Padongelukke eis tweede meeste kinders in Kaapstad

(Foto: Hansie Linde)

Padongelukke is die tweede grootste oorsaak van sterftes onder kinders in Kaapstad, het ’n onlangse studie bevind.

Die studie is deur Zulfah Albertyn-Blanchard, ʼn doktorale student aan die Universiteit van Kaapstad, onderneem en fokus op beseringsverwante sterftes onder kinders in die Moederstad tussen 2011 en 2015.

Dié sterftes word grootliks beïnvloed deur sosio-ekonomiese omstandighede en strukturele tekortkominge in gemeenskappe, wat moontlik verminder kan word indien data oor beseringsverwante kindersterftes beter ontleed word.

Volgens die studie, “The spatial distribution of injury burden of children in the western geographic service area, City of Cape Town (2011-2015)”, was 51% van gevalle waar ʼn besering tot ʼn kind se dood gelei het, onbedoeld.

In die Klipfontein-distrik, spesifiek in Nyanga, is moord die mees algemene oorsaak van beseringsverwante sterftes – hoofsaaklik onder tienerseuns.

In dié distrik is ouer seuns tussen 15 en 17 hoofsaaklik dood weens beserings wat met ʼn skerp voorwerp veroorsaak is.

Nyanga loop verder ook die grootste risiko vir beseringsverwante sterftes onder kinders, veral omdat dit ʼn digbevolkte informele nedersetting is.

Volgens Albertyn-Blanchard kan dié bevinding gedeeltelik toegeskryf word aan ernstige tekortkominge wat met armoede en strukturele ongelykhede verband hou, insluitend ʼn tekort aan infrastruktuur en hulpbronne wat geweld verhoog en veiligheid in gemeenskappe belemmer.

Sy het juis in haar studie nie net na demografiese faktore soos ouderdom en geslag gekyk nie, maar ook na ekonomiese faktore soos tekortkominge en die aantal verkeersbane waarop padvoertuie moet ry.

Data van die Soutrivier-staatslykshuis in Klipfontein, Mitchells Plain en die suidelike en westelike voorstede is gebruik om ʼn beseringsprofiel van kinders saam te stel en te ontleed.

Padongelukke waarin ʼn kind of kinders dood is, is meer algemeen onder kinders tussen vyf en nege. Dieselfde bevinding geld vir nie-noodlottige ongelukke.

“Seuns is meer geneig om by noodlottige en nie-noodlottige voetgangerongelukke op die pad betrokke te wees, eerder as meisies.

“Kinders wat ná ’n nie-noodlottige ongeluk in die hospitaal opgeneem is, is meestal onder kinders tussen vyf en nege aangemeld. Dié ongelukke vind hoofsaaklik in die middae of saans oor naweke plaas.”

Albertyn-Blanchard sê voorts sy het gevind dat kinders van ’n sekere ouderdom meer kwesbaar is as ander, veral seuns wat in lae sosio-ekonomiese gebiede woon.

Sy meen daar is dus ʼn dringende behoefte dat beserings onder kinders gemonitor moet word en deel vorm van roetinegesondheidsinligtingstelsels.

Albertyn-Blanchard sê ook om kinderbeserings te voorkom, moet maatreëls ooreenstemmend met die kind se ontwikkelingstadium ontwerp word. Dit moet ook in samewerking met ander sektore soos gesondheid, stedelike beplanning, vervoer en onderwys geskied.

“Kinders het veilige ruimtes nodig wat hulle beskerm waar hulle speel, van die huis af skool toe en terugstap, asook in die huis self.”

Prof. Shanaaz Mathews, ’n kenner in kinderregte en Albertyn-Blanchard se studieleier, sê die studie onderstreep die belangrikheid daarvan om data oor beseringsverwante kindersterftes te ontleed sodat voorsorgmaatreëls ingestel kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.