Padongelukkefonds by OB verkla

Padongelukkefonds

Padongelukkefonds

Die National Union of Metalworkers of South Africa (Numsa) het ʼn klag by die openbare beskermer ingedien teen die Padongelukkefonds (POF).

Numsa wil hê die openbare beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane, moet die omvang van skuld by die POF ondersoek en hoe die skuld sy vermoë, om sy kernmandaat te vervul, beïnvloed. Die POF se kernmandaat is die betaling van vergoeding aan slagoffers van padongelukke.

Irvin Jim, algemene sekretaris van Numsa, het Dinsdag in ʼn verklaring gesê POF is in ʼn permanente krisis en het ʼn skuldlas groter as R8 miljard.

Die balju van die hof het vroeër vanjaar beslag gelê op ʼn POF-bankrekening, weens die skuldlas van R8,2 miljard, en dit het betalings ter waarde van meer as R550 miljoen verhinder. Die beslaglegging is later opgehef en betalings het hervat aan eisers, diensverskaffers, aandelehouers en versorgers.

Daar is ook berig dat die POF maandeliks meer as 1 000 lasbriewe van die balju ontvang, en dat meer as 3 000 lasbriewe nog betaal moet word. Dit is glo ook algemeen dat daar beslag gelê word op bates van die POF, dit verwyder en verkoop word.

Jim het gesê die bestuur van POF versuim om sy verskaffers betyds te betaal en het bygevoeg die fonds het nie ʼn stelsel om regsfooie betyds te betaal nie, wat daartoe lei dat daar beslag gelê moet word op eiendom. “Dit beteken ook dat personeellede vir lang tye nie stoele het om op te sit of rekenaars het om op te werk nie. Dit het ʼn groot impak op die slagoffers, wat hoofsaaklik arm is en van die werkersklas is,” het Jim bygevoeg. “Slagoffers ly selfs nog meer en dis ʼn mors van die belastingbetalersgeld.”

Jim het gesê dit is ook ʼn risiko vir die privaatheid en vertroulikheid van miljoene burgers elke keer wanneer daar beslag gelê word op die POF se rekenaars en dit verwyder word – en dit is moontlik ʼn oortreding van die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting.

Hy het gesê Numsa het ʼn skrywe aan Mkhwebane gerig om, onder andere, ondersoek in te stel of die POF die wet oortree het en watter stappe gedoen word om die private inligting te beskerm wanneer die rekenaars verwyder word.

Numsa-lede wat by die POF werk, het Donderdag landswyd begin staak. Hulle eis salarisverhogings en wil hê dit moet teruggedateer word tot 2015. Numsa-lede het Vrydag die strate ingevaar met hul griewe. Hulle het hul eise aan die departement van vervoer in Pretoria oorhandig. Jim het gesê die POF het egter geen teken getoon dat hy belangstel om te onderhandel nie en het nog geen formele versoek ingedien om met die werkers in gesprek te tree nie.

Eugene Watson, uitvoerende hoof van die POF, het verlede week gesê Numsa se redes vir die staking is onredelik en sonder enige meriete.

Thandeka Ngwenya, woordvoerder vir die POF, het gesê Numsa het nie enige onderhandelingsregte by die fonds nie, aangesien hy minder as 1 000 lede het met werknemers wat gemiddeld R350 000 verdien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Johanna Botha ·

Nie eers stoele om op te sit nie ….klink vir my na net NOG n gemors …is daar enige iets wat nog reg werk ?

Francis Linstrom ·

Haal al die onwettige motor(drywers)bestuurders, onpadwaardige voertuie, spoedvrate van die pad af, maak ons paaie reg, toets elke taxidrywer elke jaar vir bestuurderlisensie en konfiskeer veral taxis vir verkeersoortredings. Dit is lgnmde wat pof bankrot maak want by omtrent elke ongeluk is daar n taxi betrokke wat uit die aard van die saak dan sommer n paar beserings of dood tot gevolg het. Dan sal daar minder ongelukke wees.

zoom zoom ·

Dit wil vir my voorkom of die POF se gelde gebruik word om sekere mense se beursies aan te vul.

Human-raaits ·

Veels geluk aan almal met die van “Human” vir die dag genaamd “human-raaits” aan julle opgedra. Hoop julle het dit geniet . . .

Johann ·

Al vergeet van díe bron vir al die ZUMAIKIE handpoppe wat die staatskaste leeg steel. Ongelooflik hoe n land se stelsels en sisteme deur een “mens” se dom astrante selfwaan en magsbeheptheid verwoes kan word!

Adam Boshoff ·

En die wat werklik seergekry het word sumier afgeskiet Sit vandag nog met n knie wat beseer is tydens n kaping

christine ·

Francis Lintsrom jy is so reg in jou opsomming. Behalwe om te se dit begin al by die toetstereine daai verkeers beamtes is stinkryk soos hulle sakke gevul word. Elke 2de skropvrou ry al met n 4×4 rond. Eks banger vir die verkeer as vir misdaad in die land.

Christa ·

Hulle ontvang ‘n salaris van R350 000 per jaar en hulle staak? EK sal hulle werk gaan doen vir R350 000!!?

SARIE VAN HEERDEN ·

Daar kan niks bygevoeg word by die kommentaar van Francis Linstrom nie. Dis ons enigste oplossing.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.