Pakhuis-brand steeds nie geblus

Die brand nadat die Vrydag uitgebreek het. Foto: Byron du Bois / dbphotography

Brandbestryders spook steeds sedert Vrydagoggend onverpoos om die reuse brand in ʼn Transnet-pakhuis by die Durbanse hawe te blus.

“Die brand is onder beheer en word al hoe kleiner. Die brandweer is tevrede met die vordering tot dusver en gaan nog vir ʼn lang ruk hier wees. Daar is nog dele van die pakhuis wat aan die brand is en ʼn digte rookwolk hang nog in die lug,” het Garrith Jamieson, woordvoerder van Rescue Care, Sondag aan Maroela Media gesê.

Buiten twee mense, ʼn Transnet-werker en brandbestryder, wat Vrydag geringe brandwonde opgedoen het, moes paramedici van Rescue Care Saterdagaand nog ʼn brandweerman behandel.

“Die beampte is vir rookinaseming en ontwatering behandel en na ʼn nabygeleë hospitaal geneem. Buiten die drie beserings is geen ander beserings aangemeld nie.”

Maroela Media het vroeër berig mense in ondernemings rondom die pakhuis, langs Southcoastweg in Rossburgh, moes Vrydagaand die gebied ontruim. Sommige paaie was ook gesluit om verkeersprobleme weens die rook te vermy, maar is intussen weer oopgestel. Die brand het Vrydagoggend uitgebreek en is deur stormsterk wind aangedryf,maar was teen Saterdag grootliks onder beheer.

Jamieson het gesê volgens brandbestryders was dié brand een van die grootstes wat hulle nog ooit moes beveg. Die pakhuis van nagenoeg 200 000 m² is byna heeltemal verwoes. Kunsmis en chemikalieë is onder meer daar gehou.

Intussen het die eThekwini-munisipaliteit inwoners van Rossburgh versoek om in hul huise en uit die pad van die rook te bly. Die munisipaliteit het in ʼn verklaring gesê brandbestryers is vol vertroue dat die brand tot ʼn sekere gedeelte van die pakhuis beperk is, wat reeds vernietig is.

Die KwaZulu-Natalse departement van omgewingsake het gesê daar is geen bewyse dat die rook skadelik is nie.

Dit is nog onduidelik hoe die brand ontstaan het. ʼn Behoorlike ondersoek sal gedoen word sodra die toneel veilig verklaar is. Klik hier vir meer foto’s van die brand.

Die brand teen Sondagoggend. Foto: Rescue Care

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johann ·

As die rook nie giftig is nie, waarom die mense verwyder in die omgewing, volgens my kennis is die gasse wat hier vrygestel word nie net gevaarlik nie, maar van die dodelikste gasse wat ou kry, lw. Giftig!!!

Susan ·

Almal kla net Altyd. Wat van Dankie Julle brandweer mane wat so onverpoos werk om die brand te blus. Dankie dat julle toegewyd is om tot die bitter einde te werk en nie net moet opgee nie. Jammer aan al die mense wat brand wonde opgedoen het. ?

Gerrit ·

Susan, word jy elke dag by jou werk bedank deur jou baas omdat jy jou werk doen ?

Brandweerpersoneel is nie vrywilligers nie, dis hul werk .

Cherokee ·

Dankie dat jy dit uitwys, Gerrit. Sy dog dit is ‘n welsynsdiens.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.