Pampoenkraal: Staat sê beskuldigdes had ‘gemeenskaplike doel’

Die Pampoenkraal-beskuldigdes van regs: Daniel Cornelius Malan, Cornelius Lourens Greyling, Othard Johan Klingenberg, Ignatius Michael Steynberg, Zenzele Mzikayise Patrick Yende, Andries Pienaar en Werner Potgieter (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

“Die beskuldigdes het ten alle relevante tye gesamentlik opgetree ter bevordering van ʼn gemeenskaplike doel om die betrokke misdade te pleeg.”

Só het die staat Woensdag aangevoer in die verhoor van sewe mans wat tereg staan vir die moord op twee broers op die plaas Pampoenkraal net meer as twee jaar gelede.

Daniel Malan, Cornelius Greyling, Othard Klingenberg, Ignatius Steynberg, Zenzele Patrick Yende, Andries Pienaar en Werner Potgieter het Maandag reeds in die beskuldigdebank in die hooggeregshofsitting op Middelburg hul plekke vir die verhoor ingeneem.

Die aanklagte teen hulle hou verband met die skietdood van Mgcini Amos Coka en Zenzele Coka op 9 April 2021 op Pampoenkraal, ʼn plaas in die Piet Retief-omgewing.

Die beskuldigdes staan tereg op aanklag van moord, poging tot moord, ontvoering, dwarsboming van die gereg en die oortreding van die Wet op Vuurwapenbeheer. Hulle is tans uit op borgtog.

“In hierdie stadium is dit onbekend presies wanneer, waar en op watter manier die gemeenskaplike doel gevorm is en wie al die partye betrokke was. Dit word beweer dat dit (die gemeenskaplike doel) tydens die uitvoering van die misdade – tot die laaste oomblik – asook voor die uitvoer van die misdade bestaan het,” voer die staat aan.

Daar was Maandag ʼn handjievol mense in EFF-drag by die hof en die situasie buite was rustig.

ʼn Groep familielede en vriende van die Coka-broers het Dinsdag die hofsaak bygewoon en het T-hemde aangehad met die broers se name en foto’s daarop.

Cornelius Lourens Greyling, Othard Johan Klingenberg (links) en Ignatius Michael Steynberg, , Andries Pienaar en Werner Potgieter (regs) (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Adv. Robert Molokoane, staatsaanklaer, het Woensdag die eerste staatsgetuie, Siyabonga Hlatshwayo, geroep om te getuig. Hlatshwayo was die dag op die plaas toe die broers laatoggend doodgeskiet is. Die plaas behoort aan Cornelius Greyling en Werner Potgieter.

Hlatshwayo het getuig hy was die oggend omstreeks 10:00 saam met ʼn groep voormalige plaaswerkers op die plaas om oor werk te onderhandel. Hulle was glo ongelukkig omdat mense van buite aangestel is, terwyl hulle nie werk gehad het nie. Die groep wou glo met die plaaseienaars hieroor “onderhandel”.

Nadat hulle op die plaas aangekom het, het van die ander plaaswerkers egter aangedui dat Greyling nie daar is nie. Die groep ontevredenes het daarna die werkers – wat in daardie stadium op die plaas in diens was – verjaag, het Hlatshwayo getuig.

Werner Potgieter is oor die situasie ingelig en hy het boere van buurplase in ʼn WhatsApp-boodskap gevra om te kom help.

Maroela Media het vroeër berig die ontevrede werkers het glo aggressief voorgekom en het boere wat op die plaas aangekom het, onder meer met stokke aangeval. Verskeie boere is ook in die voorval beseer.

Hlatshwayo het getuig dat hy weggehardloop het nadat Cornelius Greyling skote in die grond voor hom afgevuur het. Hy het op ʼn koppie gaan wegkruip en vandaar verskeie skote hoor klap.

’n Video van hoe Hlatshwayo, Alex Zondo (wat ook vir die staat gaan getuig) en twee ander mense met stokke by die plaas opdaag, is ook in die hof gewys. Die kringtelevisie-beeldmateriaal wys hoe die vier teen 10:37 op die plaas aankom en na ʼn skuur stap.

Die vier mense het teen 10:42 saam met sowat tien ander (plaaswerkers) die omgewing van die skuur verlaat. In video is dit nie duidelik waarheen die groep mense loop nie.

Beurtkrag het Dinsdag Hlatshwayo se getuienis kortgeknip en hy sal na verwagting Woensdag voortgaan.

Soos vroeër berig het boere een lid van die groep voormalige plaaswerkers, Nhlanhla William Hlatshwayo, op die dag aangekeer. Volgens die klagstaat is Hlatshwayo teen sy wil aangehou en aangerand.

Die verdediging voer egter aan Hlatshwayo het Potgieter met ʼn voorwerp aangerand.

Die klagstaat lui dat nadat Mgcini Coka gehoor het dat Hlatshwayo aangehou en aangerand word, hy hom na die toneel gehaas het “om by die situasie in te gryp”.

“Mgcini [Coka] en die plaaseienaars het slaags geraak en Mgcini en sy broer Zenzele is tydens die skermutseling doodgeskiet. Mgcini is in die kop geskiet en Zenzele in die bors,” lui die klagstaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

TruthDealer ·

So dis nou n misdaad om jouself te verdedig wanneer jy aangeval word? Wanneer jy geslaan en beseer word? Of tel dit net vir blankes?

Nommer 7 ·

Selfverdediging moet eers bewys word. Indien dit nie bewys kan word nie, dan eers is die moord ‘n misdaad. Ek voorspel dat selfverdediging bewys sal kan word, wel ek hoop so.

piet ·

Daar’s perke wanneer dit kom by selfverdediging. Dis nie net vir doodmaak nie. Paar boere met gewere ander paar betogers met stokke. Het die boere werklik geen ander keuse gehad as om die twee dood te skiet nie?

piet ·

Om te slaag met noodweer (selfverdediging) sal hulle moet bewys dat hul lewens in onmiddelike, dreigende gevaar was EN dat daar geen ander manier was om die aanval af te weer nie. Die toets is gewoonlik dat jy nie meer geweld mag aanwend as wat nodig is om die aanval af te weer nie. Gaan moeilik wees om te bewys. Hulle het geskiet om dood te skiet. So ‘n paar jaar in die tronk wat nie so erg behoort te wees nie siende dat “kommentators” hier gereeld vir ons se dat die tronk eintlik lekker is.

Skadu ·

M.a.w as ek openlik met ‘n geweer staan en iemand val my aan wetende dat ek ‘n geweer het, mag ek myself nie verdedig as hy minder as ‘n geweer het?

As jou lewe in gevaar is moet die wapen nie saak maak nie. Jy moet die reg hê om jou lewe te beskerm met watookal jy het.

Stokke en klippe kan ook dood maak.

piet ·

Dit sal afhang van die besonderse situasie. Ek het die toets duidelik gestel, dis hoe dit werk. Die hof gaan met die feite voor hom moet besluit of die aanval dreigend was (sy lewe in onmiddellike gevaar was) en of dit nodig was om die aanvaller dood te skiet in daai situasie. Die aanvaller se wapen kan verseker ‘n rol speel. Bietjie van ‘n verskil as die aanvaller byvoorbeeld reeds ‘n vuurwapen op jou rig of jou bestorm met ‘n swaard of jagmes in vergelyking met ‘n stok of wat ookal.

Nici ·

So die oortreders het met stokke opgedaag om te ‘onderhandel’? En toe wou hul nie net loop toe die boere nie wou onderhandel nie. Moeilik om te glo hier is veel van ‘n saak. Sluit die oorlewende oortreders toe. Die boere mag sekerlik onwelkome aggresiewe mense beveel om te loop en hulself verdeig.

Andrew ·

As die ligte afgaan gaan julle aanklaers baie werk hê as mense hul eiendom en families gaan beskerm teen die “peacefull demonstrators” met pangas en stokke. Dalk eerder Julls en makkers se monde begin snoer.

Harley Davidson ·

Dit is selfbeskerming,mense val jou aan al is hulle gewapen met stokke of enige voorwerp wat jou of ‘n ander persoon kan beseer of dood kan maak sê die wet jy is geregtig om die nodige geweld in hierdie geval die maksimum geweld te gebruik. Die beskuldigdes moet net saam staan en presies vertel wat gebeur het.Die staat gaan hulle probeer opbreek in 2 of 3 groepe om sodoende hulle saak te versterk maar met ‘n goeie prokureur behoort hulle die te wen.

George ·

Dis nie wat die wet se nie. Jy kan nie n geweer gebruik teen n stok nie. Hulle noem dit “force matching” tensy jy nie op die dood le omdat iemand jou met n stok slaan nie, kan jy nie n geweer gebruik nie. Ook nie teenoor n mes nie. Selfdefence is nie so clearcut soos in die movies nie.

Susanna ·

Sê eerder die Coka broers het ‘n gemeenskaplike doel gehad om die aangestelde wettige werkers van die boer se plaas te verjaag. Dis die boer se reg om werkers van sy keuse aan te stel. Coka broers is plaas toe met voorbedagte rade

Amelia ·

Hul vergeet hoe wreed boere aangeval word (die kind Horn wat oorlede is en moordenaars sover ek weet nog vry rondloop ) maar as boere hulself beskerm is dit hofsaak na hofsaak en jaag boere klomp geld uit sak ai mense ek kry hul baie jammer kan iemand nie hier n bietjie help nie (prokureur )

George ·

wat doen jy om hulle te help? Die feit bly, tussen die 5 van die boere kan hulle nie net die waarheid praat nie. Dui wie die sneller getrek het.

Pieter ·

Ek lees ander soortgelyke artiekels en kan nie agter die kap van die byl kom nie- dan lees ek die artiekel op Maroelea en dit word alles duidelik. Wel gedaan Maroele- puik artiekel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.