Padongelukkefonds gekap oor “seksistiese” kriteria

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Regter van die hooggeregshof het die Padongelukkefonds (POF) gekritiseer oor die kriteria wat gebruik word om vergoeding vir weduwees te bepaal, het die Saturday Star berig.

“Dalk het die tyd gekom om hierdie ooglopend seksistiese, onsensitiewe en ongegronde kriteria oor boord te gooi,” het waarnemende regter JL Manamela in die hooggeregshof in Pretoria gesê.

Manamela het uitspraak gelewer in die saak van ʼn 37-jarige weduwee wat vergoeding eis van die POF nadat haar man in 2011 in ʼn motorfietsongeluk dood is. Robin Robinson (33) was ten tyde van sy dood die enigste broodwinner vir sy gesin. Die egpaar het een kind.

Die hof het getuienis gehoor van kenners wat bepaal het hoeveel mev. Robinson finansieel verloor het na haar man se dood. Die kriteria wat gebruik is om dit te bepaal, was onder meer haar kans om weer te trou sowel as haar ouderdom.

Robinson se regsverteenwoordigers het aangevoer dié kriteria is ongrondwetlik en die regter het dit in sy uitspraak beaam.

“Ons sal dalk nuwe vorme van assessering moet ontwikkel, wat nie op grond van geslag bepaal word nie en wat in lyn is met ons grondwet en menseregte,” het Manamela gesê. Hy het verder gelas dat die POF R5,2 miljoen aan Robinson moet betaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.