‘Padwoede-voorval’: Skikkingsooreenkoms bereik

Hannes Viljoen, Pieter de Beer en Hanno Bierman. Foto: Tania Heyns

Die partye in die sogenaamde Witbank-padwoede-voorval het ʼn skikkingsooreenkoms bereik.

Hanno Bierman, Pieter de Beer en Hannes Viljoen is van poging tot moord aangekla in verband met ʼn beweerde padwoede-voorval vroeër vanjaar in eMalahleni (Witbank) waartydens Willem Potgieter (52) ernstige beserings opgedoen het.

Sya van der Walt-Potgieter, die drie se mediaverteenwoordiger, het Dinsdag aan Maroela Media bevestig dat ’n skikkingsooreenkoms bereik is.

“Ek kan bevestig dat my kliënte se regsverteenwoordigers ’n mandaat ontvang het om met die Potgieters se regsverteenwoordigers, wat ook ’n mandaat van [die egpaar] ontvang het, te vergader in ’n poging om alle geskille tussen die partye, sivielregtelik én strafregtelik, te probeer bylê.”

Die onderskeie regsverteenwoordigers vir die partye het die eerste keer op 3 Desember vergader waarna verdere samesprekings op 5, 6 en 9 Desember 2019 gevoer is.

“Aangesien dit ’n padwoede-voorval was waarin albei en alle partye gewoonlik ʼn rol of bydraende rol speel en waar daar onder meer skote met ʼn vuurwapen op my kliënte se voertuig afgevuur was, wat die voertuig dan ook getref het en die koeëlpunt uit die voertuig verwyder was, het albei partye en hulle regsverteenwoordigers daarin geslaag om alle geskille tussen mekaar by te lê,” het Van der Walt-Potgieter gesê.

Die partye wou egter geen verdere besonderhede rondom die skikking bekend maak nie. “Alle geskille tussen die partye is nou wel opgelos en afgehandel.”

Willem Potgieter in die hospitaal. Foto: Verskaf

Monica Nyuswa, provinsiale woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het bevestig dat die aanklagte van poging tot moord teen die drie mans teruggetrek is. Volgens Nyuswa behels die skikkingsooreenkoms vergoeding, maar is die spesifieke bedrag nie aan die NVG bekend nie.

Maroela Media het vroeër berig Willem Potgieter en sy vrou, Santie, was op 20 Julie net ná 21:00 op pad terug na hul huis in Tasbetpark nadat hulle gaan uiteet het.

Volgens die Potgieters se weergawe van die aand se gebeure het vier mans in ʼn Dodge Ram-bakkie glo ʼn rooi verkeerslig verontagsaam en het Willem sy toeter gedruk. Die bestuurder van die bakkie het glo stilgehou en daarna die Potgieters begin agtervolg.

Die Potgieters se bakkie is kort hierna glo van die pad gestamp en die bestuurder het ook glo herhaaldelik teen die passasierskant vasgery, wat veroorsaak het dat Santie nie haar deur kon oopkry nie.

Willem het glo uitgeklim en ʼn waarskuwingskoot in die grond geskiet waarna ʼn bakleiery ontstaan en Willem ernstige beserings opgedoen het. Santie is ook tydens die voorval beseer.

Willem is van die toneel na die Life Cosmos-hospitaal gehaas. Hy is in ʼn geïnduseerde koma geplaas nadat hy na die Milpark-hospitaal oorgeplaas is. Sy wangbeen is vergruis, sy kaak is gebreek en hy het ʼn skedelbreuk opgedoen.

Bierman, De Beer en Viljoen het hulself ná die voorval aan die polisie oorgegee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.