Panayiotou-borgtogaansoek: ‘Geen nuwe feite voor hof’

Christopher Panayiotou tydens 'n vorige hofverskyning. Foto: ANA

Christopher Panayiotou tydens ‘n vorige hofverskyning. Foto: ANA

Die staat het Maandag tydens die moordbeskuldigde Christopher Panayiotou se mees onlangse borgtogaansoek in die Port Elizabeth-landdroshof aangevoer dat Panayiotou se verdediging weereens net ou feite herhaal en nog niks nuuts aan die hof voorgelê het nie.

Adv. Marius Stander, die staatsaanklaer, het gesê dit is duidelik dat die verdediging se sogenaamde “nuwe bewyse” bloot met die krag van die staat se saak verband hou. Hy het gesê die verdediging het nie landdros Abigail Beeton se bevinding dat Panayiotou waarskynlik met die bewyse sal peuter, aangespreek nie of die feit dat hy ʼn vlugrisiko is of te veel finansiële verpligtinge het nie.

Hy het ook aangevoer dat Panayiotou se nuwe borgtogaansoek gehanteer moet word teen die agtergrond van die bevindinge van die Grahamstad-hooggeregshof waar sy borgtogaansoek-appèl aangehoor is.

Panayiotou word daarvan beskuldig dat hy sy vrou, Jayde, se ontvoering en gevolglike moord in April verlede jaar gereël het. Daar word beweer dat Panayiotou vir Luthando Siyoni, ʼn uitsmyter by Panayiotou se nagklub, betaal het om ʼn huurmoordenaar, Sizwezakhe Vumazonke, te kry om die daad uit te voer.

Stander het Maandag gesê die verdediging se aanvoering dat Siyoni tydens sy inhegtenisneming aangerand is, is feitelik verkeerd. “Siyoni het geen beserings tydens sy inhegtenisneming opgedoen nie en het erken dat sy regte aan hom verduidelik is. Ons weet [Panayiotou] was nie teenwoordig toe Siyoni in hegtenis geneem is nie. Alles wat [Panayiotou] nou aan die hof voorlê, is net duimsuigery. Wie sal die beste weet of hy aangerand is? Wie sal die beste weet of hy beïnvloed was om ʼn verklaring af te lê? Siyoni of [Panayiotou] wat nie eens teenwoordig was nie?” het Stander gesê.

Stander het ook die verdediging se bewerings dat Siyoni vier uur lank deur ʼn paar polisiebeamptes aangerand is om ʼn verklaring teen Panayiotou af te lê, ontken en gesê Siyoni het net een geswelde oog tydens sy aanhouding opgedoen. “Daar moet onthou word dat die bewyse oor Siyoni geassesseer moet word saam met die gesprek wat tussen [Panayiotou] en Siyoni afgespeel het. [Panayiotou] het nooit as ʼn agent vir die polisie gewerk nie, so hoekom sou hy Siyoni vir ʼn [opnametoestel] deursoek? Hoekom sou [Panayiotou] vir Siyoni opdrag gee om bewyse te vernietig? Hoekom sou [Panayiotou] vir Siyoni sê om hom nie te bel nie as hy dan probeer het om Siyoni te vang?” het Stander gesê.

Die verdediging het ook Maandag ʼn verklaring deur ʼn voormalige polisiebeampte, Leon Eksteen, voor die hof gebring. Die verklaring handel oor die beweerde dreigemente deur Costa, Panayiotou se pa, om hom te onterf.

Die verklaring is egter nie in die hofrekord ingelees nie. Adv. Terry Price moet nog die verdediging se argumente in verband met die verklaring aan die hof voorlê.

Die saak is tot 10 Junie uitgestel.

Lees alle vorige berigte oor Christopher Panayiotou op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Theresa B ·

Jy gaan (EN MOET) sit ou tata!! Stem dat daai sleutels weggegooi moet word!!

Goeie werk ·

Goeie werk Polisie veral Kanna Swanepoel, staatsaanklaer Stander, die wêreld staan agter julle oor een gesamentlike rede, regte vir Jade Panayiotou, nie wraak, nie vergelding nie, maar hy kon nadat sy Pa en girlfriend hom begin dreig en opdruk het, net maar geskei het. As hy dan nou so arm is soos hy en sy verdediging sê, sou hy nie veel verloor het nie! Jy weet Terry Price & Christopher, sy kon nie onderhandel of nuwe aansoeke bring oor haar lot nie en dit is nogal baie sad en realiteit.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.