Packham hou voet by stuk oor onskuld

Rob Packham in die hof. (Foto: Courtney Africa/ANA)

Rob Packham (58), die sakeman van Constantia wat teregstaan vir die moord op sy vrou, het Woensdag gedurende sy derde dag in die getuiebank in die Kaapse hooggeregshof herhaaldelik die woorde “fiksie”, “fantasie”, “pure toeval” en “bespiegeling” gebruik.

Packham het gedurende sy getuienis voet by stuk gehou dat hy nié sy vrou vermoor het nie en het met tye duidelik geïrriteerd gelyk met die staatsaanklaer, Susan Galloway, se vrae aan hom.

Packham staan tereg op aanklagte van moord en dwarsboming van die gereg wat met die dood van sy vrou, Gill, in Februarie verlede jaar verband hou. Hy pleit onskuldig.

Gill het op 22 Februarie verlede jaar, die dag waarop sy as vermis aangegee is, nie soos gewoonlik omstreeks 07:30 by die werk aangekom nie. Haar liggaam is later in die kattebak van ʼn uitgebrande BMW naby die Dieprivier-treinstasie gekry.

Die staat voer aan Rob het haar met ʼn stomp voorwerp oor die kop geslaan en toe die BMW met haar liggaam daarin aan die brand gesteek, in ʼn poging om die polisie se ondersoek in die wiele te ry deur bewyse te vernietig. Twee getuies het Packham ook geïdentifiseer as die man wat in ʼn wit Audi van die moordtoneel af weggery het.

Een van die getuies, Thomas Keenan, het vroeër gesê sy vriend, die ander getuie, Lance Govender, het die aand van die moord omstreeks 20:00 by sy huis aangekom. Hulle het sowat ’n uur later ’n rumoer gehoor, maar Keenan was nie seker van die presiese tyd nie. Govender kon egter onthou dat dit omstreeks 21:30 moes wees aangesien hy op ʼn horlosie op die muur gekyk het, het hy aan die hof gesê.

Galloway het gesê Packham het sy suster se huis omstreeks 21:17 verlaat en dit sou nie onmoontlik wees om in daardie tyd na die Dieprivier-treinstasie te ry nie.

“Jy insinueer dat die voertuig toe reeds gebrand het, so ek moes binne vyf minute soontoe ry, wat onmoontlik is,” het Packham teruggekap.

Galloway het gesê selfs as Keenan ’n fout gemaak het om Packham as die bestuurder van die Audi te identifiseer, het hy steeds vir Packham geïdentifiseer as die persoon wat hy op die moordtoneel gesien het. Keenan het Packham tydens ʼn uitkenningsparade uitgewys.

Packham glo hy is in dié proses “benadeel” aangesien Keenan reeds foto’s van hom op sosiale media gesien het.

Galloway het gesê Keenan het nie net vir Packham uitgeken nie, maar ook gesien hoe hy in sy wit Audi van die toneel wegry en het drie syfers van Packham se registrasienommer gememoriseer.

“Dit is fantasie. Dit is ’n absolute toeval… Ek is seker my wit motor is nie die enigste een in Kaapstad nie,” het Packham hierop gesê.

Galloway het ook gesê die wielspore wat op die toneel gevind is, kan moontlik die van Packham se Audi-motorbande wees, soos op 23 Februarie deur die polisie afgeneem. Die motorbande was egter vervang toe die polisie die motor in Augustus deursoek het. Packham ontken dat hy die motorbande vervang het.

Galloway het ook verwys na bloedspatsels wat in die motorhuis en badkamer van die Packham-woning gekry is. DNS-ontleding daarvan het gewys dit was Gill se bloed in die badkamer, sowel as aan die deurhandvatsel aan die binnekant van Rob se motor. Rob se bloed is onder die wasbak in die badkamer en op ʼn handdoek of badmatjie gekry.

Packham het getuig op die Sondag voordat sy verdwyn het, het Gill sakke na die vullisstortingsterrein geneem, nadat sy hom ʼn hele ruk lank gevra het om dit te doen. Gill het sy motor gebruik en volgens Rob het sy haar hand gesny toe sy die sakke opgetel het. “Ek kan net voorstel dat dit daarvan was,” het hy voorheen getuig.

Hy kon egter nie vandag die bloeddruppels op ʼn deurkosyn wat na die huis lei, verduidelik nie. Volgens Packham kon Gill moontlik pleisters in die motorhuis gebruik het vir die snyplek en haar hand geskud het wat die bloed op die kompossak verduidelik.

Galloway het daarop geantwoord dat daar dus geen rede sou wees vir haar om in die huis in te gaan as die pleisters dan in die motorhuis was nie.

“Ek weet nie, wat as sy haar hand geskud het? Ek het geen idee nie,” het Packham gesê.

Packham het aan die hof gesê sy vrou kon sneesdoekies in sy motor gebruik het om die bloed af te vee en dit kan verduidelik hoekom haar bloed op die binnekant van die motor se deurhandvatsel gevind is.

“Ek bespiegel, nes jy,” het hy aan Galloway gesê.

Galloway het aan die hof gesê Packham het op die dag van Gill se dood sy liggaamshouding verander afhangende met wie hy gepraat het. Toe hy met sy suster en dogter gepraat het, het hy gehuil. Toe hy met ’n polisiebeampte by die Wynberg-polisiekantoor praat, het hy ontspanne voorgekom en was hy besig op sy foon.

Packham het gesê hy het nie só gevoel nie en was “uiters angstig”.

Galloway het ook die waarskynlikheid bevraagteken dat kapers Gill by ʼn vulstasie aangeval het waarna hulle haar in die kattebak ingeboender het en toe die motor aan die brand gesteek het. “Ek dink dit is een moontlikheid,” het Packham aan die hof gesê.

Galloway voer aan Packham het sy vrou die vorige aand twee keer met ’n stomp voorwerp geslaan. Hy het homself daarna in ʼn moeilike posisie bevind weens sy buite-egtelike verhouding en sy vrou se ongelukkigheid oor sy ontrouheid.

“Jy wou nie help om haar te soek nie, want jy het klaar geweet waar sy was. Jy het geweet waar haar motor was. Jy het in daardie motor naby jou huis rondgery en nadat Gray (’n getuie wat Packham die middag in die BMW sien ry het) jou gesien het, het jy die motor by die Dieprivier-treinstasie gelos en die deure gesluit,” het Galloway gesê.

“Jy het probeer om ’n plek te kry om van die bewyse ontslae te raak.”

Galloway het gesê hy het later die motor aan die brand gesteek om van bewyse ontslae te raak en gedink almal sou dink sy vrou het net een van die kapingstatistieke geword.

“Mnr. Packham, ek gaan aanvoer dat jy jou vrou vermoor het en dat jy die motor aan die brand gesteek het,” het Galloway bygevoeg. Packham het dit ontken.

Die verhoor is tot 24 April vir slotbetoë uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

? leser ·

se maar net, se maar dit, se maar so, se maar moontlik, se maar dis fiksie, toevalligheid, pure toeval, se maar dis waar dat jy jou vrou vermoor het
jys reeds uitgeken, vat jou pak slae en sien jou skelmpie in die gevangenis
geregtigheid gaan seevier, vandag kom jy dalk vry, maar eendag gaan jy in elk geval rekenskap moet gee
doen dit nou en vra vir vergifnis en jou lewe sal makliker wees

jaco ·

ek wil net een ding weet: Dieprivierstasie is nogal ver van Constantia af en nie in die veiligste deel van die Kaap nie. Indien hy haar motor by dié stasie gelos het, HOE het hy toe weer by sy huis in Constantia uitgekom? dis regtig BAIE ver te voet.

Tisha ·

Omtrent 1 km. Mens kan dit in ‘n uur stap.
Glad nie so ver nie.

ANNA ·

Absoluut,skokkend en tragies verby, soo jammer vir die arme,arme kinders!
AÍ TOG…die verbode vrugte van ontrou en affairs…wat áltyd op ñ tragedie uitloop, Sal die ou mensdom dan nooit leer, uit andere se foute nie…

Gustav ·

Ai tog ou seun. Wat op dees aarde het jou besiel om destyds te trou?
Omdat jy kinders wou hê?
Jy kon so n lekker sorgelose lewe gehad het. Hope speelgoed soos motorfietse en vliegtuie en nie n verantwoordelikheid van n dag oud nie.

Onnie ·

Hulle kan beslis vir hom ‘n medalje gee vir deursettingsvermoë! Lol! Want al wys alle vingers in sy rigting hou hy aan met lieg!?

Heksie ·

Hierdie klink soos ‘n moord uit een die episodes van Forensic Files …. Maar lieg, dié lieg hy!

anton ·

Tog snaaks dat mense wat kommentaar lewer sommer dadelik die staataanklaer/staat se weergawes glo!
Ek het persoonlik al gesien hoe baie van hulle onbevoeg is en nie hulle werk kan doen nie.
En dan om nie eens te praat van die SAPD wat mos eintelik die SAMD is nie.
Alles is nie altyd soos dit soms wil voorkom in die lewe nie.

Wie weet ·

Dit klink of hy lieg Maar lieg Hulle gaan hom onskuldig bevind nie genoeg bewyse teen hom nie

Lienkie P ·

As Constancia so ver van die stasie af is moes hy hulp gehad het…wie sou die helper gewees het. Maar tog word die bewering gemaak dat sy voertuig by die stasie was. Dink nie hy kon 2 voertuie op dieselfde tyd bestuur nie. Hoop die waarheid kom uit. Wonder hoekom mag liefie se naam nie genoem word. Wat sou die rede daarvoor wees..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.