Paia-aansoek oor Nersa se Karpowership-besluit

Karpowership se skeepswerf in Yalova, Turkye. (Foto: Ozan KOSE/AFP)

Die Demokratiese Alliansie sê hy sal die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) gebruik om te sien hoe Nersa sy besluit oor kragskepe geneem het.

Nhlanhla Gumede, Nersa-lid verantwoordelik vir elektrisiteit, het op Radio 702 bevestig dat kragopwekkingslisensies aan Karpowership uitgereik is, ondanks die feit dat ʼn volledige stel van die vereiste dokumente, permitte en goedkeurings nie bekom is nie.

Kevin Mileham, die DA se skaduminister van minerale hulpbronne en energie, het gesê die DA vereis ʼn omvattende rekord van Nersa se besluit om dié lisensies toe te laat.

Maroela Media het vroeër berig Nersa het kragopwekkingslisensies aan Karpowership toegestaan om krag by drie plekke in Suid-Afrika op te wek. Karpowership, wat ʼn vloot kragskepe besit en bedryf, het lisensies bekom om by Saldanha, Coega en Richardsbaai krag op te wek.

“Artikel 10 van die Wet op Elektrisiteitsregulering bepaal duidelik dat die aansoek van ʼn voornemende applikant eers suksesvol kan wees indien die planne en vermoë van die applikant uiteengesit is wat betref nakoming aan arbeid-, gesondheid-, veiligheid- en omgewingswetgewing en ander wetlike vereistes. Nersa se eie bladsy met gereelde vrae oor kragopwekkingslisensies stel dit duidelik dat dit ʼn ondertekende kragaankope-kontrak (PPA) en rekords van die besluit moet bevat vir omgewingsgoedkeuring.”

Mileham sê Gumede het self per abuis bevestig dat Nersa versuim het om aan dié statutêre vereiste te voldoen. Die energiereguleerder het egter voortgegaan en kragopwekkingslisensies aan Karpowership toegeken selfs al was hy daarvan bewus dat die maatskappy nie omgewingsgoedkeuring, behoorlike permitte van die nasionale hawe-owerheid of kragaankope-kontrakte met Eskom bekom het nie.

“Nersa se optrede is ʼn oortreding van sy statutêre verpligtinge en indien inligting uit die Paia enige oortreding van regulatoriese prosesse onthul, moet alle reguleerders – wat deel was van hierdie besluit – aanspreeklik gehou word.”

Mileham sê dit is interessant en kommerwekkend dat reguleerders en die regering agteroor buig om seker te maak dat die Karpowership-ooreenkoms ten alle koste voortgaan. “Die uiters gebrekkige onafhanklike kragprodusenteverkrygingsprogram vir risikovermindering (RMIPPPP) moet nooit gebruik word as ʼn verskoning om Suid-Afrikaanse wette te oortree of aan Karpowership se behoefte te voldoen nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

JM ·

Die ANC-regering dink hulle het die reg om te maak en breek soos dit hulle pas. Wette geld nie vir hulle nie.

Kokerboom ·

Ek skud my kop in ongeloof. Die onderbou van die ANC en AL sy verrotte instellings en kaders is bedrog, geldgierigheid, verkragting van ALLE reëls , wette en regulasies, kaderbevoorregting, diefstal, vernietiging val ALLE etiese norme en waardes en so kan ons aangaan en… waaragtig dit gaan net voort!!!!Wie gaan die trein van vernietiging stop? Jan Alleman is moeg, siek , gatvol, moedeloos en erg negatief!

Grassie ·

Die regerigsmense buig gewoonlik nie agteroor soos die berig sê nie, hulle hou ‘n bakhand onder die tafel. Wat daarin beland bepaal hul besluit.

Chris dupreez ·

Onthou, die anc is bankrot. Watse voordele hou hierdie kragskepe vir hulle in. Wonder net, dalk n Randjie of twee.?

Strandloper ·

Wonder hoeveel nuwe kader miljoeners is in die paket?

Nonnie ·

Gaan kyk maar net wie se bankrek. bult weer…… SKELM GEMORS!!!!!!

Martie Smartie ·

KORRUPSIE. En Cyrrrillll wil ons almal laat verstaan dis iets vd verlede. Ha ha ha

annie ·

Sien? Die DAda’s is oa ok bekommerd oor die omgewingsrisiko’s van dié krag-tige skepe wat baas sal speel oor die omgewing, see en land, en dan betaal ons hulle ook nog om oor te vat. Om eers ná die morsjors-skepe geparkeer het te begin kla is te laat…

Jack ·

Almal weet wie die proses begin het en die minister van energiesake word nou beskerm en moet ten alle koste die korrupsie wat begin is volhou. Die president is net n orale akteur en aksies wat geneem word is slegs teen sy politieke vyande. Die res korruptes word beskerm. Jammer dat anc beloftes nog nooit gerealiseer het nie en die ondergang van die groep is op pad. Ons sal moet stem om die ander wat reeds oor die draad loer uit te hou want hulle is maar dieselfde soort.

Bertie ·

Daar is weer ‘n klomp geld vir sekere mense onder die tafel gegee. Volg die geldspoor!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.