Panayiotou-hofsaak: Só sê kenner oor voertuigspoorstelsel

Costa Panayiotou ondersteun sy seun Christopher tydens 'n vorige verskyning in die hof (Mei 2016) Foto: ANA

Costa Panayiotou ondersteun sy seun Christopher tydens ‘n vorige verskyning in die hof (Mei 2016) Foto: ANA

ʼn Getuie met omvattende kennis oor voertuigspoorstelsels, het Maandag in die hooggeregshof in Port Elizabeth die bewegings van ʼn bestuurder, die dag voor Jayde Panayiotou verlede jaar buite haar Stellen Glen-kompleks glo ontvoer is, beskryf.

Lorenz Stoger, wat as ʼn data-analis by Cartracking werk, het op die negende dag van Jayde se man, Christopher Panayiotou, en sy twee medebeskuldigdes, Sinethemba Nenembe en Zolani Sibeko, se hofsaak getuig.

Stoger het aan die hof verduidelik hoe die betrokke motor, ʼn Toyota Etios, ʼn paar keer vroeg die oggend tussen 06:00 en 07:00 na Ruthstraat in Newtonpark gery het. Die ritte het ʼn week voor Jayde se beweerde ontvoering en gevolglike moord plaasgevind en volgens Stoger het die motor in stadiums stadiger as 23 km/h in Ruthstraat gery.

Jayde se vriendin en kollega, Cherise Swanepoel, wat gewoonlik saam met die onderwyseres gery het, het in daardie stadium in Ruthstraat gebly.

Die staat voer aan die beweerde skieter, Sizwezakhe Vumazonke, wat nou oorlede is, het Nenembe en Sibeko opgelaai en hulle het ʼn paar keer saam na Swanepoel en Jayde se huise gery om Jayde se bewegings te bepaal en die ontvoering te beplan.

Stoger het aan staatsaanklaer Marius Stander verduidelik hoe die voertuig op 15 April teen ongeveer 20 km/h in Deaconstraat gery het naby die Stellen Glen-kompleks. Hy het gesê die laaste dag wat die motor buite Jayde se huis gevolg is, was om 06:29 op 21 April. Die Toyota Etios is daarna na ʼn ligging “buite die stad” gevolg.

Die staat voer aan Christopher het Luthando Siyoni, ʼn uitsmyter by sy Infinity-nagklub, betaal om ʼn sluipmoordenaar (Vumazonke) te huur om Jayde te ontvoer en te vermoor. Die staat voer aan Nenembe het Vumazonke gehelp om Jayde te ontvoer en te vermoor in opdrag van haar man. Siyoni het homself intussen as ʼn staatsgetuie beskikbaar gestel. Die staat voer aan Jayde is twee keer in die rug en een keer in die kop geskiet nadat sy na ʼn afgeleë plek in Kwanobuhle geneem is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Vivian ·

Wat ek nie verstaan: hoe trou enige ordentlike vrou met n man wat n nagklub besit? My hart gaan uit na haar fzmilie. Hul moet ondersoek instel hoe dit met sy finansies gegaan het en watse polisse hy op haar lewe uitgeneem het, nie net hier nie maar ook oorsee.

Seepbox ·

Ai regtig? Ek dink mens kan darem nog n nag klub besit en n suksesvolle verhouding hê…. Lustigheid gebeur by die mees ordentlike plekke ook – selfs in die kerk. Ek glo darem die polisie het wel al deur al sy en haar polisse gegaan voor hulle net begin vervolg het.

Philip ·

Net soos die vrou wat die Sondag verkragter getrou het. Hulle het weekliks kerk bids groepies by hulle huis gehou, dit terwyl hy ‘n verkragter en moordenaar was/is. Can’t judge a book by it’s cover ongelukig.

Lions ·

Ek hoop tegnologie kan meer lig werk op die saak. Tegnologie word baie onderskat.

Borrie ·

Sjoe!!! Tegnologie is fantasties. Paar jaar terug sou mens nie kon dink hoe tegnologie selfs in die hof sou kon gebruik word om misdadigers aan die pen te laat ry nie.

jaco ·

As jy die perfekte moord beplan, is Panayiotou se planne NIE die wenresep nie

Kowa ·

Dit is deesdae die maklikste ding om te skei. As hy haar gelos het was hy en sy skelmpie nou al lekker uitgekuier met mekaar en het hy nie in die tronk gesit nie. Geweld is nie ‘n oplossing nie, dit bring jou net in die moeilikheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.