Padsterftes neem af oor Kersseisoen

Foto: Durban Traffic Alerts/Twitter)

Teenoor vorige statistieke het minder mense die afgelope vakansieseisoen op die land se paaie gesterf. So het die minister van vervoer, Fikile Mbalula, Donderdag bekendgemaak.

Nietemin is 1 617 mense dood tussen 1 Desember verlede jaar en die heropening van die skole op 15 Januarie. Dit is 72 minder slagoffers as ʼn jaar tevore.

Die aantal noodlottige botsings het afgeneem van 1 438 die vorige jaar na 1 390. Die koste van al hierdie rampspoed word deur die staat geraam op R168 miljard.

Die provinsie waar die meeste mense dood is, is KwaZulu-Natal, met 354 sterftes, gevolg deur Gauteng met 254, die Oos-Kaap met 242 en Limpopo met 217. Mpumalanga het 144 sterftes gehad, die Wes-Kaap 136, die Vrystaat 111, Noordwes 110 en die Noord-Kaap 49.

Die grootste afname in noodlottige padsterftes was in die Vrystaat en Mpumalanga.

Volgens die minister bly voetgangers en passasiers die grootste slagoffers in padongelukke. Sowat 40% van alle sterftes op die pad in hierdie tydperk was voetgangers, 34% was passasiers, 25% bestuurders en ʼn skamele 1% was fietsryers.

Mbalula het hardwerkende lede van die verkeerspolisie, polisie en weermag geloof vir hul optrede, en die afname in padsterftes toegeskryf aan beter wetstoepassing. Hy het motoriste wat versigtig en bedagsaam bestuur, ook bedank.

Daar is nietemin meer as ʼn halfmiljoen verkeerskaartjies uitgeskryf – 573 147 om presies te wees. ʼn Teken van hoop is dat dit meer as 30% minder as verlede jaar is. Dit ten spyte van, of dalk danksy, die omvattende toename in padblokkades. Dié syfer het amper verdriedubbel, so die afname in verkeerskaartjies loop parallel met die verskerpte wetstoepassing.

Een van die grootste probleme waarmee die owerhede te kampe het, is onpadwaardige voertuie, en een van die klaarblyklike verbeterings is die bestuursvermoë van minibus-taxibestuurders, het Mbalula gesê.

Die meeste voertuie wat in noodlottige ongelukke betrokke was, was ligte passasiersvoertuie (42%), met afleweringsvoertuie (insluitend vragmotors) op 20% en minibusse en kombi’s op 9%.

Mbalula het gesê sy departement sal alles doen om die padongeluksyfer verder te laat daal in die toekoms.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

m ·

Sluit “alles doen om die stastieke vir “padongeluksyfers te laat daal” dalk ook in om die syfers te manipuleer?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.