Meer as 1 600 mense het tydens die afgelope feestyd op die land se paaie omgekom.
Fikile Mbalula, minister van vervoer, het Dinsdag die padsterftesyfer vir die tydperk 1 Desember 2021 tot 11 Januarie 2022 bekend gemaak.
Altesaam 1 685 mense het in hierdie tyd in noodlottige ongelukke omgekom. Dit is ʼn 14%-styging in sterftes op ʼn jaar-tot-jaar-grondslag.
Padsterftes het in sewe provinsies toegeneem. Die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal is die enigste provinsies wat ʼn afname in sterftes aangeteken het, terwyl die Noord-Kaap en Wes-Kaap die hoogste persentasie toenames in sterftes aangeteken het.
Die hoofoorsake van die padsterftes in hierdie tydperk was ryloop, nat of gladde padoppervlakke, verbysteek op sperstrepe en swak sigbaarheid.
Daar is tydens die feestyd 651 padblokkades oor die hele land gehou waartydens 264 690 boetes vir verskeie verkeersoortredings uitgereik is. Altesaam 21 431 van hierdie boetes was vir bestuurders wat versuim het om hul veiligheidsgordels te dra, terwyl 22 766 vir bestuurders was wat sonder lisensies bestuur het.
Beamptes het 6 169 motoriste in hegtenis geneem vir verskeie oortredings. Altesaam 605 bestuurders is vir spoedoortredings, van tussen 190 km/h tot meer as 220 km/h, in hegtenis geneem. ʼn Spoedvraat is in Limpopo in hegtenis geneem terwyl hy teen 225 km/h gery het.
Altesaam 1 586 motoriste is vir dronkbestuur in hegtenis geneem. ʼn Bestuurder met ʼn alkoholvlak van 2,43 mg is op 22 Desember in Johannesburg in hegtenis geneem.
Altesaam 4 251 onpadwaardige voertuie is van die pad verwyder, terwyl 4 073 voertuie geskut is.
Provinsie | Sterftes in 2021-’22 | Sterftes in 2020-’21 | Sterftes in 2019-’20 |
Wes-Kaap | 207 | 133 | 157 |
KwaZulu-Natal | 275 | 294 | 336 |
Limpopo | 226 | 194 | 205 |
Noord-Kaap | 65 | 33 | 39 |
Gauteng | 275 | 238 | 249 |
Noordwes | 119 | 95 | 101 |
Oos-Kaap | 210 | 228 | 231 |
Mpumalanga | 189 | 152 | 135 |
Vrystaat | 119 | 111 | 108 |
- Die 2020-’21-statistieke is intussen aangepas nadat die minister ander syfers verskaf het as tydens die bekendmaking van die statistieke in Januarie verlede jaar.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
15 Kommentare
Ou Fikile Mbalula, dis tyd dat jy en jou kaders groet….
Plus die swak toestande van ons paaie. Nou raas hy oor AARTO, stel voor hy maak sy mond toe en maak sy oe oop en begin iets doen. Beslis onder die top 10 swakste ministers
Net nou die dag VOOR die vakansie het hy gesê die syfers is af. Maak eers jou mond oop na die vakansie verby is.
Padsterftes het oor die algemen gestyg nie net in die Feesgety nie, alles te danke aan roekelose nalatige bestuurders.
Ek verstaan nou nie lekker nie. Spoed was nerens as n hoof oorsaak genoem nie…..of was dit maar net te maklik om altyd alles op spoed te blameer.