Paia-aansoek oor Sitole se ‘goue handdruk’ gebring  

khehla-sitole

Genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris. (Foto: Phando Jikelo/ANA)

Die publiek het die reg om te weet hoekom genl. Khehla Sitole se dienskontrak as nasionale polisiekommissaris vroeër beëindig is, en wat sy “goue handdruk” behels.

Andrew Whitfield, DA-woordvoerder oor polisie, sê dit is om dié rede dat sy party ʼn aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) ingedien het om dié inligting te bekom.

Die presidensie het Vrydag bekend gemaak dat pres. Cyril Ramaphosa en Sitole ooreengekom dat die vroeë beëindiging van sy kontrak in die beste belang van die land is. Sitole se dienskontrak kom op 31 Maart tot ’n einde.

Sitole en Bheki Cele, minister van polisie, het verlede maand ’n bittere stryd in die openbare oog gevoer. Cele het die kommissaris daarvan beskuldig dat hy met die leier van die EFF, Julius Malema, saamgesweer het om hom uit die kussings te lig.

Regter Norman Davis het in Januarie 2021 in ʼn verdoemende uitspraak bevind dat Sitole sy plig as polisiehoof versaak het. Dit nadat die ondersoekdirektoraat van die Nasionale Vervolgingsgesag Sitole ondersoek het rakende die verkryging van ʼn selfoonseinonderskepper voor die ANC se 2017 Nasrec-konferensie.

Ramaphosa het in Oktober ʼn kennisgewing van voorneme om te skors op Sitole laat bedien. “Tot op hede was daar geen ondersoek en geen verdere optrede ten opsigte van daardie kennisgewing nie,” sê Whitfield.

“As die president werklik in die beste belang van die land opgetree het, sou hy die einste dissiplinêre proses gevolg het waarmee hy begin het om Sitole te skors en uiteindelik sy kontrak te beëindig. Afgesien daarvan dat dit die regte ding was om te doen, sou dit geen bykomende koste vir die belastingbetaler meegebring het nie en sou dit duidelik gemaak het of Sitole wel versuim het om sy pligte uit te voer.”

In plaas daarvan gaan Sitole met ʼn “goue handdruk” op die belastingbetalers se onkoste die polisie verlaat, voer Whitfield aan.

“Dit is in die belang van die land om te weet hoekom Sitole ʼn goue handdruk gegee is en wat al die besonderhede is wat met hierdie transaksie verband hou. Dit kan nie onder die mat ingevee word nie.”

Volgens Whitfield sal die DA hom aanhou beywer vir deursigtigheid oor hierdie aangeleentheid sodat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) herbou kan word op ’n grondslag van vertroue en nie verskuilde agendas nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Marius ·

Die aanstelling van onbevoegde kaders kos die land miljarde.

Pietertjie ·

Net die feit dat hy as kommissaris aangestel was, was al ‘n goue handdruk.

Kokerboom ·

Die nuttelose onbevoegde kader verdien NIKS. Sy aanstelling en rang was reeds onregmatig. STOP die diefstal van belastingbetalersgeld.Die President tree uiters slapgattig op!

Dirk ·

En daar gaan ons hardwerkende mense in die land se geld weer vir gemors..

Jacobus ·

Goue handdruk is smmer twak. Na derig jaar in senior posisie by maatskappy is ek met pensieon. My pensioen is wat voorgeskryf is. Hierdie vergoeding van miljoene vir useless kaders se vrugtelose diens is ń skreiende skande, daar buite loop nou miljoenêrs rond wat eintlik selle verdien!

anniekiewiet ·

Ek sou graag wou luister of hulle mekaar afgedreig het oor geraamtes in die kas.

gpsa ·

Dankie DA. Hoop julle kan hierdie onreelmatigheid ontblood en stop.

Saartjievandiebosveld ·

Hy het nie sy werk gedoen nie….hoekom moet hy ‘n goue handdruk kry…as ek nie my werk behoorlik doen nie…word ek afgedank. Wat is hy beter as ek….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.