Pampoenkraal-8: Hooggeregshof staan borgtog toe

Die landdroshof in Piet Retief, Mpumalanga. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Die agt mans wat aangekla word van die twee moorde wat in Augustus verlede jaar op die plaas Pampoenkraal in die omgewing van Piet Retief in Mpumalanga gepleeg is, is borgtog toegestaan nadat hulle hul tot die hooggeregshof gewend het.

Die hooggeregshof in Middelburg het Cornelius Lourens Greyling, Werner Potgieter, Zenzele Mzikayise Patric Yende, Eliot Dlamini, Moses Dlamini, Sikhumbuzo Zikalala, Mzwakhe Dlamini en Nkosinathi Msibi borgtog van R10 000 elk toegestaan.

Die uitspraak is Woensdag elektronies gelewer nadat landdros Dumisani Nxumalo verlede maand borgtog in die Piet Retief-landdroshof geweier het.

Die agt mans staan tereg op aanklag van moord, poging tot moord, ontvoering en regsverydeling nadat Sifiso Joseph Thwala, Musa France Nene en Christopher Sthembiso Thwala op 9 Augustus verlede jaar na bewering op Pampoenkraal aangerand is.

Sifiso Joseph Thwala en Nene is weens die aanranding dood terwyl Christopher Sthembiso Thwala die voorval oorleef het.

Landdros Dumisani Nxumalo het verlede maand bevind dat die beskuldigdes se vrylating die publiek se vertroue in die regstelsel sou ondermyn aangesien vier mense binne agt maande op Pampoenkraal dood is, die beskuldigdes moontlik die staatsgetuies sou beïnvloed en intimideer en dat sommige van die beskuldigdes ’n vlugrisiko inhou.

Dít nadat die beskuldigdes Yende, Mzwakhe Dlamini en Moses Dlamini glo aanvanklik van die polisie weggehardloop het voordat hulle in hegtenis geneem is.

Die hooggeregshof het egter nou bevind dat Nxumalo in die aanvanklike borgtoguitspraak nie genoeg staatgemaak het nie op ander relevante faktore soos die alibi wat geopper is, die vermoede van onskuld, die gebrek aan bewyse en die bande wat al die beskuldigdes in Mpumalanga het en wat hulle in dié provinsie hou.

Luidens regter J Mtimunye se uitspraak, het Nxumalo nie sy diskresie op ʼn geregtelike wyse uitgeoefen nie en die besluit om borgtog te weier “was dus duidelik verkeerd”.

“Dit blyk duidelik uit die rekord dat die landdros nie in ag geneem het dat die ander moorde ná hierdie saak gepleeg is nie, dat sommige van die [beskuldigdes] ʼn alibi geopper het wat nie opgevolg is deur die ondersoekbeampte nie en dat die landdros slegs op die getuienis van die staatsgetuies en die oorlewende se getuienis [wat nog nie gekruisondervra is] staatgemaak het.”

Mtimunye sê voorts die persoonlike omstandighede van al die beskuldigdes soos vervat in hul onderskeie beëdigde verklarings is boonop buite rekening gelaat.

Borgtog is nou toegestaan op voorwaarde dat die beskuldigdes nie Mpumalanga verlaat totdat die saak afgehandel is nie, alle hofverrigtinge bywoon totdat die saak afgehandel is of hulle deur die hof verskoon word en hul reisdokumentasie inhandig.

Maroela Media het vroeër berig Greyling, Potgieter en Yende staan in ’n afsonderlike saak tereg op die moord op die broers Mgcini Amos Coka en Zenzele Coka.

Die broers is op 9 April vanjaar op Pampoenkraal doodgeskiet nadat ʼn groep betogers dié betrokke dag plaaswerkers geïntimideer en aangerand het, na bewering om te verhoed dat hulle hul werk doen.

Die betogers het glo aggressief voorgekom en het boere wat op die toneel gereageer het met onder meer stokke aangeval. Verskeie boere is ook in die voorval beseer.

Die beskuldigdes in dié saak is tans op borgtog en moet weer op 23 Julie in die landdroshof op eMkhondo (Piet Retief) verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

ES ·

Die regter het meer omgegee oor wat die publiek se opinie is as oor geregtigheid, hy was dus nie onpartydig, soos wat regters behoort te wees nie. Onbekwaam vir sy pos.

Hierdie mans het hulself beskerm, en hulle behoort nie eers soveel te moet betaal vir borgtog nie.

LANA is ELANè ·

Dit is goeie nuus, en nou kan ons net hoop dat geregtigheid hier sal seëvier en dat dit nie politieke inmenging is wat gaan maak dat die mans nie regverdig gehoor of verhoor, sal word nie.

Pietertjie ·

Die Regter het myns insiens reg opgetree deur onpartydig na die saak te kyk. Dis die landdros wat duidelik maar sy klasgeld moet gaan terugvra. En selfs die ondersoekbeamptes se werk ruik na vooroordeel en agterlosigheid.

marius ·

Borgtog sal die publiek se vertroue in die regstelsel ondermyn ? Waar kom hy daaraan ?

Anoniem ·

Bid en Glo dat geregtigheid sal geskied en hierdie mans onskuldig bevind word. Vandag word kriminele mos vrygelaat en onskuldige mense ry aan die pen

Jakes ·

Die regter het die landros se uitspraak wat borgtog oorspronklik geweier het, omgekeer. Weereens moet daar vra gevra word oor sommige foute wat regslui maak tydens belangrike hofsake.

gatgogga ·

Ja, en sulke dinge gebeur nou te gereeld.
Onthou nog landros Hendricks se onregverdige verooldeling van wit beskuldigdes na die sogenaamde bakkie-moord ?

Pieter J ·

Ek kry die idee dat die ondersoekers besig is om die feite te verdraai sodat hierdie ouens skuldig bevind moet word. Hoop hulle het baie goeie regsverteenwoordigers en iemand wat namens hulle die saak kan ondersoek en die regte feite en bewyse op die tafel kan plaas.

SomeOne ·

waarom moet daar na ‘n hooggergshof of apel hof toe gegaan word om ‘n saak op te los, omdat die gewone hof se regters/landdroste bevooroordeeld is
dit kos geld en ‘n vermorsing van baie tyd
geen wonder sake draai vir jare want hulle speel speletjies

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.