Paia-aansoek ingedien oor regering se entstofplan

Die Moderna-entstof teen Covid-19. (Foto: Joseph Prezioso/AFP)

Die DA gaan die Wet op Toegang tot Inligting, oftewel Paia, gebruik om meer inligting oor die regering se beoogde Covid-19-entstofplan te bekom.

Siviwe Gwarube, die DA se woordvoerder oor gesondheid, het gesê ʼn aansoek van hierdie aard gee die minister van gesondheid, dr.  Zweli Mkhize, 30 dae kans om ʼn gekodifiseerde plan voor te lê. Hy sal ook nie bekendmaking daarvan kan omseil nie omdat dit ʼn saak van openbare belang is.

Mkhize het Sondag gesê die meeste Suid-Afrikaners sal eers teen die einde van 2021 ingeënt kan word teen Covid-19. Volgens die minister is kenners geraadpleeg om strukture daar te stel wat betref finansiering en aanskaffing van die entstof en die entstof-strategie geniet onverdeelde aandag.

Die minister het ook gesê minstens 67% van die bevolking moet ingeënt word om kudde-immuniteit te verseker.

Gwarube sê egter Mkhize se voorlegging was hopeloos te vaag vir die aanvanklike fase van entstofonderhandelings wat in hierdie stadium wêreldwyd plaasvind.

Talle ander lande het reeds begin met grootskaalse programme om hul burgers teen die nuwe virus te beskerm.

Gwarube sê ook Mkhize moet nou ʼn omvattende plan – wat reeds veronderstel is om opgestel te wees – bekendmaak en moet verskeie belangrike vrae beantwoord.

Dit sluit in ʼn rekord van die besluit en bewys van bilaterale ooreenkomste oor die presiese status van die beraadslagings; ʼn verduideliking van die koste van die entstof deur vervaardigers en besonderhede van hoe die entstof verkry gaan word.

“Die regering het reeds gesê daar gaan ʼn gesentraliseerde stelsel van verkryging wees, ʼn poging wat enorme vertragings vir die land kan veroorsaak as dit deurspek van korrupsie en wanbestuur is,” het Gwarube gesê.

Die DA vra Mkhize ook om inligting bekend te maak presies waar die entstof aan die openbare en private sektor bekend gestel gaan word, asook oor ooreenkomste om te verseker dat Suid-Afrikaners die entstof dringend ontvang.

Die DA wil voorts weet hoe gesondheidswerkers en ander werkers op die voorste linies van die pandemie toegang tot die entstof gaan kry, waar die geld vir die aankoop en verspreiding van die entstof vandaan gaan kom en wat die logistieke reëlings vir die berg, vervoer en verspreiding daarvan is.

Gwarube sê hofsake teen die regering in die verlede het gewys hoekom absolute deursigtigheid in sake van openbare gesondheid en ingrypings wat lewens red, so noodsaaklik is.

“Dit is daarom belangrik dat ons nie drupsgewys inligting oor die proses gevoer word nie, maar van ʼn omvattende plan voorsien word wat gereed is om in werking gestel te word.”

Sy sê talle aspekte van die proses moes boonop al verlede jaar van stapel gestuur gewees het.

“Suid-Afrikaners verdien om te weet wat die regering se entstofplan is en hulle verdien om dadelik te weet omdat ons nie nog vlae infeksies of afsondering kan bekostig nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.