Paia-aansoek oor NGV gebring

Argieffoto (Foto: StockSnap, Pixabay)

Solidariteit het Maandag aangekondig dat hy ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) ʼn aansoek loods in verband met die omstrede opmerkings van die adjunk- direkteur-generaal van die departement van gesondheid, dr. Nicolas Crisp. Dit volg nadat Crisp op 30 Augustus gesê het dat die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) teen die einde van die jaar in werking sal tree.

Solidariteit het na aanleiding van die kommentaar ʼn regskrywe in September vanjaar aan dr. Crisp gerig, maar hy het nie daarop gereageer nie. Volgens Solidariteit is die organisasie dus genoodsaak om strenger stappe te doen omdat dit reuse-onsekerheid by sy lede in die gesondheidsektor en elders veroorsaak.

“Dit is uiters onverantwoordelik van ʼn staatsamptenaar om sulke uitlatings te maak terwyl ons nog midde-in ʼn openbare deelnameproses is. Dit dui daarop dat die regering hierdie prosesse minag en bloot probeer om hierdie beleide deur te stoomroller,” sê Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI). “Boonop het ons geen inligting met betrekking tot wat hierdie implementering van die NGV beteken nie. Wat beteken dit vir lede van mediese fondse? Wat beteken dit vir gesondheidswerkers? Hoe verskil dit van die huidige toedrag van sake? Die departement het doodeenvoudig geen aanduiding gegee wat dit vir Suid-Afrikaners beteken nie, ten spyte van die feit dat gesondheid iets is wat elke liewe persoon direk raak.”

Solidariteit voer verder aan dat navorsing deur die SNI alreeds gedui het op wesenlike tekortkominge in die voorgestelde stelsels.

“Meer as 85% van die gesondheidswerkers wat aan ʼn studie van die SNI deelgeneem het, het aangedui dat die implementering van die NGV daartoe sal lei dat gesondheidswerkers die land sal verlaat. Suid-Afrika sal dus met ʼn tekort aan mediese personeel gelaat word, wat impliseer dat kwaliteit- en spesialisgesondheidsdienste bitter skaars sal wees. Dr. Crisp het geen inligting verskaf oor wat vir mediese spesialiste gaan verander nie, en dit verhoog onsekerheid,” sê Mulder.

“Volgens ons berekeninge gaan die NGV Suid-Afrika met ʼn tekort van R112 miljard laat. Suid-Afrika kan dit doodeenvoudig nie bekostig nie, tog is daar ʼn dawerende stilte van die regering af oor hoe die NGV spesifiek befonds gaan word. Die geld kan nie geleen word nie, wat impliseer burgers kyk na hoër belastings en ʼn staat wat stilbly oor waar en hoe jy meer belasting gaan betaal.”

Mulder meen die NGV sal Suid-Afrika ʼn sieker en ʼn armer land maak. “Die feit dat dr. Crisp dink die regering kan sulke skadelike en omstrede wetgewing bloot instel ten spyte van insette, terugvoer en logika is uiters onrusbarend. Die stilte oor hierdie wetgewing se spesifieke besonderhede dui daarop dat die regering die publiek minag. Dit impliseer dat die regering dink hulle gaan die publiek hier om die bos lei, en dan een Sondagaand die NGV net ‘with immediate effect’ implementeer. Ons sal dit nie duld nie. Ons eis antwoorde oor die toekoms van gesondheid en ons sal die regering dwing om hierdie antwoorde te verstrek.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
JM

Hierdie land kan maar sy ligte afsit.

Pablo

Dr Muller, die naam is Kommunisme. Dit het tyd geraak dat jy wakker skrik

Dirk Mostert

Ek het buitendien nie meer vertroue in ons medici en hospitale nie. My mediese fonds bydraes gaan in ‘n bodemlose put. As die NGV ingestel word kan ek netsowel Discovery groet.

Nie Verbaas

Nog n ANC gedrewe projek met geen kans op oorlewing nie.

Althes

Gegewe dat daar reeds ñ openbare gesondheidsektor bestaan, waarom is dit nodig om die NVG in ons kele af te druk?
Party openbare dienslewering is goed, ander uiters swak.
Gaan die hele Suid Afrikaanse burgers ñ verlies aan inkomste hê omdat hul ñ hele dag hul beurt moet afwag vir ñ mediese praktisyn se dienste?