Panayiotou gaan nie in moordverhoor getuig nie

Jayde Panayiotou. Foto: Verskaf

Die verdediging in die moordverhoor van Christopher Panayiotou, wat beskuldig word van die huurmoord op sy vrou, gaan vyf getuies roep.

Die staat het meer as 40 getuies geroep voor hy vroeër vanjaar sy saak in die Port Elizabeth-hooggeregshof gesluit het.

Anthony Emmet, ʼn familievriend en die streekshandelsbestuurder van die OK Grocer-winkels is, het Woensdag getuig, sowel as Marizio Bertolani, ʼn familielid van Panayiotou.

Emmet het getuig Christopher het hom die dag wat Jayde se liggaam gevind is gebel en hy het erg gehuil. “Ek het hom nog nooit so gesien nie,” het Emmet gesê.

Peter Bekker, ʼn familievriend wat met ʼn Panayiotou-familielid getroud is, het egter in November verlede jaar getuig Christopher het geen emosie getoon toe hulle gehoor het Jayde se liggaam is gevind nie.

Emmet het ook getuig dat hy ʼn werknemer van OK, Mawonga Ndedwa, in die teenwoordigheid van Fanoula Panayiotou en Chanelle Coutts, Christopher se minnares, afgedank het.

Ndedwa het vroeër getuig hy het ʼn sak met R30 000 in ʼn stoorkamer in die Panayiotou’s se OK-winkel gekry. Volgens hom het Panayiotou vir hom gesê die geld is vir Luthando Siyoni, die man wat glo gehuur is om Jayde dood te skiet.

Emmet het aan die hof gesê Ndedwa het vir hom gesê “Mamma [Fanoula] moet R150 000 betaal. Sy moet my binne vyf ure bel of ek gaan polisie toe.”

Ndedwa voer aan Panayiotou het sy foon en simkaart gebruik. Staatsaanklaer Marius Stander wou weet hoekom Emmet nie vir Ndedwa gevra het na wie hy verwys het nie. Emmet het gesê hy het eenvoudig nie belang gestel nie.

Die verdediging sal na verwagting Vrydag vir Laurika Booi as getuie roep. Christopher het glo sy internetkafee in die Cotswold-winkelsentrum in Booi se naam geregistreer.

Coutts sal ook later volgende maand as getuie geroep word. Regter Dayalin Chetty het egter gevra dat daar ʼn plan beraam word vir haar om vroeër te getuig. Adv. Terry Price het gesê hy sal ’n reëling probeer tref, maar dat dit moeilik is aangesien Coutts nie verlof kan kry by haar werkplek nie.

Price het gesê hulle is besig om met ʼn Amerikaanse selfoonkenner te konsulteer, maar kan nie bevestig of hy as getuie geroep sal word nie. Volgens Price wou hul eie selfoonkundige, Heather McGregor, nie verder die verdediging bystaan nie.

Christopher sal nie self getuig nie.

Die saak duur Donderdag voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

JJ ·

Ek wil graag weet hoekom hy voortgegaan het met sy troue, want hy was verloof aan Jayde maar het alreeds ‘n verhouding gehad het met ‘n ander vrou . Dit se al klaar baie van sy karakter!!!

Veronica ·

Ai!! So pragtige meisiekind! Sal dit seker nooit verstaan@

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.