Paia-aansoek ingedien vir ANC-kaderontplooiing-vergaderings

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Die DA het ʼn aansoek kragtens die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) ingedien vir die notule van ANC-kaderontplooiing-vergaderings.

“In ons voortgesette stryd om kaderontplooiing af te breek, wat die wortel is van staatskaping en korrupsie in Suid-Afrika, het die DA die Paia-aansoek by Cyril Ramaphosa, in sy kapasiteit as president van die ANC, ingedien,” het Leon Schreiber, die DA se skaduminister vir staatsdiens en administrasie, Sondag gesê. “In die Paia versoek ons Ramaphosa om ʼn volledige rekord van die notules van elke vergadering te verskaf van die ANC se kaderontplooiingskomitee sedert 1 Januarie 2013 – toe Ramaphosa glo die voorsitter van dié komitee geword het. Kragtens artikel 56 van die Paia-wet het hy 30 dae om op ons versoek te reageer.”

Buiten die gedetailleerde notules van gesprekke by elke vergadering, versoek die DA ook toegang tot ʼn lys van alle besluite wat deur die komitee geneem is, ʼn lys van alle dokumente (insluitend advertensies vir vakante poste en CV’s wat deur die komitee oorweeg is) en afskrifte van alle korrespondensie wat staatsinstansies ontvang het oor die besluite wat die komitee geneem het.

“Die DA het die versoek kragtens artikel 50 van die Paia-wet ingedien wat bepaal dat ʼn privaat liggaam ‘moet’ toegang verleen ‘tot enige rekord van ʼn privaat liggaam indien daardie rekord vereis word vir die uitoefening of beskerming van enige regte’. Soos wat ons aan Ramaphosa in ons versoek verduidelik, glo die DA dat die publiek die reg het om te weet wat die omvang is wat die ANC kaderontplooiing gebruik het om artikel 197 (3) van die Grondwet te omseil, wat bepaal dat ‘geen werknemer van die staatsdiens voordeel mag trek slegs omdat daardie persoon ʼn spesifieke politieke party of saak ondersteun nie’.”

Schreiber sê die versoek handel oor die beskerming van die reg tot gelykheid van alle Suid-Afrikaners, soos wat dit in artikel 9 van die Handves van Regte uiteengesit is. “Hierdie bepaling verbied onregverdige diskriminasie teen enige persoon op die basis van ‘gewete’ en ‘geloof’. Kaderontplooiing oortree artikel 197 (3) en die reg tot gelykheid, omdat dit uitdruklik lede van die ANC bevoordeel in aanstellings van noodsaaklike staatsdiensposisies.”

Hy voeg by die Suid-Afrikaanse publiek het ʼn reg om te weet wat in die rookgevulde agterkamers van Luthuli House plaasvind tydens vergaderings van Ramaphosa se kaderontplooiingskomitee. “Hulle het ʼn reg om die volle waarheid te weet van hoe kaderontplooiing hardwerkende professionele persone van geleenthede in die staatsdiens beroof het, omdat die ANC ‘lojaliteit’ tot die party bo bevoegdheid en meriete gestel het. Hulle het ʼn reg om te weet dat kaderontplooiing die fundamentele rede is vir dienslewering wat ineenstort en onbeheersde korrupsie waar ook al die ANC regeer. En hulle het ʼn reg om te weet dat die sleutel rede waarom die DA soveel meer doeltreffend is wat dienslewering en goeie regering betref as enige ander party in Suid-Afrika, is omdat ons bekwaamheid bo politiek stel, nie ʼn kaderontplooiingskomitee het nie en onverskrokke afsondering tussen party en staat handhaaf.

“As Ramaphosa niks het om weg te steek nie, dan sal hy beslis nie enige probleem hê om aan ons versoek te voldoen nie. Die DA sien uit daarna dat die president ons van die dokumente voorsien, sodat Suid-Afrikaners uiteindelik kan verstaan hoe dié bose beleid ons staat gekaap en korrup gemaak het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Jaco ·

Kaderontplooiing is maar dieselfde as die ou SA se lekker jobs wat vir Broederbonders gegee is. Die Broederbond was die geheime “think tank” agter die regerende Nasionale Party. Broeders is in sleutelposte in die onderwys, in die staatsdiens en in groot Afrikanerbesighede aangestel. Selfs die leiers van die drie Afrikaanse susterkerke was almal Broederbonders. Dis álles gedoen om “die Afrikanervolk” so deeglik as moontlik te beïnvloed om net vir die Nasionale Party te stem. Ek gee toe, bekwaamheid het daardie jare wel ‘n rol gespeel as Broeders lekker werk gekry het, maar daardie jare se beginsel van jobs vir politieke pêlle is maar dieselfde as die ANC se kaderontplooiing. “Hulle” van vandag het dit maar net by “ons” van die verlede geleer.

Boerkind ·

Dit is baie waar!! Ek kon as jong onderwyser nie ‘n pos kry nie – ek behoort aan die AGS kerk en op ELKE skoolraad het ‘n dominee van die NG kerk gesit… Maar, dankie Here, ‘n opregte dominee het my na ‘n onderhoud gebel en gesê hy “mag” nie anders nie… Toe het ek verstaan en die Here het my ‘n baie beter pad laat loop. Kyk net waar staan die NG kerk vandag…..

Jakes ·

Jy lewe in die verlede my vriend. Die huidige bestel in SA is duidelik deurspek met onbevoegde en kriminele elemente wat strek van bo na grondvlak toe. Hierdie regime is onbevoeg en sal altyd wees om enige nasie te regeer. Wat hulle wel baie goed doen is om n land oor die afgrond in te regeer.

KB ·

Die DA mors ons tyd (op papier klink dit wonderlik, maar in praktyk net mooi nul).

Stephanus ·

Hierdie kan interesant raak. Glo nie dat DA die samewerking van CR gaan kry nie en sal maar weer moet wag vir n hofgeding.

Boerkind ·

Het die spul geen integriteit nie?? Hoe bly hulle steeds in beheer met ‘n magdom van bewyse van totale onvermoë en doelbewuste korrupsie teen hulle? En dan praat ou CR in ‘n “staatsrede” teen korrupsie!!

Francois ·

Ag asseblief. DA probeer alles nou reg maak maar dit is te laat. Hulle sal niks van daai notules kry

Ou bees ·

Hulle vat maar baie lank om iets te probeer doen. Wat het hulle nou laat dink aan daai wet verkiesing miskien?

jzjz05 ·

Na jare Zuma speel vir jare nog kat en muis met SA en hy is nie baie slim nie, Ciril is slim dink net hoe lank gaan hy kat en muis speel.

Werner ·

DA gaan nou uit hulle pad om te probeer stemme werf.Al hulle hofsake en tantrums gaan niks help nie.Die dae van politieke oplossings vir die land se propleme het 27 jaar terug verskiet .Die Zuma debakel is maar net n bewys daarvan .Die land beweeg nou na gewelddadige oplossings toe.

Objektief ·

Net om Jaco te ondersteun:
Ek het in matriek n koopbewys by n boekwinkel gewen as deel van n prys in n vasvrae kompetisie en het “the Super Afrikaners ” gekoop.

Die klomp Broeders het die ANC na “amateurs” laat lyk.
En gooi nie die Bokryers weg nie

Ou bees ·

So omdat mense die verkeerde dinge gedoen het in die verlede nou moet dit maar weer gedoen word op n net groter skaal sonder kennis en net daar om geld te laat verdwyn?

Jaco ·

Peter Marais het iets soos 5 maande voor die 2019-verkiesing lid van die VF-Plus geword. Ná die verkiesing toe sit hy in die Wes-Kaapse Wetgewer. Dis ook mos maar kaderontplooiing en BEE en regstellende aksie, sommer so alles in een…

wim ·

Moesie het 3jaar voor die verkiesing van die ANC oorgeloop na die DA en toe party leier geword. Dit is hoe dit in die ANC-lite gedoen word.

Hennie J ·

Nou waarmee nog gaan die da hulle tyd mors, of is dit n nuwe truuk ter werwing van verlore stemme?

Boon ·

Jacob lewer geldige kommentaar. Hoekom so n versoek nou eers op die ANC bedien word, op iets wat al jare n oortreding van die,Grondwet is, wys dat die DA nou weer wakker geskrik het onder Steenhuisen. Alle opposiespartye behoort die aansoek sterk te ondersteun. Ter versagting moet vergeld word dat dirANC maar net doen wat doe ou NP al die jaregedoen het om.op ras te diskrimineer vir werkaansoeke.

Ou bees ·

So omdat mense die verkeerde dinge gedoen het in die verlede nou moet dit maar weer gedoen word op n net groter skaal sonder kennis en net daar om geld te laat verdwyn?

jzjz05 ·

Jy is misskien reg maar die ou NP het nie die land verwoes soos die ANC doen nie.

Jakes ·

Indien die berig wel waar is dat kaderontplooing in die ou SA deur Broederbonders gepleeg is dan beteken dit nie dat dit nou “cool” is vir die ANC om dit te doen nie, Daar is n reuse verskil tussen bevoegdheid en onbevoegdheid wat ook in sommige gevalle ongeletterdheid insluit. Die ANC is vrot van heelbo af tot onder op sy stert en hoop ek dat CR se skandes ook op die lappe gaan kom. Indien enige persoon die ANC se skandes goedpraat dan beskou hulle as volgelinge.

Jan ·

Die kader ontplooing het al in 2013 begin. As dit onwettig was, hoekom skrik die DA nou eers wakker. Hulle is altyd 10 jaar mostert na die maal. As hulle in 2013 na kader ontplooing gekyk het en ‘n groot geraas gemaak het, sou ons nooit staatskaping en swak munisipaliteite gehad het nie. So, die DA is net so skuldig aan hierdie staatskaping ens. as die ANC omdat hulle nie hulle bekke oopgemaak het nie. “The only way for EVIL to thrive is for GOOD MEN to stay SILENT”. Dit is presies wat die DA gedoen het en elke keer doen voordat dit te laat is . WAKKER word DA. Wees pro-aktief en nie re-aktief soos gewoonlik nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.