Pahad verwerp bewerings dat Timol sy eie lewe geneem het

Voormalige minister in die presidensie Essop Pahad en dr. Salim Essop tydens die Ahmed Timol-verhoor (Foto: ANA)

Essop Pahad, voormalige minister in die presidensie, het Dinsdag aan die Pretoriase hooggeregshof gesê hy glo nie dat die anti-apartheidsaktivis, Ahmed Timol, sy eie lewe geneem het soos ʼn vorige verhoor bevind het nie.

Pahad het gesê Timol was ʼn Moslem en Islam verbied selfmoord.

“Ahmed was ʼn Moslem. Ek verstaan dat, indien ʼn Moslem selfmoord pleeg, kan hulle nie in ʼn Moslem-begraafplaas begrawe word nie. My siening is dat Ahmed hiervolgens, onder andere, nie sy eie lewe geneem het nie.”

Pahad het gesê hy was al van jongs af vriende met Timol en hul vriendskap het verdiep terwyl Timol onderwys studeer het. Timol is in 1971 saam met sy vriend dr. Salim Essop in hegtenis geneem toe ʼn motor waarin hulle gery het, deur die polisie voorgekeer is. Verbode SAKP- en ANC-literatuur is in die motor gevind.

Hy het uit die 10de verdieping van die John Vorster Plein-polisiestasie, nou die Johannesburg Sentraal-polisiestasie, gespring.

Timol se familie is oortuig dat die polisie hom doodgemaak het en dat hy nooit selfmoordneigings getoon het nie.

Die verhoor, wat deur Timol se familie versoek is, bevraagteken ʼn uitspraak in Junie 1972 deur landdros JL de Villiers, dat Timol selfmoord gepleeg het.

Daar was gerugte dat beamptes verbonde aan die stasie tydens apartheidsjare verantwoordelik was vir marteling en die afsterwe van talle aktiviste wat die regime teengestaan het.

Pahad het gesê hy het saam met Timol in Londen gewoon en is deur dr. Yusuf Dadoo gewerf om deel te word van die ondergrondse eenheid. Toe Timol na Suid-Afrika teruggekeer het, was hy ten volle bewus van die gevolge indien hy in hegtenis geneem sou word.

“Ek was die laaste persoon wat met hom gepraat het voor hy weg is by die woonstel. Ek het met hom bespreek wat sou gebeur as hy in hegtenis geneem sou word. Ons het besef daar is ʼn moontlikheid dat hy in hegtenis geneem sou word, aangesien die veiligheidstak besig was om ons eenheid te infiltreer. Ons het bespreek hoe hy moes reageer.”

Pahad verwerp bewerings dat die SAKP ʼn beleid gehad het wat lede aangemoedig het om selfmoord te pleeg indien hulle in hegtenis geneem en gemartel word. “Daar was nooit só protokol nie en nooit só opdrag nie.”

Prof. Kenneth Boffard, wat die nadoodse verslag bestudeer het, het vroeër gesê van die beserings wat Timol opgedoen het, was nie as gevolg van die val nie. Die traumachirurg het aan die hof gesê hy is van mening dat die beweging, toe die polisie Timol se liggaam geskuif het, sy dood bespoedig het. “Enige beweging aan iemand wat kritieke beserings opgedoen het, vererger die skade – veral aan die ruggraat. Ek sou aanbeveel het dat die persoon glad nie geskuif word nie, omdat dit noodlottig kan wees.”

Boffard het gesê Timol het ʼn fraktuur op sy skedel gehad wat daarop dui dat hy moontlik breinskade opgedoen het.

Die saak hervat Woensdag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Marisa ·

Baie goeie vraag. Hulle sal seker daarvoor ook ‘n verduideliking hê – soos wat in die hemel vir hulle wag.

Hennie ·

Baie goeie vraag Gerrit. Wag om te hoor wat die antwoorde gaan wees indien enige

vrikie ·

Was Pahad daar om te sien wat gebeur het, hoe gaan die hof bewys dat hy nie self gespring het, mors van tyd en geld

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.