Pakistani vas oor tien se ontvoering in Polokwane

Die polisie het die tien mans die afgelope week gered. Hulle was ongedeerd. (Foto: SA Polisie)

ʼn Pakistanse man wat glo verlede maand die baasbrein agter die ontvoering van tien buitelanders in Polokwane was, bly voorlopig agter tralies.

Lt.kol. Robert Netshiunda, polisiewoordvoerder, sê die tien buitelanders was op 26 Januarie op die N1 van Musina in Limpopo op pad, toe ʼn ander voertuig hulle voorgekeer het. “Die slagoffers is glo in ʼn voertuig gelaai en na Polokwane geneem waar hulle glo naby die Peter Mokaba-stadion aan die verdagte oorhandig is,” sê hy.

Dilpazeer Azam (39), is Sondag in Centurion aangekeer in ʼn intelligensiegedrewe operasie wat bestaan het uit lede van die misdaadintelligensie-eenheid, die eenheid vir georganiseerde misdaad, die honde-eenheid, gyselaaronderhandelaars, die Ekurhuleni-metropolisie en verskeie private veiligheidsmaatskappye.

Donderdag het die ondersoekspan, nadat leidrade opgevolg is, toegeslaan op ʼn lodge in Bruma in Johannesburg, waar die tien slagoffers gered is. Hulle was ongedeerd.

Azam het reeds in die Polokwane-landdroshof verskyn, waar die saak teen hom tot volgende week uitgestel is. Hy sal na verwagting dan aansoek doen om borgtog.

“Die polisie se ondersoek duur voort en nog inhegtenisnemings is op hande,” sê Netshiunda.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Frank John

Sal graag wil weet wat die rede is agter dié ontvoering.

domheks

Mense handel? Seks slawe? Hoop ons vind uit.

ES

Al wat ek sien is jeans en plakkies… baie bly die mans is gered.