Padwoede-slagoffer ‘het geleef vir sy seun’

Nicky Botes (38) is in Junie vanjaar tydens ʼn padwoedevoorval in Klerksdorp, Noordwes, doodgeskiet. (Foto: Verskaf)

Die aankondiging dat Dennis Hearn vir die moord op Nicky Botes (38) vervolg gaan word, bring aan Botes se geliefdes hoop dat geregtigheid eindelik sal geskied.

Hearn het op 8 Desember vir die eerste keer in die hof verskyn nadat hy Botes in Junie vanjaar tydens ʼn padwoedevoorval in Klerksdorp, Noordwes, doodgeskiet het.

“Dis ʼn groot hartseer, veral die manier waarop hy dood is.

“Niks sal Nicky ooit weer terugbring nie, maar ons sal dankbaar wees as geregtigheid kan geskied,” het Peet Nieuwoudt, Botes se stiefpa, aan Maroela Media gesê.

ʼn Raadop Nieuwoudt het AfriForum se privaatvervolgingseenheid onlangs om hulp genader aangesien dit al meer gelyk het of niks van die polisie-ondersoek na die noodlottige voorval gaan kom nie.

Dié eenheid het ingetree en die dossier aan die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Klerksdorp oorhandig, waarna die senior aanklaer opdrag gegee het dat Hearn onmiddellik vervolg moet word.

“Dit gaan oor reg en verkeerd. Die persoon wat hom geskiet het moet verantwoordelik gehou word. Niks kan nie sy [Hearn] dade regverdig nie.”

Nieuwoudt sê Botes was vir hom soos sy eie seun, en dat sy dood ʼn reuse-impak op hom en sy vrou, Esther, Botes se tienjarige seun, sy biologiese pa en sy geliefdes gehad het.

Botes was ʼn motorwerktuigkundige en het ʼn werkswinkel saam met sy pa bedryf.

Die naam van Botes se seun word op versoek van die familie nie gepubliseer nie.

“Hy het vir sy seun geleef en was ook baie geheg aan sy ouers, familie en vriende,” sê Nieuwoudt. “Nou is sy seun van ʼn lewe saam met sy pa ontneem. Dit kon soveel anders gewees het.”

Nicky Botes se geliefdes sê hoewel niks hom ooit weer sal terugbring nie, geregtigheid tog afsluiting sal bring. (Foto: Verskaf)

Volgens Nieuwoudt besoek die seun Botes se graf dikwels – onder andere saam met sy oupa, Nico, Botes se pa.

“Ek het wel agterkom dat hy baie stiller is as voorheen. Hy praat nie baie oor wat gebeur het nie.”

Nieuwoudt sê Botes se ma kry net so swaar.

“Haar eie pa, Nicky se oupa, is in 1995 vermoor en daar was nooit geregtigheid in dié saak nie. Nicky se dood het boonop al daardie ou wonde oopgekrap. Sy het baie vrae en is gefrustreerd dat Nicky se saak, wat oënskynlik voor die handliggend is, nêrens kom nie.

“Sy het elke dag met Nicky gepraat. Sy mis hom baie. Sy neem ook baie van Nicky se seun se hartseer op haar. Dis vir haar swaar om te dink hy moet sonder sy pa grootword. Ons is egter dankbaar dat hy [Botes se seun] ʼn goeie ondersteuningsnetwerk het.”

Nieuwoudt sê Botes was iemand wat lief was vir die lewe.

“Hy kon altyd so lekker lag. Ons mis daardie lag. Hy was so ʼn lewenslustige mens.”

Dit is nie duidelik wanneer Hearn se verhoor sal begin nie, maar Nieuwoudt sê hulle sal beslis die verrigtinge wil bywoon.

“Ons is dankbaar vir AfriForum se ondersteuning en waardeer wat hulle in die saak doen. Ons is ook in die algemeen dankbaar dat hulle by sake ingryp sodat geregtigheid kan geskied.

“Ons besef dat die saak dalk jare kan sloer, maar hoop werklik dat daar geregtigheid vir Nicky sal wees – dit sal ook afsluiting bring.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Di ·

Net nog ‘n geval waar die NVG te sleg is om hulle werk te doen. WEEREENS moes AfriForum intree om die NVG sover te kry om hulle werk te doen. Kriminele kom weg weens die onbevoegdheid van hierdie spul wat in die NVG sit.

Samuel ·

Ek is dankbaar dat daar ‘n organisasie soos Afriforum is, en ‘n adv. Gerrie Nel.

Perdeby ·

Hoekom moet Gerrie Nel altyd eers optree voor daar iets gedoen word??? Hulle weet mos wie die skuldidge persoon is!

Douglas ·

Gaan Afriforum die SAPD se speurafdeling oorneem?
Ek hoop so.

Mariaan ·

Daar was mos nog n vriend saam met hom in die bakkie…die kan seker vertel presies wat daar gebeur het..hoekom swyg? Dis tragies dat sulke goed moet gebeur….maar drank..woede…laatnag…alles n kombinasie vir probleme….sterkte aan sy familie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.