Panayiotou-hofsaak: Emosionele tonele in PE-hof oor foto’s van Jayde

Christopher Panayiotou (heel regs met sy rug na die kamera) en sy twee medebeskuldigdes, Sinethemba Nenembe en Zolani Sibeko in die beskuldigdebank in die hooggeregshof in Port Elizabeth (17 Oktober 2016) Foto: ANA

Christopher Panayiotou (heel regs met sy rug na die kamera) en sy twee medebeskuldigdes, Sinethemba Nenembe en Zolani Sibeko in die beskuldigdebank in die hooggeregshof in Port Elizabeth (17 Oktober 2016) Foto: ANA

Die vermoorde onderwyseres Jayde Panayiotou se ma, Michelle Inggs, en haar sussie Toni het Maandagmiddag begin huil toe die staatsaanklaer ʼn grafiese foto van die 28-jarige se liggaam, kort nadat sy gevind is, in die hooggeregshof in Port Elizabeth vertoon het.

Staatsaanklaer Marius Stander het die foto van Jayde, waar sy ʼn blou denim en wit T-hemp dra, aan die hof gewys. Jayde lê met haar gesig na bo in bosse in ʼn oop veld in Kwanobuhle- informele nedersetting naby Uitenhage. Stander het die foto gewys terwyl hy ʼn staatsgetuie ondervra het tydens Jayde se man, Christopher Panayiotou, en sy twee medebeskuldigdes se hofsaak.

“Justice for Jayde”-ondersteuners, wat in die derde ry van die galery gesit het, het ook gehuil en gelaster toe hulle die foto sien.

Paul Franks, staatsgetuie, wat betrokke was by die polisie se soek-eenheid, het aan die hof bevestig dit is waar Jayde se liggaam op 22 April 2015 gevind is. Hy het gesê die soektog is aanvanklik op 21 April afgelas, maar het die volgende dag hervat toe polisiebeamptes inligting ontvang het dat daar drie skote in die gebied gevuur is.

Hy het die oomblik onthou toe die onderwyseres van Uitenhage se liggaam gevind is. “Helikopters het in die gebied rondgevlieg en ʼn spanlid het na ʼn beboste gebied gewys. Ek het dadelik soontoe gegaan,” het hy gesê. Hy het bevestig niemand het aan die misdaadtoneel gepeuter nie.

Die staat voer aan Panayiotou het Luthando Siyoni, ʼn uitsmyter by sy Infinity-nagklub, betaal om ʼn huurmoordenaar, Sizwezakhe Vumazonke, te kry om Jayde te ontvoer en te vermoor. Die staat voer aan Panayiotou se medebeskuldigde, Sinethemba Nenembe, het Vumazonke bygestaan tydens die ontvoering en moord.

Jayde is twee keer in die rug en een keer in die kop geskiet.

Siyone het intussen homself as staatsgetuie beskikbaar gestel. Vumazonke is oorlede.

Zolani Sibeko, nog ʼn medebeskuldigde, is die laaste persoon wat in hegtenis geneem is in verband met die moord. Hy is 15 maande ná die moord in hegtenis geneem. Hy word glo deur middel van selfoondata verbind met die misdaad waar hy, in die dae voor Jayde se moord, buite die Stellen Glen-kompleks waar sy gewoon het, teenwoordig was. Sy rol in die gebeure is nog nie duidelik gemaak nie.

Panayiotou en sy twee medebeskuldigdes, Nenembe en Sibeko, se hofsaak duur voort.

Lees alle vorige berigte oor Christopher Panayiotou op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.