Panayiotou: Hof sê oor aansoek om ontslag

Christopher Panayiotou (heel regs met sy rug na die kamera) en sy twee medebeskuldigdes, Sinethemba Nenembe en Zolani Sibeko in die beskuldigdebank in die hooggeregshof in Port Elizabeth (17 Oktober 2016) Foto: ANA

Die hooggeregshof in Port Elizabeth het Vrydag ʼn aansoek deur die verdediging om twee beskuldigdes in die Jayde Panayiotou-moordsaak te laat vryspreek op die aanklagte teen hulle van die hand gewys.

Adv. Peter Daubermann, Sinethemba Nenembe en Zolani Sibeko se regsverteenwoordiger, het vroeër die week ʼn aansoek ingedien in terme van Artikel 174 van die Strafproseswet en aangevoer daar is nie genoeg bewyse om Nenembe en Sibeko skuldig te bevind nie. Daubermann het aangevoer die staat se saak teen Nenembe en Sibeko is slegs op omstandigheidsgetuienis gegrond en sonder die selfoonrekords het die staat geen saak nie.

Hy het ook beklemtoon dat sy kliënte nooit erken het dat hulle die selfoonnommers besit waarop die data-ontleding gedoen is nie. Die staat voer aan die data plaas die twee mans op sekere plekke in aanloop tot Jayde se moord.

Adv. Marius Stander, die staatsaanklaer, het Vrydag Daubermann se aansoek teengestaan en gesê in terme van die aanklag van sameswering tot moord is daar baie vrae wat die twee mans moet beantwoord. “Dit is nie nodig om direkte bewyse te lewer nie, dit kan ook bewys word deur afleibare redenasie,” het hy gesê.

Stander het na regspraak verwys en bevraagteken hoekom Nenembe en Sibeko kies om stil te bly wanneer hulle so baie het om te verduidelik. “Daar is absoluut geen verduideliking deur die twee beskuldigdes gegee nie. Ek vra hierdie hof om terug te sit en na die bewyse in geheel te kyk, na die patrone van die bewyse wat voor die hof geplaas is in afwesigheid van enige vorm van ʼn verduideliking,” het hy gesê.

Stander het aangevoer dat hy wel bewys het die selfoonnommers behoort aan Sibeko en Nenembe en dat die sim-kaarte ʼn patroon van kommunikasie tussen die beweerde samesweerders toon. Hy het gesê hy het ook bewys dat albei mans se selfone met die selfoon van die beweerde moordenaar, Sizwe Vumazonke, verbind kan word. Vumazonke is intussen in aanhouding dood.

Stander het bygevoeg dat Sibeko se selfoonnommer as “Zolani” op Vumazonke se selfoon gestoor was. Hy het ook aan die hof ʼn prentjie geskets van Nenembe wat in dieselfde voertuig gery het wat gebruik is om Jayde te ontvoer voordat sy op 21 April 2015 in die buitewyke van Kwanobuhle vermoor is.

Die staat beweer Jayde se man, Christopher Panayiotou, het Luthando Siyoni betaal om vir Vumazonke te huur om Jayde te ontvoer en vermoor. Volgens die staat het Nenembe vir Vumazonke gehelp om die ontvoering en moord uit te voer. Sibeko se selfoonnommer het hom glo ook naby Jayde se huis geplaas in die dae voor haar moord.

Die saak is tot 26 September uitgestel.

Lees alle vorige berigte oor Christopher Panayiotou op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pop ·

Hierdie arrogante man sal ek persoonlik aan n galgtou wou sien. Die koelbloedige manier wat hy praat op daai video laat mens se bloed stol.

Wens ·

Wens dit was nou buurland Botswana, dan was jou wens vir galgtou nou waar. Hy sou nie soveel kanse gekry het, even besoeke van sy verbode liefde, sy het geen skaamte of self respek. Sy sou in Botswana saam gesit het, haar oproepe aan 1ste moontlike hitman sou vir haar lewenslank gegee het, jy kan nie jou geluk op n ander se ongeluk bou nie, maar jy het verder gegaan op Jayde se familie so grootste hartseer en ongeluk, wat jy saai, sal jy maai!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.