Packham: Hy moor uit ‘woede en frustrasie’

Rob Packham tydens’n vroeëre hofverskyning> (Foto: Armand Hough/ANA)

Rob Packham het nie ʼn motief verklap vir die moord op sy vrou nie, maar dit lyk of hy Gill Packham uit “woede en frustrasie” doodgemaak het.

Dít volgens regter Elize Steyn wat Packham (58) Maandag 20 jaar tronkstraf vir die moord op Gill opgelê het. Sy het afgewyk van die minimum vonnis van 15 jaar vir moord.

Packham is ook tot vier jaar tronkstraf – waarvan twee jaar samelopend uitgedien sal word – vir regsverydeling gevonnis.

Packham was bykans 30 jaar lank met sy vrou getroud, maar die huwelik het gewankel weens Packham se ontrouheid voor Gill se verdwyning op 22 Februarie verlede jaar. Sy het dié oggend nie soos gewoonlik teen 07:30 by die werk aangekom nie en haar liggaam is later in die uitgebrande wrak van haar BMW naby die Dieprivierstasie gekry.

Steyn het Packham se weergawe van gebeure, dat Gill moontlik die slagoffer van ʼn kaping was, verwerp en bevind dat Rob Packham ʼn vernuftige leuenaar is. Sy het met die staat saamgestem dat sy optrede “onverstaanbaar” en ʼn aanduiding van skuld was.

Steyn het gesê Packham het met Gill se liggaam in die kattebak van die motor rondgery nadat hy haar in hul eie huis vermoor het. Hy het die registrasienommers verwyder en die voertuig aan die brand gesteek, “die laaste, moreel afstootlike daad”.

Hy het nie een keer gesê dat hy sy vrou mis of jammer voel vir sy kinders se verlies nie, maar het eerder ʼn afwysende houding in die hof geopenbaar en geen empatie gewys nie.

Die Packhams se oudste dogter, Kerry (28), het tydens getuienis ter strafversagting gesê haar pa is ʼn liefdevolle man wat nooit enige geweld teenoor sy gesin gepleeg het nie. Sy het haar ma beskryf as ʼn wonderlike, gul en prettige mens met ʼn groot hart. Haar dood het die familie erg getraumatiseer.

Steyn het gesê Gill se dood het ʼn gaping in die lewens van die mense na aan haar gelaat, maar dat “die beskuldigde klaarblyklik nie die trauma verstaan of omgee vir wat dit vir die familie veroorsaak het nie”.

Sy het Packham as “dislojaal en bedrieglik” beskryf, asook “selfbevredigend en skynheilig” en gesê daar is weinig gunstig omtrent Packham se geaardheid. Hy het geen berou getoon nie, het nie sy vrou formeel as vermis aangemeld nie, het berading van die hand gewys, wou nie met die ondersoekbeampte saamwerk nie en het deurlopend ʼn “selfgesentreerde, bedrieglike en lafhartige” houding gehandhaaf.

Packham het sy vrou, wat klein van gestalte was, twee keer oor die kop geslaan, die sterkste bene in haar skedel gebreek en haar in die “heiligheid van haar eie huis aangeval”. Die vlak van geweld was uitermate en het “ysingwekkende aggressie” gewys.

Al was sy platgeslaan deur Packham se ontrou, het Gill probeer om aan haar huwelik te werk, hoewel sy steeds verstaanbaar agterdogtig was. “In haar eie huis was sy sonder twyfel nie so op haar hoede nie.”

Steyn het die belangrike rol wat die howe moet speel om vrouemoord te bekamp beklemtoon en gesê in Suid-Afrika het dié soort voorvalle “epidemiese vlakke” bereik – dit is vyf keer hoër as die internasionale gemiddeld.

Steyn het ook verwys na die saak teen die voormalige eiendomsmagnaat Jason Rohde, wat skuldig bevind is aan die moord op sy vrou, Susan, asook regsverydeling. Hy het die moordtoneel probeer opstel om soos ʼn selfmoord te lyk.

Packham is in Februarie tot 20 jaar tronkstraf gevonnis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Lee ·

Ek is bly geregtigheid het geseëvier …hy verdien die straf…

Lindtjies ·

@ Ekke, jy het vergeet van Panyatou. Al drie die mans het beeldskone vrouens gehad wat hulle nie meer saam wou wees nie omdat daar ‘n ander vrou in die prentjie was. Hoop almal wat daaraan dink om ontslae te raak van hulle man of vrou leer ‘n les hier uit. Dit betaal maar net nie.

Niklaas ·

Dit is hopelik n les vir manne wat minnaresse het en nie net sy vrou wil skei maar eerder vermoor , soos Packham , Rhode , Panayoutou ens. Elk se lewe is soos sy oorlede vrou s’n verwoes en beeïndig. Was dit nou die moeite werd ? Neewat. Net jammer die hotel-tronke dien nie meer as afskrikmiddel vir enigeen nie. Dan is die galgdoodstraf ook afgeskaf en dit het mense ook altyd 2 keer laat dink.

Maggies ·

Dit sal dalk goed wees indien Maroela se span onderhoude voer met die derde partye in hierdie verhoudings.
Waarom word hierdie vrou (X) beskerm. Het sy en al die ander soos sy ooit gedink aan die skade wat hulle veroorsaak het deur hulle losse sedes? Hulle is na my persoonlike mening ook skuldig aan die moorde.
Ek kon dikwels ook die derde party word/wees… as ek wou… maar danksy my eerlike karakter kon ek nog altyd weier.

Wenz ·

Hoe is jy soveel jare getroud met iemand…. 30 jaar is n leeftyd en dan maak jy daai persoon net dood. Hoe vat n mens iemand anders se lewe net so.

Gemors ·

Die gesegde lui……trek sterker as 100 perde.
Hulle het nie met hulle koppe gedink nie.
Die gras het groener aan die anderkant gelyk.
Kla die groener gras ook aan. Hulle was deel van dit.

Jeanne ·

Jy is so reg! Waarvoor neuk hulle met getroude mans rond…. kla hulle saam aan!

PJC ·

Mans wat hul vrouens vermoor behoort almal lewenslank te kry. Ons is veronderstel om die beskermers van ons gesinne te wees.

Heksie ·

en dan wil almal altyd weet hoekom ek na 20 jaar se geskeide lewe, steeds single is …

madels ·

Hy kry wat hy verdien!!. Ek hoop regtig dat eendag sal daar n wet wees wat ook die ander party wat hulself gulsig vergryp het aan n getroude man of vrou OOK ernstig gestraf sal word. Want dis darem te maklik dat die man of vrou gestraf word maar die skelmpie kom skotvry daarvan af :-( , net om dalk n ander huwelik OOK op te breek!

Nee ·

Ek dink ook dat die vrouens as medepligtige aangekla moet word…. En moet nie vir my sê dat ‘n man sy huwelik so goed kan wegsteek dat sy “stukkie” nie daarvan weet nie. Daai vrou het seker druk op hom geplaas om sy vrou te los vir haar….

Jeanette Visser ·

It takes 2 to Tango, maar sies as jy sien waar het ons lewe heen gegaan, losse sedes ens satan is baie doenig op hierdie aarde maar eendag sal hy vir hom vasloop!

Shanti ·

Dit wil voorkom asof mense dink hulle kan deesdae maklik met moord wegkom. Dalk omdat hulle dink dat die SAPS nie bevoeg genoeg is met hulle ondersoeke nie???

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.