PAC wys nuwe leier aan

Narius Moloto spreek die skare toe (Foto: ANA/Balise Mabona)

Narius Moloto is Sondag tydens die Pan Africanist Congress (PAC) se tweedaagse nasionale beleidsvergadering naby KwaMhlanga in Mpumalanga as dié party se nuwe leier verkies.

Jones Tholo is tydens dié vergadering as die party se adjunk aangewys.

Moloto het tydens ʼn byeenkoms wat deur sowat 3 000 mense bygewoon is, gesê die party het nou daarin geslaag om van die “vuilgoed ontslae te raak”. Hy het gesê elke lid van dié party moet nou alles moontlik insit voor die algemene verkiesing in 2019.

“Ons het ʼn verantwoordelikheid om te verseker dat die party deelneem aan die 2019-verkiesing. Ons moet aanhou lede werf en die PAC verdedig. Die party moet ʼn groot invloed op hierdie land hê. Dié invloed moet waargeneem kan word in Afrika en internasionaal. Ons sal aanhou om die mense te dien,” het hy gesê.

Moloto sê die party verskil meer as ooit vantevore omdat die party nou dissipline tussen sy bestuur en lede kweek. Hy het gesê die party was sedert sy ontstaan ʼn bevrydingsbeweging en sal steeds getrou bly aan die bevryding van mense in Suid-Afrika.

ʼn Dissiplinêre komitee het die party se voormalige president, Luthando Mbinda, vroeër vanjaar die trekpas gegee. Ondanks sy afdanking as president van die party, beklee Mbinda steeds die enigste setel in die Nasionale Vergadering.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.