Packham glo in vermoorde vrou se motor opgemerk

Robert Packham in die hof. (Foto: Catherine Rice/ANA)

ʼn Buurtwagvrywilliger het Woensdag aan die Wes-Kaapse hooggeregshof gesê hy het gesien hoe Rob Packham met sy vrou se motor ry op 22 Februarie 2018, die dag van sy vrou se verdwyning.

Paul Gray (76) het op die derde dag van Packham se verhoor getuig dat hy op dié betrokke dag, kort nadat hy sy huis verlaat het, ʼn stilstaande BMW-sedan sonder nommerplate in Rondebosch opgemerk het. Hy het gesê hy het dit vreemd gevind dat die nommerplate aan die voor- én agterkant van die voertuig weg was en het dit by die radiobeheerkamer aangemeld omdat hy vermoed het die voertuig is dalk gesteel.

“Ek het gesien hoe ʼn man by die bestuurderskant inklim. Dit was ʼn wit man in ʼn kortbroek. Ek het vir hom probeer wys daar is ʼn probleem met die voertuig.” Gray het aan die hof gesê dit het gelyk of die man herhaaldelik sy vuiste teen die stuurwiel slaan.

“Die bestuurder het nie direk vir my gekyk nie. Hy het gelyk soos iemand wat baie ontsteld is oor iets. Hy het vinnig na my gekyk en toe weggejaag.”

Gray het aan die hof gesê die man se optrede was “buitengewoon” en hy het daarom die motor gevolg tot in Boundaryweg en Kendallweg in Lansdowne. Daarna het hy egter sig van die voertuig verloor.

Packham staan tereg op aanklagte van moord en dwarsboming van die gereg in verband met die dood van sy vrou, Gill Packham, in Februarie verlede jaar. Hy het onskuldig gepleit.

Gill het die dag van haar verdwyning nie soos gewoonlik teen 07:30 by haar werk opgedaag nie. Haar liggaam is later in die kattebak van ʼn uitgebrande BMW naby die Dieprivier-treinstasie gevind.

Die staat voer aan Packham het ʼn stomp voorwerp gebruik om haar oor die kop te slaan en toe die BMW met haar liggaam daarin aan die brand gesteek in ʼn poging om bewyse te vernietig.

Packham is in April deur Gray tydens ʼn uitkenningsparade uitgewys. Toe hy Woensdag weer gevra is om dit te doen, het hy verward gelyk en gesê ʼn man in die openbare galery en die beskuldigde lyk baie na mekaar.

Nadat hy ʼn rukkie gehuiwer het, het hy Packham uitgewys en is toe gevra om die man uit te wys wat in die openbare galery sit wat hy meen baie na Packham lyk.

Gill Packham se motor sonder nommerplate is deur veiligheidskameras vasgevang die dag van haar verdwyning. (Foto: ANA)

Craig Webster, die prokureur vir die verdediging, het onder kruisondervraging daarop gewys dat die getuie bril dra en dat die uitkenningsparade weke na die voorval gehou is. “Die voorval het op 22 Februarie gebeur en die uitkenningsparade is op 13 April gehou.”

Hy het na ʼn foto van Packham op ʼn Maart-voorblad van ʼn plaaslike koerant gewys en gesê daar was baie mediadekking oor die saak en dit is moontlik dat Gray foto’s van die beskuldigde voor die uitkenningsparade gesien het. Gray het aan die hof gesê hy koop nie koerante nie, maar het toegegee dit is moontlik dat hy ʼn foto van die beskuldigde kon gesien het voordat hy hom in die uitkenningsparade uitgewys het.

Webster het aangevoer sy kliënt het in sy eie motor, ʼn wit Audi, rondgery en na sy vrou gesoek en was op pad huis toe teen die tyd wat Gray beweer hy hom in die BMW gesien het.

“Hy sou in sy eie voertuig in die omgewing gewees het, aangesien hy teruggekeer het van Kalkbaai en St. James.”

Vroeër die dag het Tarryn Steed, ʼn nommerplaat-herkenningsbeheerder, aan die hof gesê Gill se motor is as gemerk aangemeld en sy het WhatsApp-boodskappe en telefoonoproepe van bekommerde mense oor Gill ontvang. “Ons het die nommerplaat en fabrikaat en model van haar voertuig gehad. Ons het ook die Pink Ladies-pamflet gehad,” het Steed gesê.

Sy sê toe sy later daardie aand die tegnologie nagegaan het, nadat sy in kennis gestel is van ʼn brandende motor by Dieprivier-treinstasie, het sy gesien dat die veiligheidskameras ʼn BMW sonder nommerplate vasgevang het by Boundaryweg en Kendallweg.

“Die insittende het ʼn ligte of ligblou gholftrui aangehad. Dit was ʼn man. Hy was nogal groot gebou. Hy het ook ʼn bril op gehad.”

Steed sê sy het toe deur vorige rekords gegaan en ʼn foto van die voertuig gevind waar die nommerplate nog op was. “Ek het die twee foto’s met mekaar vergelyk. Een met en een sonder die nommerplate. Daar was ʼn plakker [op die voertuie]. Die verf op die kattebak was op albei voertuie verdof. Al die merke, die posisionering van die lisensiehouer, die buffers, alles het ooreengestem.”

Sy sê op die foto van die voertuig met die nommerplate het ʼn skraal vrou die motor bestuur. “Ek kon onmiddellik sien dit was ʼn ander bestuurder [as op die ander foto].”

Sy sê die persoon agter die stuur van die BMW sonder die nommerplate was opvallend groter gebou.

Vroeër vandeesweek het die Packham-egpaar se jongste dogter, Nicola, getuig oor haar ouers se onstuimige huwelik en haar pa se ontrou. Sy sê sy het al van haar pa se buite-egtelike verhoudings geweet jare voordat haar ma in Oktober 2017 daarvan uitgevind het.

Nicola het gesê haar ouers het onderneem om aan hul huwelik te werk, een keer per week huweliksberading te ondergaan en hul huweliksbeloftes te hernu. Die dag voor haar ma se verdwyning het haar pa egter tydens ʼn beradingsessie gesê hy het gevoelens vir sy minnares.

Volgens Nicola het haar pa tydens ʼn vorige beradingsessie gesê hy het nie gevoelens vir die minnares nie, maar die dag voor haar ma vermis geraak het, het hy erken hy het wel en haar ma “was baie ontsteld daaroor”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

marous ·

Omstandigheids getuienis is soms so dun soos spinnekop drade , maar as dit saamgevleg word is dit sterk genoeg om ‘n man te hang….

Anoniem ·

Ai tog vertel net die waarheid, spaar Jouself al die lang paaie ! Die regte storie sal deur die DNA vertel word ??

jaco ·

ek wil een ding weet: hy ry in sy vrou se motor na dieprivier stasie. daar steek hy haar motor aan die brand. hoe kom hy weg? loop terug Constantia toe? dis nogal ver te voet. dieprivier na 8 in die aand is ook nie juis veilig nie.

leser ·

robert, voor jy twak aanvang maak seker daars nie getuies, mede werkers kan ook nie vertrou word nie
misdaad is nie vir amateurs nie, jy moes jou geld beter spandeer het

LD ·

Hy kan maar net sowel erken dat dit hy was! Dis so duidelik soos dag lig!

Domvraag ·

Kyk na die afgelope moordsake. Almal het reeds besef die beskuldigdes is skuldig, behalwe hulle advokate wat hulle verdedig en net aanhou met die geliegery. Is dit n geval van solank daar nog n sent oor is in die pot, sal die pot steeds geskrop word totdat niks oor is nie?

Theresa ·

Mense wat dink geld kan alles vir hulle doen. Hou net op lieg. Jy slaan jou naam net met ‘n plank. Net soos Jason Rohde.

Heksie ·

Spyt is ‘n goeie ding maar hy kom altyd te laat … praat liefs net die waarheid en dat hierdie uitgerekte onnodige hofsaak tot ‘n einde kan kom want jy maak ‘n gek van jouself.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.