Padwoedeskieter kry tronkstraf

Argieffoto

Argieffoto

Mohammed Sathar (50), wat Richard Duxbury (35) in 2012 tydens ʼn padwoedevoorval op die M4-snelweg in Clairwood, Durban, doodgeskiet het, is Maandag gevangenisstraf opgelê nadat hy vroeër aan moord skuldig bevind is.

Maj. Thulani Zwane, provinsiale polisiewoordvoerder, het Dinsdag gesê Sathar is in die Durban-streekhof tot 15 jaar tronkstraf gevonnis vir moord en twee jaar vir die rig van ʼn vuurwapen.

“Die slagoffer het op 29 Februarie 2012 op die snelweg gery toe hy deur die vragmotorbestuurder [Sathar] van die pad af getrek is,” het Zwane gesê. “Sathar en Duxbury het in ʼn argument betrokke geraak, waartydens Sathar Duxbury doodgeskiet het.”

Die Brighton Beach-polisie het ʼn saak van moord ondersoek en Sathar ʼn paar dae later in Durban-Sentraal in hegtenis geneem. Die polisie het beslag gelê op Sathar se gelisensieerde vuurwapen en dit vir ballistiese toeste gestuur. Ná verskeie hofverskynings is Sutter skuldig bevind op aanklag van moord en die rig van ʼn vuurwapen.

Lt.genl. Mmamonnye Ngobeni, die provinsie se polisiekommissaris, het Sathar se vonnis verwelkom. Sy het die noodlottige padwoedevoorval ten sterkste veroordeel en die Brighton Beach-polisie geloof vir hul goeie werk wat tot Sathar se skuldigbevinding en vonnis gelei het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Ronnie ·

Tweede laaste paragraaf word “Sutter” genoem, ipv Sathar.

Sune van Heerden ·

Dagsê Ronnie

Ons vra om verskoning vir die flater, ons wysig die berig.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Ben ☺☺☺ ·

Daar is nie `n woord “skieter” in ons taal nie – dis skut, boogskutter, skiet is `n werkwoord – so `n ou wat skiet is `n …….skut.

Sune van Heerden ·

Dagsê Ben

Dankie vir jou kommentaar. Let asseblief daarop dat “skieter” en “skut” al twee in Afrikaans erken word. “Skieter” verwys spesifiek na ‘n persoon wat skiet en “skut” verwys spesifiek na iemand wat bedrewe is in die skietkuns.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Nou ja, toe ·

Ai tog, lyk of die Afrikaans onderwysers weer aan diens is.

Dee ·

Ek geniet Ben se tussenwerpsel en Suné se leersame terugvoering. In teenstelling met jou is dit dit tipe mense wat ons taal ag en bydra tot die groei daarvan. Jy weet natuurlik dat jou kommentaar onvanpas is.

Pieta ·

Ja, maar hulle is Afrikaanse onderwysers…(terwyl ons nou aan mekaar torring!)

Paul ·

Wel, Pieta, dit sou “Afrikaans-onderwysers” (samestelling met ‘n eienaam kry ‘n koppelteken) wees. Dit is ‘n onderwyser wat die vak Afrikaans aanbied. ‘n Afrikaanse onderwyser is ‘n ouderwyser wat Afrikaans is/praat, maar enige vak gee.
So mens sou ‘n Engelssprekende persoon kon kry wat wel ‘n Afrikaans-onderwyser is, maar nie ‘n Afrikaanse onderwyser nie.

Heinrich ·

Mens bly maar mens; ons word daagliks op die paaie geboelie deur taxis en ander skurke wat nou soos hulle geleer ry het, net omdat daar nie genoeg mense is om die goed aan te vat nie, so wanneer die geleentheid hom voordoen om van daardie opgeboude stoom af te blaas doen ons dit vinnig, al is dit op die verkeerde persoon of metode. Stel genoeg mense aan om wetstoepassing te doen, sluit die taxibestuurders (en ander vatrke wat soos hulle ry) toe wat hulle passasiers en ander padgebruikers se lewens so in gevaarstel, gee die eienaar van die taxi ‘n stewige boete, en padwoede sal baie minder op ons paaie wees!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.