Packham hoor oor tweede poging vir borgtog

Rob en Gill Packham. Foto: Facebook

Rob Packham, die sakeman wat van die moord op sy vrou aangekla word, se tweede poging om op borgtog vrygelaat te word, het Woensdag in die Wes-Kaapse hooggeregshof misluk.

Packham het aansoek gedoen om verlof tot appèl teen ʼn vorige hofbeslissing om sy borgtog terug te trek, maar regter Elizabeth Baartman het die aansoek van die hand gewys. Volgens Baartman is daar geen grondige of rasionele redes om te glo dat Packham se appèlaansoek suksesvol sal wees nie.

Die 57-jarige sakeman staan tereg op aanklag van moord en dwarsboming van die gereg in verband met die dood van sy vrou, Gill Packham, in Februarie verlede jaar. Maroela Media het vroeër berig Gill is die oggend van 22 Februarie 2018 by haar huis weg op pad na Springfield Convent School waar sy gewerk het. Haar liggaam is later in die kattebak van ʼn uitgebrande BMW naby die Dieprivier-treinstasie gevind.

Die staat voer aan Robert het ʼn stomp voorwerp gebruik om Gill mee oor die kop te slaan en het toe haar BMW met haar liggaam daarin aan die brand gesteek om sy spore dood te vee.

Packham is op borgtog van R75 000 vrygelaat, maar Baartman het op 20 Desember sy borgtog teruggetrek nadat hy probeer het om met sy voormalige minnares kontak te maak deur ʼn gemeenskaplike vriend.

Hy het glo ʼn brief getik wat hy by die sekuriteitstoonbank van die kompleks waar die vriend woon afgegee het. Hy het na bewering ook in Oktober teksboodskappe na die vriend gestuur wat ʼn oortreding van sy borgtogvoorwaardes is.

Rob Packham verlaat die Wynberg-landdroshof tydens ʼn vorige hofverskyning. Foto: Tracey Adams/ANA

Ben Mathewson, Packham se regsverteenwoordiger, het egter aangevoer daar is geen bewyse dat dié SMS’e wel deur Packham gestuur is nie. Hy het ook aan die hof gesê hoewel hy nie erken Packham het die brief geskryf nie, was die brief se “toon en inhoud vredeliewend van aard”.

Baartman het egter dié argument verwerp en gesê Packham wil die oortreding van sy borgtogvoorwaardes as “’n nietigheid” afmaak sonder om te erken hy het dit wel oortree.

“As ʼn mens in ag neem dat die oortreding begaan is nadat ʼn hof voorheen bevind het die beskuldigde het reeds die oorspronklike borgtogvoorwaardes oortree, en die borgtogbedrag toe verhoog en die beskuldigde huisarres opgelê is, is die erns van hierdie jongste oortreding duidelik.”

Sy het gesê Packham se houding teenoor die hof maak nie sin nie en is ʼn aanduiding van sy houding teenoor die gereg. Baartman het ook gesê Mathewson ignoreer die feit dat die potensiële staatsgetuie gekla het dat hulle geteister word.

Packham word tans in die Pollsmoor-gevangenis aangehou. Sy verhoor sal op 11 Maart begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Arno ·

GEEN borgtog vir moordenaars. Rob Packham het reeds voorheen sy borg voorwaardes verbreek. Hy moet sit.

christa ·

man ek “like” regter Baartman. Ons kort meer van haar soort op die regtbank. Die moordenaar wat sy eie vrou vermoor en dan dink hy kan loskom. Iemand was slimmer as hy

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.