Paia-aansoek ingedien vir ANC-kaderontplooiing-vergaderings

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Die DA het ʼn aansoek kragtens die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) ingedien vir die notule van ANC-kaderontplooiing-vergaderings.

“In ons voortgesette stryd om kaderontplooiing af te breek, wat die wortel is van staatskaping en korrupsie in Suid-Afrika, het die DA die Paia-aansoek by Cyril Ramaphosa, in sy kapasiteit as president van die ANC, ingedien,” het Leon Schreiber, die DA se skaduminister vir staatsdiens en administrasie, Sondag gesê. “In die Paia versoek ons Ramaphosa om ʼn volledige rekord van die notules van elke vergadering te verskaf van die ANC se kaderontplooiingskomitee sedert 1 Januarie 2013 – toe Ramaphosa glo die voorsitter van dié komitee geword het. Kragtens artikel 56 van die Paia-wet het hy 30 dae om op ons versoek te reageer.”

Buiten die gedetailleerde notules van gesprekke by elke vergadering, versoek die DA ook toegang tot ʼn lys van alle besluite wat deur die komitee geneem is, ʼn lys van alle dokumente (insluitend advertensies vir vakante poste en CV’s wat deur die komitee oorweeg is) en afskrifte van alle korrespondensie wat staatsinstansies ontvang het oor die besluite wat die komitee geneem het.

“Die DA het die versoek kragtens artikel 50 van die Paia-wet ingedien wat bepaal dat ʼn privaat liggaam ‘moet’ toegang verleen ‘tot enige rekord van ʼn privaat liggaam indien daardie rekord vereis word vir die uitoefening of beskerming van enige regte’. Soos wat ons aan Ramaphosa in ons versoek verduidelik, glo die DA dat die publiek die reg het om te weet wat die omvang is wat die ANC kaderontplooiing gebruik het om artikel 197 (3) van die Grondwet te omseil, wat bepaal dat ‘geen werknemer van die staatsdiens voordeel mag trek slegs omdat daardie persoon ʼn spesifieke politieke party of saak ondersteun nie’.”

Schreiber sê die versoek handel oor die beskerming van die reg tot gelykheid van alle Suid-Afrikaners, soos wat dit in artikel 9 van die Handves van Regte uiteengesit is. “Hierdie bepaling verbied onregverdige diskriminasie teen enige persoon op die basis van ‘gewete’ en ‘geloof’. Kaderontplooiing oortree artikel 197 (3) en die reg tot gelykheid, omdat dit uitdruklik lede van die ANC bevoordeel in aanstellings van noodsaaklike staatsdiensposisies.”

Hy voeg by die Suid-Afrikaanse publiek het ʼn reg om te weet wat in die rookgevulde agterkamers van Luthuli House plaasvind tydens vergaderings van Ramaphosa se kaderontplooiingskomitee. “Hulle het ʼn reg om die volle waarheid te weet van hoe kaderontplooiing hardwerkende professionele persone van geleenthede in die staatsdiens beroof het, omdat die ANC ‘lojaliteit’ tot die party bo bevoegdheid en meriete gestel het. Hulle het ʼn reg om te weet dat kaderontplooiing die fundamentele rede is vir dienslewering wat ineenstort en onbeheersde korrupsie waar ook al die ANC regeer. En hulle het ʼn reg om te weet dat die sleutel rede waarom die DA soveel meer doeltreffend is wat dienslewering en goeie regering betref as enige ander party in Suid-Afrika, is omdat ons bekwaamheid bo politiek stel, nie ʼn kaderontplooiingskomitee het nie en onverskrokke afsondering tussen party en staat handhaaf.

“As Ramaphosa niks het om weg te steek nie, dan sal hy beslis nie enige probleem hê om aan ons versoek te voldoen nie. Die DA sien uit daarna dat die president ons van die dokumente voorsien, sodat Suid-Afrikaners uiteindelik kan verstaan hoe dié bose beleid ons staat gekaap en korrup gemaak het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

27 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jaco

Kaderontplooiing is maar dieselfde as die ou SA se lekker jobs wat vir Broederbonders gegee is. Die Broederbond was die geheime “think tank” agter die regerende Nasionale Party. Broeders is in sleutelposte in die onderwys, in die staatsdiens en in groot Afrikanerbesighede aangestel. Selfs die leiers van die drie Afrikaanse susterkerke was almal Broederbonders. Dis álles gedoen om “die Afrikanervolk” so deeglik as moontlik te beïnvloed om net vir die Nasionale Party te stem. Ek gee toe, bekwaamheid het daardie jare wel ‘n rol gespeel as Broeders lekker werk gekry het, maar daardie jare se beginsel van jobs vir politieke… Lees meer »

Die Wolf

Ons sal sien. Wonder hoeveel van die notules is MIA?

Stephan

Die DA mors ons tyd (op papier klink dit wonderlik, maar in praktyk net mooi nul).

Stephanus

Hierdie kan interesant raak. Glo nie dat DA die samewerking van CR gaan kry nie en sal maar weer moet wag vir n hofgeding.

Boerkind

Het die spul geen integriteit nie?? Hoe bly hulle steeds in beheer met ‘n magdom van bewyse van totale onvermoë en doelbewuste korrupsie teen hulle? En dan praat ou CR in ‘n “staatsrede” teen korrupsie!!