Packham-moord: ‘Reg het geskied vir ons suster’

Gill Packham

Gill Packham se susters voel reg het geskied nadat haar man, Rob, Maandag in die Wes-Kaapse hooggeregshof aan haar moord skuldig bevind is.

“Die feit dat reg geskied het, vat egter nie die feit weg dat meisies hul ma verloor en ons ons pragtige suster verloor het nie,” het Helen en Sue Humphrey, Gill se susters, gesê.

Regter Elize Steyn het bevind Packham het Gill in Februarie verlede jaar vermoor deur haar met ʼn stomp voorwerp oor die kop te slaan en dat hy later haar liggaam in die kattebak van haar motor gelaai en dit by die Dieprivier-treinstasie aan die brand gaan steek het.

“Vir die afgelope 15 maande moes ons die brutale moord op ons suster Gillian hanteer en die daaropvolgende onthullings van die tragiese en pynlike omstandighede waaraan sy in die jare en maande onderwerp was voor Rob haar vermoor het.”

Volgens die susters het hulle in die laaste paar maande bewus geword van sommige van die inligting oor Gill se dood maar het die “sameswering van stilte oor Gill” beteken dat hulle eers tydens die verhoor bewus geraak het van die volle omvang van wat in die Packham-familie plaasgevind het.

Rob en Gill Packham. Foto: Facebook

Steyn het gister in haar uitspraak Packham se weergawe van die gebeure verwerp en gesê sy gedrag na sy vrou vermis geraak en later dood gevind is, was nie die tipiese gedrag van ʼn ontstelde man wie se vrou vermis was en dood gevind is nie.

Steyn het ook gesê Packham het snedige antwoorde gegee en sarkastiese reaksies gehad op vrae wat aan hom in die hof gestel is. Steyn het bevind die staatsgetuies se getuienis was eerlik, konsekwent en geloofwaardig. Packham se reaksie op hul getuienis was volgens Steyn onpersoonlik en onredelik en is daarom verwerp.

Packham (58) het tydens sy verhoor deurgaans volgehou hy is onskuldig. Hy het gedurende die verhoor gesê dit is moontlik dat sy vrou gekaap en vermoor is. Die staat het egter die bewering verwerp en gesê Packham het sy vrou die vorige aand twee keer met ’n stomp voorwerp geslaan. Hy het homself daarna in ʼn moeilike posisie bevind weens sy buite-egtelike verhouding en sy vrou se ongelukkigheid oor sy ontrouheid.

Die egpaar het huweliksprobleme gehad en berading ontvang, nadat Packham oor sy buite-egtelike verhouding gebieg het.

Packham sal vandag weer in die hof verskyn wanneer daar na verwagting met vonnisverrigtinge begin sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Hanlie Wiese ·

Dit is tragies hoe een mens verantwoordelik kan wees vir die dood van ‘n gesinslid en dat baie ander se lewens in duisend stukkies versplinter – lewenslank. Dis net so tragies hoe die kinders gebruik word om ‘n rol te speel in die netwerk van leuens en selfsug – onskuldige pionne in ‘n skaakspel.

toy ·

Wat ‘n ondankbare mens, hy wou sy brood aan albei kante gebotter gehad het. Hoekom nie die menslike ding gedoen het nie en liewers geskei het as om haar te vermoor.

Jacoba ·

Toy alles gaan oor Mammon. Hy was nie bereid om sy afgod te deel nie. Ek voel die diep seer van die familie en veral die kinders wat met die wete moet saamleef dat hul een ouer hulle ander ouer vermoor het. Dit is hart verskeurend. Nie net het hulle hul mamma verloor nie maar ook nou hul Pappa en al die oordeel en veroordeel om sosiale media en media .

Blommie ·

Ek voel dat sy skelmpie of wat ookal die genoem wword net so skuldig is soos hy.
Want was dit nie vir haar gewiligheid nie. Het hy nie egbreek gepleeg en sy vrou deur dit vermoor nie.
HOEKOM kan iemand nie it n ander se huwelik bly nie.

Robert ·

Blommie: sy skelmpie het vir hom gesê hy moet eers van sy vrou skei dan kan hulle verhouding aangaan. Sy vrou het egter vir hom gesê dat skei nie die oplossing is nie sy gaan nie skei nie. Toe besef hy die enigste manier is om haar te verwyder.

Niklaas ·

Dis alweer die tragiese einde van n hoofstuk waar die man nie deur n duur egskeiding wil gaan om dan te trou met sy minnares nie. Nee , soos Rhode en Panayoutou en soveel ander ,wil hul die soms onwetende onskuldige eggenote laat sterf. Geen simpatie met hierdie ouens nie. Hoop hierdie kry die nodige geregtigheid wat hy verdien !

Jepetto ·

Hanlie Toy julle stel dit so mooi ek het nie woorde gehaad nie my hart gaan iut na die famielie sterk te Bring asb die dood straf terug

marous ·

Die lewe het al baie verander , maar die mens is steeds so ongenaakbaar soos kan kom . Dit sien ons elke dag . Hoe kan iemand met bloed aan die hande kyk hoe ‘n slagoffer sterf , en dan gevoelloos aangaan en ander in die oee kyk elke dag sonder om te blik of te bloos . Wat ‘n jammerlike spesie is die mens nie !

Spook op thaba ·

En nou word die skelmpie beskerm.
Naam mag nie genoem word. Sy is
na my mening net so skuldig. Sy het
goed geweet sy heel met n getroude man. Hoop sy het iets soos n gewete

Sam ·

Ek voel die skelmpie/s moet deel dra aan die skuld. Kyk na Christopher Panayiotou se saak ook. Die probleem begin by die buite egtelike verhouding en vorder so vorentoe en in gevalle soos die eindig in moord. Hoekom word skelmpies beskerm as hul tog deel het. Die deler is net so goed soos die steler.

Bly geregtigheid kon geskied alhoewel dit nooit die seer gaan verbeter nie. RIV en sterkte aan almal wat hierdeur geraak word (Behalwe die moordenaar en sy skelmpie).

Wonder ·

Ek wonder maar net, meskien het ek dit gemis. Wie het sy voertuig vir hom Dieprivier toe geneem?

Saartjie ·

Goeie vraag, Wonder, ek het ook al daaroor getob. Dis nie asof Constantia loopafstand van Dieprivierstasie is nie. (Alhoewel, as jy van die suidelike voorstede is, weet jy seker seker dat ‘Constantia’ deesdae sommer by die hoek op Kendal Rd en Main Rd begin – dis nou as jy na eiendomsagente luister.

Maar veronderstel hy woon in properse Constantia – watter opsies het hy gehad om by die huis te kom? Gewone taxi, Uber of minibustaxi? Of hy het iemand gevra om hom te kom oplaai, en dan moet daardie persoon mos ‘n getuie wees?

Lindtjies ·

Daar was ‘n hele paar hoë profiel sake die afgelope paar jaar. Dit was Johan du Toit van Franschhoek, Chris Pannyatou, Jason Rode en nou Packham. Die ooreenkoms was dat al die mans betrokke in buite egtelike vehoudings was en in al die gevalle was dit beeldskone vrouens wat vermoor is. En almal was in een of ander Kaapse dorp. Shrien Dewani het ook hier in Suid- Afrika van sy vrou ontslae kom raak. Uiters tragies.

Heksie ·

Sy skelmpie het hy seker net so lieg en bedrieg, maar hoe sy so blind kon wees vir sy leuens, gaan my verstand te bowe!
En as hy nie meer sy vrou wou hê nie, hoekom het hy nie die eerbare ding gedoen en haar geskei nie, maar dan sou sy sou seker op die helfte van sy rykdom geregtig wees en dit wou hy nie toelaat nie, makliker om haar eerder uit die weg te ruim.
Nou is 2 kinders sonder ‘n mamma en hul pa slyt sy tyd in die tronk …

Nita ·

Dis tyd dat vrouens wat getroude mans afvry weer aangekla en gestraf kan word. As jy nie meer jou eggenoot wil hê nie, skei eers en begin dan rondkyk vir n nuwe lewensmaat. Dis die eerbare manier.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.