Paasnaweek: Padsterftes vanjaar aansienlik minder

Fikile Mbalula, die minister van vervoer, tydens die bekendmaking van die jaarlikse Paasnaweeksyfers. (Foto: Twitter)

Verkeersvolumes was die afgelope Paasnaweek 70% minder as ʼn jaar tevore en sterftes op die land se paaie het in dié tyd weens die staat van algehele afsondering wat geld, geweldig gedaal.

Die minister van vervoer, Fikile Mbalula, het Vrydagoggend die sterftesyfers vir die Paasnaweek bekend gemaak. Volgens die minister is beduidende voorbereidings vir wetstoepassing tydens die Paasnaweek getref wat deur die Covid-19-pandemie omver gewerp is.

Skole moes vroeër sluit, Paas-pelgrimstogte is gekanselleer en ʼn verbod geld op reis tussen provinsies en streke, het Mbalula gesê. Daar was vanjaar dus buitengewone omstandighede op die land se paaie.

“Die meeste mense gehoorsaam die regulasies en het tuisgebly. Die afname in verkeersvolumes het gevolglik ook ʼn uitwerking op die getal verkeersoortredings gehad. Enige poging om vanjaar se syfers met dié van verlede jaar te vergelyk, sal egter ʼn sinlose oefening wees. Die toestande verskil beduidend van wanneer verkeer vrylik toegelaat word,” het Mbalula gesê.

Daar was die afgelope Paasnaweek weens die staat van algehele afsondering ‘n beduidende afname in sterftes op die land se paaie. (Foto: Twitter)

Vanjaar is altesaam 26 dodelike ongelukke tydens die Paasnaweek [9 tot 13 April] aangemeld en 28 mense het gesterf. Dít in vergelyking met die 128 dodelike ongelukke ʼn jaar tevore en die 162 mense wat in 2019 tydens die Paasnaweek omgekom het.

Elf mense is tydens die Paasnaweek vir beweerde dronkbestuur in hegtenis geneem in vergelyking met die 807 wat verlede jaar aangekeer is. ʼn Enkele motoris is vir ʼn beweerde spoedoortreding aangekeer in vergelyking met die 192 wat in 2019 gevang is.

Bestuurders was grootliks die slagoffers van ongelukke (42% van sterftes), gevolg deur voetgangers (31%) en passasiers (27%). Die meeste sterftes was in Mpumalanga (7) en KwaZulu-Natal (6). Geen sterftes is in die Vrystaat en Noord-Kaap aangemeld nie.

Ongelukke per provinsie
ProvinsieGetal ongelukkeSterftes
Mpumalanga67
KwaZulu-Natal56
Oos-Kaap55
Gauteng33
Wes-Kaap33
Noordwes33
Limpopo11
Vrystaat00
Noord-Kaap00

Ongelukondersoeke

Die motor- en taxiwrak na die ongeluk.

Mbalula het ook terugvoer gegee oor ondersoeke na verskeie gru-ongelukke wat die Padverkeersbestuurskorporasie (RTMC) sedertdien afgehandel het.

In een van dié ongelukke is tien leerders dood toe ʼn minibustaxi reg van voor op die R553 Goue Hoofweg in Eldoradopark in Johannesburg met ʼn motor gebots het. Albei bestuurders het ook omgekom.

“Die ondersoek het bevind die dryfas van die minibus het afgebreek wat veroorsaak het dat die bestuurder beheer verloor het. Die minibus is nie behoorlik in stand gehou nie. Die lisensie het ook vyf jaar tevore reeds verval,” het Mbalula gesê.

Die minister het gesê kwartaallikse ondersoeke moet gedoen word na voertuie wat skoliere vervoer en wetstoepassers gaan streng voldoening afdwing.

Die wrak van die bus.

Wat betref ʼn busongeluk in die Oos-Kaap wat die lewe van 25 mense geëis het, het die RTMC bevind ʼn menslike fout het waarskynlik tot die ongeluk gelei. Die busbestuurder het ʼn voertuig verbygesteek en toe hy na die linkerbaan teruggekeer het, het hy oorgekorrigeer en beheer verloor. Die bus het omgeslaan en teen ʼn steil helling afgerol.

Volgens Mbalula het die ondersoek geen meganiese foute aan die bus gevind nie.

Mbalula het ook gesê sy departement gaan vra vir swaarder strawwe vir diegene wat verantwoordelik is vir ongelukke. Dit sal insluit dat hulle van moord aangekla kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Ricus ·

Is ek verkeerd as ek se daar was nie veronderstel om een persoon te sterf in die paasnaweek verkeer nie alles is dan volgens die regering afgestel en mense moes in afsondering by die huis bly.

Scalla ·

Frikkie is seker baie trots met die statistieke met hom in beheer.

SomeOne ·

wat verwag mbalula, mense moes by die huis bly, en indien dit gebeur sal daar outomaties minder sterfgevalle wees, “duhh”

Anoniem ·

Ag Fikile is jy nou sommer nou net plain stupid. Almal weet daar gaan mimder sterftes wees want die meeste gehoorsame burgers sit by die huis want dit is lockdown lol. Nou staan jy daar soos n wafferse champ met jou bokram handjies en trots met jou borsie uit. Wakker word ou grote en gaan vang daai wat hul taxis nog steeds oorlaai of vat jou manne nog bribes en laat die taxi maar ry. Met al die sterftes op die pad tydens die lockdown is daar meer mense dood as die aan covid19 so waarom n lockdown.

msp ·

Die sterf en beseende gevalle is skokkend!!!! Hoe kan dit so hoog wees as meeste mense by hulle huise is. Jy kan ongelukkig nie 2020 se statistieke meld nie omdat niemand ń la naweek gehad het nie.

Sobymykoolkop ·

Hoor my lied, volgende jaar as die meeste van die virus vergeet het het gaan die seer geagte minister fear nêks SPOG oor hoe hulle die padsterftes laat daal het in 2020. As dit nie tragies was nie was dit lagwekkend.

Drico ·

Daar was nie veronderstel om ongelukke en sterftes te wees nie. Niemand was veronderstel om tussen provinsues te reis nie. Dis uiters skokkend, maar natuurlik het julle alles onder beheer nè?!

PieterP ·

Haai werklik? Daar is seker ‘n mooi produksie bonus op die horison vir hierdie puik prestasie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.