Pampoenkraal: ‘Prys die Here’ sê sewe ná ontslag

Daniel Cornelius Malan, Cornelius Lourens Greyling, Othard Johan Klingenberg is Maandag van alle klagtes vrygespreek (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

ʼn Reuselas van hul skouers af. En daarvoor kan hulle “net die Here dank”.

Só het die mans in die sogenaamde Pampoenkraal-saak gereageer nadat hulle ná ʼn lang verhoor vrygespreek is op elkeen van die aanklagte teen hulle.

Regter Bruce Langa het Dinsdag tydens ʼn hooggeregshofsitting in die landdroshof op Middelburg in Mpumalanga die sewe mans se aansoek om ontslag ingevolge art. 174 van die Strafproseswet toegestaan.

Daniel Cornelius Malan, Cornelius Lourens Greyling, Othard Johan Klingenberg, Ignatius Michael Steynberg, Zenzele Mzikayise Patrick Yende, Andries Pienaar en Werner Potgieter het tereggestaan op twee aanklagte van moord, poging tot moord, ontvoering, dwarsboming van die gereg en die oortreding van die Wet op Beheer van Vuurwapens.

Die aanklagte teen hulle het verband gehou met die skietdood van Mgcini Amos Coka en Zenzele Coka op 9 April 2021 op Pampoenkraal, ʼn plaas in die Piet Retief-omgewing.

Malan, Greyling en Klingenberg se aansoek om ontslag is Maandag reeds toegestaan.

“Dit was ʼn lang en emosionele saak en dit was nie ʼn maklike besluit vir my nie. Ek het my besluit gegrond op wetgewing en die feite wat in die hof aangebied is,” het Langa tydens sy uitspraak gesê.

Volgens die regter het die staat nie ʼn prima facie-saak teen die mans bewys nie.

Van links: Othard Klingenberg, Ignatius Steynberg, Andries Pienaar en Werner Potgieter (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

“Die staat het tydens die verhoor nie genoeg bewyse gelewer dat die beskuldigdes hulle aan die ses aanklagte skuldig gemaak het nie … Daarom is dit in die belang van geregtigheid om die beskuldigdes van alle aanklagte vry te spreek.”

Malan, Greyling en Klingenberg het die uitspraak Dinsdag ter ondersteuning van die ander vier mans bygewoon.

“Dit is ʼn groot verligting om aan die ander kant van die beskuldigdebank te kan sit,” het Klingenberg aan Maroela Media gesê.

“Nou kan ons lewe normaalweg voortgaan.”

Die situasie by die hof was Dinsdag kalm ondanks dreigemente van verdere betogings teen die hof se bevinding. Oproerige betogers het Maandag buite die hof saamgedrom en op die groep mans geskree nadat hulle die hof verlaat het. Hulle het Yende met ʼn baksteen aangeval en sy arm beseer.

ʼn Handjievol vriende en familie van die Coka-broers was vandag ook in die hofsaal en het hemde gedra met afdrukke van die broers se gesigte daarop. Hulle het tydens die uitspraak gefrons en hul koppe geskud.

Soos vroeër berig, het Langa bevind die staat se hoofgetuies en belangrike ooggetuies van die gebeure, naamlik Eric Hlatshwayo, Zakele Hlatshwayo en Alex Zondo, se getuienis was nie geloofwaardig of betroubaar nie.

Die regter het bevind hul getuienis was “deurspek met teenstrydighede en hul weergawes oor wat daardie dag gebeur het, het drasties van mekaar en ook van hul vorige polisieverklarings verskil”.

Othard Klingenberg, Ignatius Steynberg en Zenzele Patrick Yende (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Langa het in sy uitspraak ook bevind dat sommige klagtes teen die mans “nie sin maak nie”.

Hy het Klingenberg se weergawe, dat hy Mgcini uit selfverdediging geskiet het nadat Mgcini verskeie skote afgevuur het, aanvaar.

Die regter het ook die verdediging se weergawe, dat Potgieter en Yende ʼn burgerlike inhegtenisneming gedoen het nadat William vir Potgieter met ʼn stok aangeval het, aanvaar en het bevind dat ʼn “aanklag van ontvoering” nie relevant is nie.

Hy het ook die klagte van poging tot moord in twyfel getrek en sê volgens die feite in die hof blyk dit eerder ʼn klag van aanranding te wees.

Vroue staan sterk

Die groep mans se vroue was Dinsdag ook oudergewoonte in die hof.

“Dit was ʼn lang en emosionele twee jaar, veral die laaste vier weke tydens die verhoor,” sê Ursula Greyling, Greyling se ma en Potgieter se vrou.

“Ons is baie verlig en dankbaar teenoor ons Hemelse Vader en sou nie staande kon bly sonder sy genade nie.”

Volgens Ursula het die groep vroue deurgaans “bymekaargestaan en hande gevat”.

“Ons verstaan mekaar se situasies en gaan deur dieselfde nagmerrie. As ons mekaar nie gehad het nie, sou die pad soveel moeiliker gewees het.”

Die vroue het aan Maroela Media gesê hulle is oorstelp van vreugde dat geregtigheid en die waarheid geseëvier het.

“Dit is swaar om jou man in daardie beskuldigdebank te sien en te weet hy is onskuldig,” sê Ursula.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

32 Kommentare

domheks ·

Swak diens vanaf ons SAPD! Hoop die boere roei hulle vir ONNODIGE kostes aangegaan. Dit klink vir my na baie rassistiese aanklagtes. Hoop julle kry al julle geld terug plus nog so paar miljoen on in die banke weg te steek!

houopkruip ·

Wat ‘n verligting in hierdie siek land.
Hier en daar ‘n ligpuntjie – alhoewel bitter min.
Sal graag die kommentare op hierdie platform wil sien van die linkse liberale woke’s wat hierdie ooglopend onskuldige mense veroordeel het tydens die verhoor.

Realis Thailand ·

Hulle is te lafhartig en in die anc ingekruip om iets te se of skryf

Esme ·

Waar is die dae dat jy onskuldig was, totdat jy skuldig bewys is. Hierdie sake is almal rasgedrewe en wanneer laas was daar nuus of vrylatings van die Boeremag-lede of is die saak nou onder die mat ingevee?

Impact ·

En daar duik die samewering teen die boere in die hek net omdat hulle ongeloofwaardige getuies was – probeer die boere kelder en toe werk dit nie!!!!

Jacobus ·

Baie geluk aan daardie boere en baie dankie aan n nie rassige regter nie.

Piet Snot ·

As die hof ʼn Art174 ontslag gee, beteken dit dat, as jy aanvaar alles wat staatsgetuies gesê het is waar, daar nog steeds nie genoeg is waarop beskuldigdes moet antwoord nie.
As die Staat nie eens daardie lae hekkie kon oorsteek nie, dan was daar niks in hierdie vervolging nie.

Casper ·

Daar is veel meer agter hierdie onsinnige vervolging.Pampoenkraal is vrot van die steenkool en daar is ‘n myn wat die grond soek Hierdie saak was doodgebore voor dit begin het

Johann ·

Ergste is dat die “regstelsel” só misbruik kan word deur absolute leunaars! Die tyd en effort wat gemors is! En dan stap die wetters weg sonder dathulle aanspreeklik gehou word.

Linda ·

Dankie Here vir regverdigheid na so lang tyd om hulle onskuld te moes bewys.

Pannies ·

Dit is tyd dat die gepeupel leer hul aksies het gevolge en hul moet self daarvoor verantwoordelikheid dra.

Harley Davidson ·

Ek kyk na die komentaar en wonder hoe die volk so verniel en gedomineer is om bly te wees die mense is onskuldig bevind.Die realiteit is die mense was nooit skuldig om te begin nie en die regter het niemand enige guns gedoen nie glo my as daar ‘n mosterdsaad se getuienis was dat die boere verkeerd gehandel het sou dit ‘n ander storie gewees het.

Jannie van Niekerk ·

Nou moet die partydige polise, diegene wat die vals bewerings gemaak het en die betogers teen die bevinding amal vir ten minste 5 mijard jaar toegseluit word,

Realis Thailand ·

Wat my bitter maak is die ongerief ,vrees vernedering wat die arme mense moes ondergaan agv die swak werk van die polisie ,aanklaers ens
Dan verder die koste van prokureurs en verleis aan inkomste. Ek hoop hulle het darem een prokureur wie die mense kan raadgee om die staat te dagvaar vir kwaadwillige vervolging. Eintlik is dit rassisme en dit weet ons almal
Ek sal nie meer se voor ek aangekla word vir rassisme
Baie geluk aan die arme mans

Papsak ·

Dankie vir n opregte regter vir een keer laat hierdie boere vry is dankie HERE

007 ·

Wonder net wie gaan nou hulle der duisende rande se regskoste betaal? Hulle is verniet aangekla en vervolg en verneder. Ek like dit so as die pampoen in die gistigte van die eff ontplof.

Lillian ·

Die waarheid het geseëvier en ek is dankbaar saam met julle! Ons God is groot!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.