Die vyf mans wat van die broers Mgcini Amos Coka en Zenzele Coka se moord op die plaas Pampoenkraal in Mpumalanga aangekla word, is dié naweek terug by die huis.
Borgtog van R10 000 elk is Vrydag in die Piet Retief-landdroshof aan Daniel Cornelis Malan (38), Cornelius Lourens Greyling (25), Othard Johann Klingenberg (53), Ignatius Michael Steynberg (31) en Zenzele Mzikayise Patric Yende (48) toegestaan.
Volgens landdros Sam Fankomo is daar geen gronde wat daarop dui dat die beskuldigdes met ’n gemeenskaplike doel opgetree het toe hulle op 9 April na Pampoenkraal – in die omgewing van Dirkiesdorp – is om plaaswerkers by te staan wat na bewering deur ’n groep betogers geïntimideer en aangerand is nie.
Die aanklagte teen die mans – dit sluit in moord, poging tot moord, ontvoering en regsverydeling – kan dus nie as sogenaamde skedule 6-misdrywe geklassifiseer word soos die staat aangevoer het nie, maar eerder as skedule 5, het Fankomo gesê.
Die landdros het wel die gebeure op Pampoenkraal as “betreurenswaardig” en “onnodig ” bestempel en gesê die gebeure het tot die ontydige verlies van twee lewens gelei.

Mense luister buite die landdroshof na ‘n aankondiging oor die besluit oor borgtog. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)
Fankomo het voorts bevind ʼn “gebrek aan selfbeheersing ” het dié noodlottige dag op Pampoenkraal geheers en dat die polisie traag was om op die toneel te reageer.
Volgens Fankomo is die hof daarvan bewus dat die polisie nie vinnig genoeg op die betrokke dag gereageer het nie en dat sommige staatsgetuies ongeloofwaardig is. Hy het wel bevind dat die staat ten spyte hiervan steeds ’n sterk saak teen die beskuldigdes het.
Die saak is vanoggend voorlopig tot 30 Junie uitgestel. Een van die mans se borgtogvoorwaardes is dat hulle nie die saak met hul werkers mag bespreek nie.
Polisiebeamptes het vroeër vandag met skilde gereed gestaan en wag gehou oor lede van die publiek wat in die openbare galery na Fankomo se uitspraak geluister het.
Malan, Greyling, Klingenberg, Steynberg en Yende was sigbaar verlig ná die uitpraak en het hul regsverteenwoordigers met ’n handdruk bedank voordat hulle die hofsaal verlaat het.
Die uitspraak is kort daarna oor ’n luidspreker aan woedende betogers buite die hof aangekondig. Sommige betogers het die dorp daarna begin verlaat.

Mense luister buite die landdroshof na ‘n aankondiging oor die besluit oor borgtog. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)
Fankomo het in sy uitspraak gesê dit is in die belang van geregtigheid dat borgtog aan die beskuldigdes toegestaan word en dat die hof hom nie bemoei met publieke mening nie.
Lees al Maroela Media se vorige berigte rakende die saak hier.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
16 Kommentare
R10 000 regtig! Our people kry borg vir R500 indien hul nie blank is nie pffft! Hierdie reëls maak naar verby.
Intussen loop die klomp leuenaars lekker rond daar buite tsssk. SAPS se swak reaksie is pateties verby om die minste te sê van die onbevoegde klomp
Ek is dankbaar dat die publiek en sosiale media vir ‘n slag ignoreer is!
Net regverdig en bly saam die mans en hulle onderskeie families.
Nou moet al daai “betogers” terug gaan na hulle onderskeie huise en dorpe. Wonder hoeveel het hulle werk en heenkome verloor in die laaste 2 weke wat net daar was om amok te saai?
n Landros wat sy sout werd is , en nie luister na die gepeupel.
Ek glo God se hand sal hierdie manne en hul families beskerm en ek vra God om dit wel te doen.
Hierdie absolute ongeregtigheid wat hier afspeel voor almal se oë, terwyl daar geswyg word in alle tale oor die feit dat die polisie, aanklaers en howe blykbaar deesdae ideologie in plaas van geregtigheid na jaag.