Packham wou nie selfoon se wagwoord aan polisie verskaf

Rob Packham in die hof. (Foto: Courtney Africa/ANA)

Rob Packham, die sakeman van Constantia wat tereg staan vir die moord op sy vrou, het Dinsdagoggend aan die hooggeregshof in Kaapstad gesê hy was destyds nie bereid om sy werkselfoon se wagwoord aan die polisie te verskaf nie, aangesien “hy nie gelukkig was met die al die inligting wat daar buite is nie”.

Packham staan tereg op aanklagte van moord en dwarsboming van die gereg in verband met die dood van sy vrou, Gill, in Februarie verlede jaar. Hy pleit onskuldig.

Gill het op 22 Februarie verlede jaar, die dag waarop sy as vermis aangegee is, nie soos gewoonlik omstreeks 07:30 by die werk aangekom nie. Haar liggaam is later in die kattebak van ʼn uitgebrande BMW naby die Dieprivier-treinstasie gekry.

Die staat voer aan Rob het haar met ʼn stomp voorwerp oor die kop geslaan en toe die BMW met haar liggaam daarin aan die brand gesteek, in ʼn poging om die polisie se ondersoek in die wiele te ry deur bewyse te vernietig.

Susan Galloway, ʼn senior staatsaanklaer, het vanoggend in die hof gesê sers. Ivan Sonnenberg, die ondersoekbeampte in die saak, het vroeër getuig Packham het aan hom gesê dat hy kwansuis nie die wagwoord van die selfoon kan onthou nie. “Waar sou Sonnenberg daaraan kom dat jy jou wagwoord vergeet het?” het Galloway gevra.

“Ek weet nie. Ek kan nie onthou nie,” het Packham geantwoord.

Packham was gedurende die tweede dag van kruisondervraging duidelik geïrriteerd met Galloway se vrae en het daarop aangedring dat sy optrede op die dag van Gill se dood verkeerd geïnterpreteer word.

Volgens die staat het Packham sy spore probeer doodvee deur ʼn kollega te vra om sy alibi vir daardie dag te wees.

Packham hou egter vol dat ʼn oproep aan sy voormalige kollega by die Twizza-koeldrankfabriek verkeerd opgevat word. Lodewyk van Rensburg het vroeër getuig dat Packham hom op 22 Februarie gebel en gesê het dat hy die vorige dag met sy vrou en dogter baklei het. Packham het Van Rensburg gedurende die oproep gevra om vir enige iemand wat vra te sê dat hy op dié dag vanaf 08:30 in ʼn vergadering by die fabriek was.

Packham het vanoggend verduidelik dat hy bloot Van Rensburg gevra het om vir sy vrou te jok indien sy sou bel of hom by die fabriek sou gaan soek het.

Die egpaar het huweliksprobleme gehad en berading ontvang nadat Packham oor sy ontrouheid gebieg het. Packham het die dag voor Gill se verdwyning gedurende berading aan haar erken dat hy nog gevoelens vir sy voormalige minnares gehad het.

Volgens Galloway het Packham verskeie dae ná sy vrou se moord vir Lodewyk ʼn boodskap gestuur om hom aan hul vorige gesprek te herinner.

“Ek het op sosiale media gesien dit word gesê dat ek ’n kollega gevra het om ’n alibi te verskaf. Ek het hom daaraan herinner,” het Packham teruggekap. Hy het gesê hy was bekommerd oor “sensasie” wat in die media geskep is.

“Jy was dus meer bekommerd oor die media as oor hoe jou optrede geïnterpreteer is?” het Galloway in reaksie gevra.

Packham het dit beskryf as ’n “eenvoudige versoek” wat in die media verdraai is.

Galloway voer egter aan dat Packham wou hê Van Rensburg moet die leuen handhaaf en daarom het Packham hom daaraan herinner. “Dit is baie inkriminerend.”

Galloway het daarna die hof se aandag op Packham se ander selfoon gevestig, ’n private selfoon wat hy gebruik het om met sy voormalige minnares in verbinding te kom.

Hy het gesê dat hy die oggend van sy vrou se verdwyning omstreeks 08:30 ’n boodskap aan sy voormalige minnares gestuur het om te sê dat hy verslaap het. Galloway het egter daarop gewys dat Packham volgens sy weergawe destyds teen dié tyd reeds op pad was na motorhandelaars om ’n nuwe motor vir sy vrou te gaan soek.

“Ek was in die gewoonte om elke oggend vir haar ’n boodskap te stuur,” het Packham aan die hof gesê. Volgens Packham het hy egter nie daardie oggend nie en het toe vinnig dié boodskap gestuur.

Galloway het daarop gewys dat hy nie in sy verklaring gesê het dat hy op pad was na motorhandelaars toe nie, maar eerder gesê het dat hy werk toe gegaan het om die indruk te skep dat hy by die werk was.

Packham kon nie verduidelik waarom sy besoek aan die motorhandelaars nie in die verklaring genoem is nie, maar het toegegee dat hy die verklaring gelees en onderteken het.

Hy het na bewering twee dae ná Gill se dood ʼn boodskap aan getuie X (Packham se gewese minnares wat nie geïdentifiseer mag word nie) gestuur om te sê dat “die malligheid” amper verby is en dat hulle dan uiteindelik bymekaar kon wees. Packham het aan die hof gesê hy kan nie onthou dat hy dié boodskap gestuur het nie, maar het dit nie betwis nie.

Packham se voertuig het ook tydens vanoggend se hofverrigtinge onder bespreking gekom toe Galloway oor sy motor se buitebande uitgevra het.

Sy motor is op 23 Februarie en toe weer in Augustus verlede jaar afgeneem. Toe die polisie in Augustus op dié motor beslag gelê het, was die buitebande na bewering vervang. Volgens ’n deskundige stem die bandspore op die misdaadtoneel nié met die nuwe buitebande ooreen nie. Die deskundige het later wel bevind dat foto’s van die bandspore op die toneel tog dieselfde kan wees as dié wat op 23 Februarie afgeneem is.

Packham het gesê hy het nie geweet of die buitebande, wat in Augustus afgeneem is, syne is nie en het volgehou dat hy nie die buitebande vervang het nie.

Die verhoor duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Genieve ·

Packham Susan gaan jou grine mnr dit kan ek jou se hier kom jy nie verby nie.

marous ·

Stukkies so dun soos spinnekop drade . Vleg dit inmekaar en jy kan ‘n tou maak wat sterk genoeg is om ‘n man te hang . JC Nel se gunsteling verwysing in uitsprake met omstandigheids getuienis .

Spook van thaba ·

Hoekom word die minares beskerm.Hoekom word haar naam nie genoem. Sy het mos geweet dit is n getroude man

Lindtjies ·

Hierdie man se arrogansie ken geen perke nie. Maar al loop ‘n leuen hoe snel die waarheid agterhaal hom wel. Almal van hulle pleit onskuldig. Chris Panyatou, Jason Rhode, die man van Stellenbosch wat kamtig vroeg oggend gaan jag het. En die ooreenkoms is almal het buite egtelike verhoudings gehad. Hulle wou nie van hulle vrouens skei nie want dan moes hulle, hulle rykdom met haar deel. Mens bou nie jou geluk op iemand anders se ongeluk nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.