondig.

Volgens Dipuo Peters, minister van vervoer, is 287 mense die afgelope Paasnaweek op die land se paaie dood, ʼn skerp styging in vergelyking met die 193 sterftes oor Paasnaweek verlede jaar. Peters het gesê daar was 208 ongelukke oor die afgelope langnaweek, ook aansienlik meer as die 148 ongelukke verlede jaar.

Peters het gesê ‘n duidelike toename in verkeer op die land se hoofweë is tydens Paasnaweek waargeneem. Dit kan waarskynlik daaraan toegeskryf word dat die Paasnaweek met maandeinde, skoolvakansie en verskeie pelgrimstogte saamgeval het.

Donderdag is ʼn gemiddeld van 2 200 motors per uur deur die die land se tolhekke en het dit later tot 4 494 motors per uur gestyg. Die hoogste verkeerslading is by die Pumulani-plaza op die N1 in Limpopo aangeteken.

Volgens Peters is alkohol- en dwelmmisbruik, roekelose en nalatige bestuur, moegheid, onpadwaardige voertuie, bestuurders wat op blinde hoogtes verbysteek en informele nedersettings langs besige paaie en kruisings die grootste faktore wat tot padsterftes bydra. “Ons streng wetstoepassing en geen verdraagsaamheid vir wetteloosheid op ons paaie nie dui duidelik daarop dat die faktore wat die meeste tot padsterftes bydra, voorkombaar is en uitgeskakel kan word,” het Peters gesê.

“Die tendens van totale miskenning van die wet en roekelose gebruik van ons paaie is baie kommerwekkend en skokkend. Hierdie verskynsel word beklemtoon deur die feit dat 48% van sterftes passasiers was, 28% bestuurders en 20% voetgangers, terwyl 2% fietsryers was en 2% onbekend is.”

Peters het gesê sy is baie teleurgesteld in die hoë padsterftesyfer en het beklemtoon dat streng maatreëls ingestel sal word om padveiligheid te verbeter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Carel ·

“Volgens Peters is alkohol- en dwelmmisbruik, roekelose en nalatige bestuur, moegheid, onpadwaardige voertuie, bestuurders wat op blinde hoogtes verbysteek en informele nedersettings langs besige paaie en kruisings die grootste faktore wat tot padsterftes bydra.”
Onpadwaardige voertuie (1) en bestuurders wat op blinde hoogtes verbysteek (2) verseker.

johannes ·

Strenger toepassing gaan nie help nie want sodra die verkeers beamptes onsigbaar is dan begin bestuurders roekeloos ry bv soliede wit lyn en om draaie sal 5 tot 6 motors op ‘n slag verby gesteek en in reen met slaggate onsigbaar roekeloos veral tussen Lydenburg en Middelburg.Ek se vir my kollegas dis ‘n wonderwrk dat nie meer mense dood is nie spoed is ook ‘n groot probleem.

CHRISTA ·

Hoekom pla net die sterftesyfers wat gedurende vakansies op ons paaie voorkom ons minister? Sy moet na die daaglikse sterftesyfers op ons paaie kyk – dan kan sy sien wat werklik aangaan. Die owerhede moet net die wette wat reeds op die wetboeke is toepas, dan sal hulle sien dat die ongelukke en sterftes sal afneem! Ons metropolisie is net nie geinteresseerd nie!

Peet Schabort ·

Kameras in privaat motoriste se voertuie waar foto’s van oortredings dan gestuur word na ‘n sentrale punt. Daar word dan besluit geneem. Hierdie werk kan gedoen word deur sg. wetstoepassers wat in ieder geval skitter in hul afwesigheid in nie-spitstye op ons paaie. Die oortreder kom gewoonlik weg met klein oortredings soos om nie te stop by ‘n stopteken wat naderhand ook die verbysteek by sperstrepe laat begin gebeur. So word die kansvattery al groter tot daardie dag aanbreek wat ons die slagting aanskou wat vooraf gegaan is deur kleiner oortredings waarmee die padvark weggekom het. Daar word mos mooi en voorbeeldig bestuur wanneer jy weet jy word dopgehou.

Jaycee ·

SA se paaie is ‘n slagveld. Duisende voertuigbestuurders en ander padgebruikers verloor hulle lewens op brutale wyse. En die situasie word net erger. Dit blyk ‘n voldonge feit te wees dat die owerhede nie die vaagste benul het oor hoe om hierdie tragedie te hanteer nie; hulle beaam net gereeld hulle sogenaamde afgryse en kom met allerhande dreigemente, beloftes en halfgebakte planne. Maar dit maak nie hond haaraf nie. Miskien reflekteer dit iets van ons leë-kop president want in my gedagtes hoor ek hoe hy met ‘n idiotiese giggel die blanke setlaars die skuld hiervoor gee want hulle het mos daartoe aanleiding gegee dat motorvoertuie na SA gebring is. Ek is meer as mismoedig.

Marietjie ·

Streng maatreëls moet ELKE dag toegepas te word, nie net oor Paasnaweke en vakansietye nie. Beboet en verwyder oortreders van ons paaie en die sterftesyfer sal geleidelik op ‘n daaglikse basis afneem wat weer tot die gevolg sal hê dat Paasnaweke en vakansietye veiliger met minder sterftesyfers gepaard sal gaan.

Hendrik ·

Kom ry op die N4 en sien hoe sit hulle onder die brue lang die Donkerhoek weegbrug. Volgens die spietkoppe het hulle nie genoeg brandstof om die snelwee te patroleer nie. Daar sit 5 van hulle om ‘n spoedkamera maar maar ‘n paar kilometer voor dit heers daar chaos om die Hans Strydom afrit elke middag. Niks word gedoen nie. Almal vir hulle self…

NEL ·

Ons arme minister van vervoer het nie ‘n idee waarvan sy praat nie, wonder in elk geval van op watter vloer het sy ‘n jaar of twee gelede diens gedoen as skoonmaker en nou ‘n minister.

Ek het Maandag gery van Komatpoort na Nelspruit en nie een verkeersman of dik vrou teen die pad gesien diens doen nie , terwyl die oorlaaide bakkies en Taxi’s baljaar het op die N4 na die noorde. As jy hulle op die pad sien is hulle besig om bribe’s te vat en dan kan die voertuig maar vertrek tot by die volgende verkeersman wat wag vir sy aankoms.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.