Pampoenkraal: Getuienis oor aanranding in twyfel getrek

Die Pampoenkraal-beskuldigdes van links: Daniel Cornelius Malan, Cornelius Lourens Greyling, Othard Johan Klingenberg, Ignatius Michael Steynberg, Zenzele Mzikayise Patrick Yende, Andries Pienaar en Werner Potgieter (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Die verdediging in die opspraakwekkende Pampoenkraal-saak het Nhlanhla William Hlatshwayo se getuienis Maandag bevraagteken aangesien dit “dramaties verskil” van die verklaring wat hy in 2021 by die polisie afgelê het.

Só het adv. Jaap Cilliers van die verdediging in die landdroshof in Evander, Mpumalanga, tydens die kruisondervraging van Hlatshwayo aangevoer. Hlatshwayo het Maandag in die hof met ʼn buff oor sy gesig getrek sy plek in die getuiebank ingeneem en het senuagtig die vrae beantwoord.

Hlatshwayo was deel van ʼn groep voormalige plaaswerkers wat op 9 April op die plaas Pampoenkraal in die omgewing van Piet Retief opgedaag en die huidige plaaswerkers verjaag het.

Volgens Cilliers is Hlatshwayo nie eerlik met die hof nie en het hy en die res van die groep die dag op die plaas opgedaag om “doelbewus te probeer om ʼn situasie (moontlik polities gedrewe) te skep, wat tot die tragiese skietdood van Mgcini en Zenzele Coka” gelei het.

Daniel Malan, Cornelius Greyling, Othard Klingenberg, Ignatius Steynberg, Zenzele Patrick Yende, Andries Pienaar en Werner Potgieter het Maandag in dié hof verskyn en staan tereg op die moord van die twee broers.

Die staat voer aan Potgieter, Greyling en Yende het Hlatshwayo aangerand, terwyl die verdediging dit ontken. Die verdediging getuig Hlatshwayo het vir Potgieter met ʼn stok oor die kop geslaan, waarna hulle hom in burgerlike arres geplaas het.

Die verdediging het in die hof beklemtoon dat Hlatshwayo in burgerlike arres geplaas is weens die “onwettige aanval” op Potgieter.

Hlatshwayo het hom egter vir die verdediging vervies en ontken dat hy enigiemand aangerand het.

Hlatshwayo se getuienis in hof

Cornelius Lourens Greyling, Othard Johan Klingenberg (links) en Ignatius Michael Steynberg, , Andries Pienaar en Werner Potgieter (regs) (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Hlatshwayo het vandag getuig dat hy en sowat ses ander voormalige plaaswerkers die betrokke dag na Pampoenkraal is om vir Potgieter te vra vir werk. Die plaas is in ’n trust, met Greyling en Werner Potgieter die trustees.

Hlatshwayo woon sy lewe lank al op dié plaas en het tussen 2000 en 2020 as plaaswerker op die plaas gewerk.

Dit het tydens die staatsgetuie Siyabonga Hlatshwayo se getuienis verlede week uitgekom dat die groep ontevrede was dat werkers van buite die omgewing aangestel is. Siyabonga was saam met Hlatshwayo deel van dié groep.

Volgens Siyabonga se getuienis het hulle die betrokke dag na die huidige werkers gegaan en gevra hulle moet hul werk staak. In ’n video wat in die hof gewys is, is dit duidelik hoe van die groep mans dan saam met sowat tien werkers die plaas verlaat.

Luidens vorige getuienis het die groep mans in die veld naby die plaashek “gesit en op Potgieter en Greyling se koms gewag”.

Hlatshwayo het getuig Potgieter en Greyling het ʼn ruk daarna in twee verskillende voertuie by die plaas opgedaag, gevolg deur nog boere wat in ʼn sirkel rondom die groep mans gaan staan het. Volgens die getuie was die boere “gewapen met groot gewere”.

Die verdediging sê wel dat die boere nie swaar gewapen was nie en ʼn paar vuurwapens in hul besit gehad het. Daar is aangevoer dat Greyling te voet op die plaas opgedaag het en nie in ʼn voertuig soos Hlatshwayo getuig het nie.

“Potgieter het vir ons gevra wat ons op die plaas soek en waarom ons sy werkers pla. Ek het geantwoord dat ons hier is vir werk, waarna hy gesê het ek praat nonsens. Ek was verras toe hy (Potgieter) die volgende oomblik my van agter teen my rug skop. ʼn Geweerskoot het gevolg. Die groep het daarna almal in verskillende rigtings laat spaander. Ek het na die plaashek gehardloop,” het Hlatshwayo aangevoer.

Hlatshwayo het verder getuig dat hy by die plaashek ʼn  wit voertuig “met ʼn wit man” teëgekom het. Die voertuig se deur het oopgegaan en volgens Hlatshwayo hom teen die bors getref.

“Yende en Potgieter het my toe gevang en my hande agter my rug met kabelbinders vasgemaak. Potgieter het my toe aan die bors gegryp en op die grond gegooi. Terwyl ek op die grond op my rug gelê het, het hy (Potgieter) bo-op my maag kom sit en my verskeie kere met die vuis op die neus en mond geslaan.

“Daarna het Yende my met ʼn stok teen die kant van kop geslaan. Hy het my ook met pepersproei in die oë gespuit, terwyl Potgieter my verder aangerand het. Greyling het ook my genader en met sy stewels teen die kop geskop. Daarna het hulle my onder ʼn boom getrek en daar gelos. Ek was toe baie deurmekaar. Ek het wel geweerskote in die verte gehoor.”

Teenstrydighede

Volgens Cilliers is daar in Hlatshwayo se aanvanklike beëdigde verklaring aan die polisie geen aanduiding dat Potgieter hom geskop en met die vuis geslaan het of dat Greyling hom aangerand het nie.

Hlatshwayo hou egter vol hy hét dié inligting aan die polisie deurgegee en dat hulle dit dalk op die verklaring uitgelaat het. Cilliers het hierop gevra of Hlatshwayo dan aanvoer “dat die polisie met opset inligting op die verklaring uitgelaat het”.

Hlatshwayo het ook in sy verklaring aangedui dat Potgieter hom in die veld aan sy klere gegryp en neergegooi het, maar het dié inligting egter nie in die hof genoem nie, het Cilliers daarop gewys.

In sy verklaring aan die polisie het Hlatshwayo gesê Yende het hom met ʼn sambok geslaan, terwyl hy in die hof getuig het hy met ʼn stok geslaan is. Op Cilliers se vraag aan Hlatshwayo oor waarom hy nou ʼn ander deuntjie sing, het hy gesê dat hy nie geskool is om ʼn stok van ʼn sambok te onderskei nie.

“Is jy ernstig? ʼn Mens hoef nie geskool te wees om die verskil tussen ʼn stok en sambok te weet nie,” het Cilliers op sy antwoord gereageer.

In ʼn mediese verslag wat by die hof ingedien is, dui adv. Marius van Zyl van die verdediging daarop dat Hlatshwayo se mediese ondersoek bepaal het dat hy geen beserings aan sy neus opgedoen het nie. Die verdediging maak daarom Hlatshwayo se getuienis dat Potgieter hom op die neus geslaan het, as ongeloofwaardig af.

In ʼn mediese ondersoek van Potgieter, is daar tot die gevolgtrekking gekom dat Potgieter in die hospitaal opgeneem is vir ʼn besering wat hy aan die linkerkant van sy kop opgedoen het.

Cilliers het ook verskille tussen Hlatshwayo en Siyabonga se getuienis uitgelig.

Die verhoor duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Casper ·

Stuur hierdie saak af op iets soortgelyk as die Coligny en Middelburg sake.Ek kry die idee hulle word voorgesê.Daar sit meer agter die saak.Daar is ‘n derde mag wat die plaas soek om steenkool te myn.

Gaitsigubib ·

Nou kan mens net hoop dat die waarheid sal hierdie aangeklaagdes kan vry maak. Hulle lewens gaan reeds baie moeilik gemaak word (al word hul vrygespreek) want kriminele is wraaksugtig.

Gaitsigubib ·

Nee nie alles nie. Jy moet net kyk dan sal jy kan sien hoeveel wonderwerke daar daagliks, selfs in hierdie hool plaasvind.

TruthDealer ·

Sal maar moet sien hoe hierdie saak uitdraai vir hierdie boere. Ek sal verheug en verbyster wees as geregtigheid geskied. Maar dis SA so ek gaan nie te optimisties wees nie. Ek hoop maar vir hulle, vir die beste en regverdige uitkoms.

Hendrik ·

Meeste van ons is groot gemaak dat ‘n mens se woord, jou eer is. Lyk my dit geld nêrens meer in die wêreld nie. Mag die waarheid hier seëvier!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.