Paasnaweek: Soveel sterf op SA se paaie

Minister Fikile Mbalula. Foto: @MbalulaFikile/Twitter

Daar was minstens 189 ongelukke oor die Paasnaweek met 235 mense wat op die land se paaie dood is.

Fikile Mbalula, minister van vervoer, het Donderdag statistieke rakende ongelukke en padsterftes oor die Paasnaweek bekend gemaak.

Die meeste ongelukke was in KwaZulu-Natal. Altesaam 54 mense is dood en 42 ongelukke het plaasgevind. In Gauteng was daar 30 ongelukke en 36 sterftes, in Limpopo was daar 27 ongelukke en 34 sterftes en in die Wes-Kaap was daar 24 ongelukke en 26 sterftes.

Altesaam 27 sterftes is in die Oos-Kaap aangemeld, met 22 ongelukke. Daar was 15 ongelukke in Mpumalanga en 15 ongelukke in Noordwes, met onderskeidelik 18 en 20 sterftes. In die Vrystaat was daar agt ongelukke en 13 sterftes en in die Noord-Kaap was ses ongelukke en sewe sterftes.

Dit is volgens Mbalula kommerwekkend dat die aantal voetgangers wat op die land se paaie dood is van 30% tot 35% gestyg het in vergelyking met dieselfde tydperk in 2019. Vanjaar se statistieke word met 2019 se statistieke vergelyk aangesien 2020 se Paasnaweek te midde van die streng inperking plaasgevind het.

Daar was volgens voorlopige syfers ’n toename in verkeersvolumes op paaie in en uit Gauteng. Die N1-Noord na Limpopo, die N3 na KwaZulu-Natal en die N4 in die rigting van Mpumalanga was ook baie besig. Op die N3 het meer as 15 000 voertuie deur verskeie tolhekke op die roete beweeg.

Meer as 178 000 voertuie is tydens 336 padblokkades van die pad afgetrek en nagegaan. Meer as 32 000 boetes is uitgereik, terwyl 782 voertuie geskut is. Altesaam 438 motoriste is vir dronkbestuur in hegtenis geneem, 112 vir spoedoortredings en 28 motoriste is vir roekelose of nalatige bestuur in hegtenis geneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Stofdonkie

Ek wonder hoeveel omkoopgeld is gedurende die paasnaweek betaal. Fikile sal seker nie die syfer bekendmaak nie?

SomeOne

dis so tragies dat mense nie padreels nakom nie, onverantwoordelik, astrant, te slim in oordeel, ens.

Pierre

en nou rus die verkeers afdelings seker weer tot nuwe jaar voor daar proaktief opgetree word.

isabelle

daar was nuus dat kameras in werking sou tree en daar dan geen gunsies en geldjies uitgeruil kan word nie..?

Jessey

Mmmmm!!

Volgens hom kos dit tusen R 700.00 en R 1 500.00 per vierkante meter om slaggate reg te maak. Hulle tel die ongeluk statistieke maar se nie hoeveel ongelukke deur slaggate veroorsaak is nie.

Die land van ons waar ‘n ekonomie gestop word want geen koste kan geheg word daaraan om lewens te spaar nie, maar die slaggate kan maar bly want dis te duur om reg te maak.

Wonder maar net??