Packham se vonnisoplegging uitgestel

Rob Packham is in die hooggeregshof in Kaapstad skuldig bevind aan die moord op sy vrou, Gill. (Foto: Armand Hough/ANA)

Vonnisverrigtinge in die saak van die veroordeelde moordenaar Rob Packham is Dinsdagoggend in die hooggeregshof in Kaapstad uitgestel sodat hy met sy regspan kan beraadslag.

Packham, ʼn sakeman van Constantia, is gister skuldig bevind aan die moord op sy vrou, Gill, asook aan regsverydeling.

Regter Elize Steyn het Packham beskryf as ʼn geoefende leuenaar wat ʼn dubbele lewe gelei het en wie se weergawe van gebeure duidelik opgemaak is. Sy het hom daarna skuldig bevind.

Weens sy ontrou het Packham en sy vrou huweliksprobleme gehad. Gill Packham het op 22 Februarie verlede jaar verdwyn. Sy het nie soos gewoonlik die oggend omstreeks 07:30 by die werk opgedaag nie en haar liggaam is later in die kattebak van haar uitgebrande BMW naby die Dieprivierstasie gekry.

Steyn het Packham se weergawe van die gebeure – dat Gill dalk die slagoffer van ʼn kaping was – verwerp. Sy het bevind Packham is ʼn vernuftige leuenaar en het saam met die staat gestem dat sy optrede onbegryplik is.

Packham het tydens die verhoor getuig hy het sy vrou se verdwyning by die Wynberg-polisie probeer aanmeld, maar dat hy aangesê is om na die Dieprivier-polisie te gaan.

“Hoewel die Wynbergse polisiebeampte gesê het jy moet na die Dieprivier-polisie gaan om vorms te onderteken en ʼn verwysingsnommer vir ʼn vermiste persoon-saak te kry, het jy nooit gegaan nie,” het senior staatsaanklaer Susan Galloway tydens kruisondervraging aan Packham gesê.

Packham het haar gelyk gegee. “Ek het nooit nie. Ek het bedoel om dit op pad na my suster te doen, maar ek het vergeet.”

Hy het gesê hy het ook nie die ondersoekbeampte oor vordering in die saak gevra nie, omdat “ons hom elke dag of twee gesien het”.

Packham het tydens kruisondervraging gesê hy het omstreeks 08:30 op die oggend van sy vrou se verdwyning aan sy gewese minnares ʼn boodskap gestuur dat hy verslaap het. Galloway het gesê volgens sy weergawe van gebeure was hy op daardie tyd besig om na ʼn motorhandelaar te ry om ʼn nuwe motor vir sy vrou te vind.

“Ek was in die gewoonte om vir haar [Packham se gewese minnares] aan die begin van die dag ʼn boodskap te stuur,” het Packham aan die hof gesê. Daardie oggend het hy dit nie gedoen nie en eers teen 08:30 die boodskap gestuur.

Galloway het uitgewys dat Packham in sy verklaring nie gesê het dat hy na die motorhandelaar toe gaan nie, maar “die indruk probeer wek het” dat hy by die Twizza-koeldrankaanleg gaan werk het.

Packham het gesê hy kan nie verduidelik waarom sy besoek aan die motorhandelaar nie in sy verklaring was nie, maar het toegegee dat hy dit wel gelees en onderteken het.

Twee dae ná sy vrou se verdwyning het hy glo aan sy voormalige minnares, Getuie X (sy mag ingevolge ʼn hofbevel nie geïdentifiseer word nie), ʼn e-pos gestuur dat die dolheid binnekort agter die rug gaan wees en dat hulle dan saam kan wees.

Packham het aan die hof gesê dat hy nie kan onthou dat hy die boodskap gestuur het nie, maar dat hy dit nie betwis nie.

Gister het Steyn gesê Packham het sy gesin en sy vrou mislei oor die beëindiging van sy verhouding met sy minnares en dat sy weergawe oneerlik en onbetroubaar is. Daar was voorts verskeie voorvalle waar hy gelieg het, of sy weergawe verander het.

“Die beskuldigde het nie opgetree soos ʼn bekommerde en later treurende eggenoot nie.”

Vonnisverrigtinge begin Woensdag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Erica ·

Getuie X verdien presies dieselfde vonnisoplegging as hy…omdat die deler, netso goed soos die steler is!!
En HAAR identieit word beskerm, wat n grap

Cherokee ·

Bietjie erg Erica. Sy het haarself skuldig gemaak aan cheat met ‘n getroude man maar nie deel gehad in sy booshede nie. Elize Steyn beskryf Packham as ‘n geoefende leuenaar maar dit blyk dat hy homself vasgelieg het.

Derek ·

Ek is geneig om saam met Erica te stem.
Hy sou waarskynlik nie sy vrou vermoor het,as daar nie n getuie X sou wees, wat hom gedryf het

Nic ·

Hy sou net `n ander getuie X gesoek het. As `n man wil rondloop sal jy rondloop.

humor ·

Vir my is dit net onbegryplik dat mense willens en wetens algaande in so n strik verstrengel kan raak en n ie betyds besef maar hulle is besig om hul en hul diebares se lewe te vernietig nie . Dit moet net wees sulke mense verstaan niks van n geloofsverhouding met hul SKEPPER, VERLOSSER nie,

Heksie ·

En almal wil altyd weet hoekom ek na 20 jaar van geskeide lewe, steeds single is …

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.