Panayiotou: Hof hoor dalk vandag oor selfoondata

Christopher Panayiotou tydens 'n vorige hofverskyning. Foto: ANA

Christopher Panayiotou tydens ‘n vorige hofverskyning. Foto: ANA

Christopher Panayiotou, die sakeman van Port Elizabeth wat daarvan beskuldig word dat hy sy vrou se moord gereël het, sal Vrydag weer in die stad se landdroshof verskyn.

Panayiotou het in Januarie saam met sy twee medebeskuldigdes, Sizwezakhe Vumazonke en Sinethemba Nenembe, verskyn. Hy word daarvan beskuldig dat hy Vumazonke en Nenembe gehuur het om sy 29-jarige vrou, Jayde, in April verlede jaar te ontvoer en vermoor.

Marius Stander, die staatsaanklaer, het in Januarie aan die hof gesê die nasionale vervolgingsgesag (NVG) het aansoek gedoen by die Amerikaanse departement van binnelandse veiligheid om data van Panayiotou se selfoon te bekom. Tydens Panayiotou se vorige borgtogaansoek is gesê dit sal byna onmoontlik wees om die selfoondata te bekom.

Panayiotou het voorheen aan die hof gesê hy het die data op sy foon uitgewis om tekens van sy buite-egtelike verhouding met een van sy werknemers, Chanelle Coutts, te verwyder. Die staat het hom toe tot die Amerikaanse departement gewend om Whatsapp-boodskappe en Facebook-inhoud van die foon te bekom.

Die hof het Panayiotou twee keer borgtog geweier.

Die saak het internasionaal opslae gemaak toe Jayde se man in hegtenis geneem is, net dae nadat haar liggaam in Uitenhage gevind is. Die onderwyseres is glo ontvoer terwyl sy buite haar woonkompleks vir ʼn saamrygeleentheid werk toe gewag het. Die staat beweer Panayiotou het haar laat vermoor omdat sy finansieel vir hom ʼn las was.

Sy is na bewering oor die kop geslaan en in die bagasiebak van haar ontvoerder se motor gedruk. Sy is daarna op kort afstand geskiet, twee keer in die rug en een keer in die kop.

Panayiotou se verhoor sal na verwagting in Julie begin, wanneer die ondersoek afgehandel is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Deloris ·

Ek hoop hy gaan die tjokkie toe, daar wys soveel fingers na hom….

François ·

Ek vertrou dat die regter in hiérdié saak nié so sal kleitrap soos die regters met die oorspronklike Oscar Pistorius & die Shrien Devani sake nie! Hulle verdien om te sit! Jammer die doodstraf is geskraap!

Tammy ·

Ek wonder of die minnares van die beplande moord geweet het? Die selfoondata kan dalk lig op die onderwerp sit. Alles is vir my net te stil oor haar, ek wil meer weet want hy moes tog baie gesprekke met haar gehad het dat sy vrou in hulle pad is en hy is nie gelukkig daarmee nie. Of is ek nou heeltemal die kluts kwyt? Ek dink nogal baie oor hierdie saak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.