Pad oop ná N1-ongeluk

(Foto: Verskaf)

Al vier bane van die N1-Suid tussen die N4 en die Lynnwood-afrit in Pretoria is vir verkeer oopgestel ná ’n ongeluk vroegoggend tussen twee vragmotors.

Volgens Charles Mabaso, woordvoerder van die Tshwane-nooddienste, is al vier bane teen omstreeks 16:00 oopgestel en verkeer vloei weer. Dit volg nadat skoonmaakwerk omtrent die hele dag geduur het. Chemikalieë het weens die ongeluk op die padoppervlak gestort.

Maroela Media het vroeër berig ’n vragmotor het omstreeks 01:00 van agter teen ’n ander vragmotor vasgery, waarna albei voertuie aan die brand geslaan het. Die een vragmotor was heeltemal in vlamme gehul, terwyl die ander een se vragwa aan die brand was.

Nooddienswerkers het die vlamme geblus en een pasiënt is op die toneel vir geringe beserings behandel en na die Steve Biko-hospitaal geneem.

Sanral het ’n maatskappy gekontrakteer om die chemikalieë te verwyder en die padoppervlak skoon te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.