Padskoonmaker vrygelaat ná ‘misverstand’ op misdaadtoneel

Die transitorooftog het Woensdag op die R40 naby Hazyview plaasgevind. (Foto: Verskaf)

ʼn Skoonmaker wat verantwoordelik is om rommel en puin ná ʼn ongeluk van paaie te verwyder is Woensdag weens ʼn misverstand ná ʼn rooftog in hegtenis geneem.

Hoewel daar aanvanklik aangevoer is dat die betrokke skoonmaker ʼn werknemer van die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) is, het die agentskap nou gesê die man werk vir ʼn kontrakteur van Sanral.

Brig. Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder, sê die polisie is Woensdag om 10:00 na die R40 naby Hazyview in Mpumalanga ontbied ná ʼn transitorooftog en skietery op die pad.

“ʼn Groep van sowat 15 gewapende mans het glo op ʼn transitovoertuig toegeslaan wat in die rigting van Hazyview gery het. Die verdagtes het een van hul voertuie, ʼn Mercedes-Benz, gebruik om teen die transitovoertuig te bots,” sê hy.

“Ná die ongeluk het ʼn skietery tussen die verdagtes en die veiligheidswagte uitgebreek. Een van die veiligheidswagte is doodgeskiet, terwyl die ander een matige beserings opgedoen het.”

Die verdagtes het die twee veiligheidswagte se vuurwapens gebuit en plofstof gebruik om toegang tot die geldwa te verkry. Hulle het van die geld in die voertuig gebuit en in ʼn Jeep Cherokee, Kia SUV en ʼn Ford Ranger-dubbelkajuitbakkie op die vlug geslaan. Die transitovoertuig en die verwoeste Mercedes-Benz is uitgebrand.

Volgens Mohlala het die verdagtes in die rigting van Masoyi gevlug en polisiebeamptes het hulle agternagesit. Dit het tot ʼn tweede skietgeveg gelei, waarna die verdagtes die polisie ontduik het.

Terwyl die polisiebeamptes die oorspronklike ongelukstoneel gefynkam het, het hulle op een van die veiligheidswagte se vuurwapens en geld in die bosse afgekom.

Kort hierna het ʼn misverstand glo ontstaan en ʼn kontrakwerker wat intussen gestuur is om die pad te begin skoonmaak, is in hegtenis geneem.

Vusi Mona, woordvoerder van Sanral, sê een van Sanral se subkontrakteurs verantwoordelik vir instandhoudingswerk op paaie, VEA Construction, het die span na die toneel gestuur om die puin op te ruim sodat die pad weer oopgestel kan word.

“Toe die span op die toneel gekom het, het hulle polisiebeamptes genader, maar hulle is aangesê om te wag totdat die forensiese span en brandweer hulle werk afgehandel het. Hulle is later toegelaat om die toneel te betree en die pad skoon te maak,” sê hy.

“Die misverstand en daaropvolgende inhegtenisneming het gebeur toe ʼn tweede span polisiebeamptes een van die skoonmakers aangetref het terwyl dié besig was om die toneel skoon te maak.”

Volgens Mohlala het die betrokke beamptes die skoonmaker met ʼn onbekende bedrag geld, wat vermoedelik uit die beskadigde transitorooftog gekom het, betrap.

“Die 32-jarige is onmiddellik op aanklag van diefstal in hegtenis geneem,” sê hy.

Sanral sê die verwarring is veroorsaak nadat die werker hom as ʼn werker van Sanral voorgestel het, en nie as ʼn werker van een van die kontrakteurs nie.

“Geen Sanral-werknemers is direk verantwoordelik vir die skoonmaak van nasionale paaie nie,” sê Mona.

“Ingevolge Sanral se sakemodel word al die skoonmaak van paaie deur kontrakteurs hanteer deur roetinepadinstandhoudingskontrakte.”

Sanral het intussen bevestig dat die misverstand opgeklaar is en dat die man Donderdag vrygelaat is.

Die polisie se ondersoek na die transitorooftog duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Niklaas ·

Die skoonmaker is toe met geld in sy besit gevind. Natuurlik kan daardie versoeking om rondgestrooide geld te versamel , en dit dan te leen , nie weerstaan word nie.

Chris dupreez ·

Nou wonder ek of hy die geld gehou het nadat hy vrygelaat is. Dit is vir seker diefstal op n misdaad toneel.

Koen ·

Raaiskoot….”n goeie 95% van die lesers hier sal ook maar geld bymekaar maak. Ek sou ook.

Miskruier ·

Mens wonder wat het geword van die ink wat die geld onbruikbaar sal maak, geword

AndrewL ·

En jy was op die toneel? Sulke misdaad tonele is baie deurmekaar die die polisie op die toneel moet optree volgens wat hul waarneem.

Baie misdadigers verbloem hulself op tonele as bystanders ens. wanneer hul wegkom kans verhinder word.

En jy is alwetend? Sjoe. Hoekom is jy nie die wêreld se nr 1 baas speurder nie?

Faraway ·

Mmm . . . dalk n paar note strooi waar slaggate is en sien hoe gou dit herstel word

Kosie ·

Nie sonder rede toegesluit nie, sou hy daai geld teruggegee het, is daar rekord dat hulle al ooit geld in gehandig het?

Danie ·

Weereens nonsens die sodanige polisie neem n toneel oor en bly daar tot dit afgehandel is.So hoe kan daar n misvertand gewees het.En die bewering van agternasit is n foefie het die kriminele begelei.Jy kan hoegenaamd nie hulle stories glo nie.Dis altyd so vreemd dat die geld altyd weg is en hulle maak arrestasies?

Vonny ·

Sterkte aan die familie met hul verlies van die security man wie se lewe so onnodig geneem is. Baie sad

Vonny ·

Almal in die arm land SA soek n geldjie wat rond lè…so sad

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.