Padsterftes oor Paasnaweek neem toe

Argieffoto

Altesaam 225 mense is die afgelope Paasnaweek dood in 185 noodlottige ongelukke wat in dié tyd aangemeld is.

“Dit is heelwat meer in vergelyking met dieselfde tydperk verlede jaar, toe 135 noodlottige ongelukke en 161 sterftes aangeteken is,” sê Sindisiwe Chikunga, minister van vervoer.

“Mense verloor hul lewens op ons paaie, dit is nie net bloot statistieke nie; familielede sterf.”

Chikunga het Vrydag die afgelope Paasnaweek se padveiligheidstatistieke bekend gemaak.

Volgens Chikunga is slegs een groot dodelike ongeluk tydens die Paasnaweek aangeteken: ʼn kettingbotsing op 11 April wat die lewe van vyf mense in KwaZulu-Natal geëis het. Mistige en reënerige toestande het glo tot die botsing bygedra.

“Afgesien van hierdie betreurenswaardige botsing was daar geen ander ongeluk waarby veelvuldige voertuie betrokke was of wat meer as vyf sterftes veroorsaak het nie.”

Nietemin was daar 50 botsings en 64 meer sterftes meer as verlede jaar.

Verkeerstoestande en boetes

ʼn Verslag van Sanral-tolhekke dui op verhoogde verkeersvolumes gedurende die tydperk, veral op hoofweë van en na Gauteng.

Sanral het verlede Donderdag gemiddeld 2 000 voertuie per uur deur die tolhekke aangeteken. Die hoogste volume was 2 287 voertuie tussen 16:00 en 17:00 by die Pumlani-tolhek op die N1 na Limpopo.

Die grootste verkeersvolume vir Maandag is tussen 17:00 en 18:00 aangeteken toe 3 244 voertuie deur die Pumlani-tolhek op pad na Gauteng is.

“Wetstoepassers het deurentyd sigbaarheid gehandhaaf en motoriste hanteer wat nie die versoeking kon weerstaan ​​om die padreëls te oortree en nie paaie verantwoordelik te deel nie,” sê Chikunga.

Gevolglik is 30 934 verkeersboetes uitgereik, 430 voertuie is as onpadwaardig verklaar, 1 625 ongeldige of vervalste lisensies is gekonfiskeer en 1 716 bestuurders is gearresteer vir spoedoortredings, dronkbestuur, roekelose en nalatige bestuur, of bestuur sonder ʼn openbare rybewys.

Die vyf topverkeersoortredings was spoed, die bestuur van ongelisensieerde voertuie, bestuur sonder om veiligheidsgordels vas te maak, bestuur sonder ʼn rybewys en die bestuur van voertuie met verslete bande.

Volgens Chikunga is die ernstigste spoedoortreding op die N1 naby Lyttelton in Centurion aangemeld waar ʼn spoedvraat teen 198 km/h in ’n 120-km/h-sone gery het.

Die ernstigste dronkbestuur-voorval was by Harrismith in die Vrystaat waar ʼn motoris meer as vier keer oor die wettige alkohollimiet was.

ʼn Toename in sterftes is in alle provinsies, benewens Mpumalanga, die Wes-Kaap en Noordwes aangeteken.

Altesame 44,4% van alle padsterftes oor die Paasnaweek was voetgangers gevolg deur passasiers (27,7%). ʼn Kwart (25,6%) van die slagoffers was voertuigbestuurders gevolg deur fietsryers (1,3%). Die padgebruikerstatus van 1% van slagoffers kon nie bepaal word nie.

Die meeste ongelukke waarin voetgangers gesterf het, was in die Wes-Kaap, Limpopo, Gauteng en KwaZulu Natal. Die sterftes is hoofsaaklik deur tref-en-trap-botsings, enkelvoertuie wat omgeslaan het, voetgangerbotsings en trompop botsings veroorsaak.

Menslike faktore, wat roekelose en nalatige bestuur insluit, was die grootste bydraende faktor in alle sterftes (96,2%), gevolg deur pad- en omgewingsfaktore (4,5%) en sogenaamde voertuigfaktore (1,1%).

Die Outomobiel-Assosiasie (AA) sê die toename in sterftes is “gruwelik” en wys weer eens op ʼn gebrek aan behoorlike padveiligheidsingryping en inwerkingstelling deur die regering en die agentskappe wat vir padveiligheid verantwoordelik is.

Chikunga hou egter vol dat die regering verbind is daartoe om padveiligheid te verbeter.

“Ons is besig om teenkorrupsie-intervensies te verskerp, insluitend die gebruik van tegnologie soos gerekenariseerde leerlinglisensie-toetsblaaie wat ons landwyd sal uitrol.

“Ons vorder ook om verkeerspolisiëring tot noodsaaklike diens te laat verklaar.

Die AA sê die nuwe minister moet verseker dat die implementering van hierdie inisiatiewe sonder versuim gedoen word. “Ons doen ʼn beroep op haar [die minister], die departement van vervoer en die Padverkeersbestuurskorporasie (RTMC) – die hoofagentskap wat verantwoordelik is vir padveiligheid in Suid-Afrika – om burgers ingelig te hou oor vordering hiermee.”

“Ons glo nog altyd dat intensiewe verkeerswetstoepassing op spesifieke tye van die jaar nie bestuurdersgedrag sal verander nie. Volgehoue ​​en sigbare verkeerswetstoepassing moet ondersteun word en ongelukkig is hierdie elemente opvallend afwesig in ons land se padveiligheidsprogram en moet dit vorentoe geprioritiseer word,” sê die AA.

“Padveiligheid bly ’n nasionale krisis in Suid-Afrika en tensy ons regering en die agentskappe verantwoordelik vir padveiligheid nie hul benadering verbeter nie, sal ons ernstige padsterftestatistieke nie daal nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

TruthDealer ·

Dis hoekom ek maar Paasnaweek altyd tuis bly, of nie verder as 8km na my dogter gaan nie. Die paaie is alreeds gevaarlik genoeg op ander tye.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.