Palmietvlei-vliegongeluk: Name bekend

Die ongelukstoneel. Foto: Verskaf/SAPD

Die ongelukstoneel. Foto: Verskaf/SAPD

Die twee vroue wat Woensdag dood is in die vliegtuigongeluk in die Palmietvlei-omgewing in die Oos-Kaap, se name is bekend gemaak.

Ao. Gerda Swart, woordvoerder van die polisie, het gesê die oorledenes is Aurora van den Bergh (54) en Elicia Morrison (75). Maroela Media het vroeër berig ʼn 50-jarige man, vermoedelik die vlieënier, is kritiek beseer toe ʼn ligte vliegtuig in ʼn berg vasgevlieg het. ’n Jack Russell-terriër wat saam gevlieg het, het ook die ongeluk oorleef.

Die Cessna 186-vliegtuig het vroeër vanaf die Wonderboom-lughawe in Pretoria vertrek, by Graaff-Reinet in die Oos-Kaap brandstof ingegooi en nooit by sy eindbestemming by die Plettenbergbaai-lughawe opgedaag nie.

Die Lugvaart-soek-en-reddingskoördineringsentrum (ARCC) het beheer oor die soektog oorgeneem. Verskeie helikopters en ʼn private vlieënier in sy eie vliegtuig het aan die soektog deelgeneem terwyl die brandweer, polisie en verskeie ambulansdienste na die omgewing ontbied is.

Die vliegtuig se wrak is uiteindelik deur ʼn helikopter teen ʼn berghang naby die Oesterbaai-afrit op die N2-snelweg opgespoor . NSRI-reddingswerkers moes van die naaste pad na die ongelukstoneel stap en paramedici is later met ʼn helikopter na die toneel geneem.

Die man is op die toneel gestabiliseer en met ʼn helikopter na ʼn hospitaal in Port Elizabeth geneem. ’n Polisiebeampte het na die hond omgesien en aan die oorledenes se familie oorhandig.

Die twee vroue was reeds dood toe paramedici by die toneel opdaag. Hulle is op die toneel dood verklaar en hul liggame moes uit die wrak gesny word. Die Burgerlugvaartowerheid ondersoek die voorval.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Hendrik Swanepoel ·

Hierdie berig skiet tekort.
Was die twee vroue verwant en wat was hulle verwantskap met die vlieënier?
Wat is die toestand van die vlieënier? Ons weet net dat hy “kritiek beseer” is, maar twee dae later moet daar meer inligting wees.
Wonderlik dat die Polisiebeampte na die Jack Russel omgesien het.

Dankbaar ·

Arme Jack Russel!! Moes baie tramaties vir hom gewees het!!

Sonra ·

Wie doen die meganiese onderhoud op hierdie ligte vliegtuigies? Deesdae val dit EN helikopters uit die lug uit soos vlieë?

Dee ·

Jy oordryf verskriklik Sonra. Vliegongelukke is steeds raar en dit bly die veiligste manier van vervoer.
In antwoord op jou vraag, (en dit ondermeer is wat vlieg so veilig maak), ‘n motorvoertuig bly as padwaardig beskou al val die wiele af en die ligte uit. Dit bly padwaardig tesy dit amptelik as nie-padwaardig verklaar word. Jy kan nie met ‘n kar ry en vlieg as onveilig beskou nie!

In teenstelling daarmee moet ‘n vliegtuig se lugwaardigheidslisensie periodiek hernu word deur bevoegde instellings wat gewoonlik gevestig is by vliegvelde en lughawens.

Dee ·

En om uit te brei op my vorige stelling en steeds in antwoord op jou vraag oor ‘meganiese onderhoud’, dit is in ‘n absolute minimale persentasie ongelukke dat die oorsaak na meganiese probleme aan die romp van die vliegtuig te wyte is. Dan is ek sommer lus om jou te wakker te skud met die volgende stelling: In dekades se vliegervaring weet ek van *byna geen vliegtuie wat geval het nie. Vliegtuie val eenvoudig nie behalwe in uiters seldsame insidente waar die rede *gewoonlik steeds na die vlieënier verwys kan word. Hier sê die berigskrywer vir jou in baie goeie Afrikaans dat die vliegtuig in ‘n berg vasgevlieg het maar steeds dink jy dat dit ‘geval’ het.

Charlen ·

Ek sou ook meer inligting wou hê maar dis so hartseer van die 2 vroue wat so net voor kersfees omgekom het. Tragies, sterkte aan die familie. En hoop die vlieenier word ook gou gesond. Maar hulle noem ook nie saam wie die woef gevlieg het nie, was hy saam die vroue, en indien wel wat word nou van hom en wie sien nou na hom om. As dit die vlieenier se woef is, is daar iemand wat tans na hom kyk. Die arme woef en sooo bly hy is ok. Toe ek die woeffie daar sien toe huil ek sommer nog voor ek gelees het.

Magdas ·

Jammer ek het weer gekyk Hy is links op die voorgrond wit met bruin kolle

phillip ·

Mense, word groot. Magtig man, 2 vrouens het ontkom. Hulle gesinne gebroke en stukkend, en n 3e mag dit dalk nie oorleef nie. Wat het van ONS empatie/simpatie geword? Het ons so gewoond geraak aan dood, dat ons die punt nou heeltemal mis?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.