Panayiotou hoor dalk lot op verjaarsdag

Christopher Panayiotou, Sinethemba Nenembe en Zolani Sibeko in die hof (26 Oktober 2017). Foto: Raahil Sain/ANA

Christopher Panayiotou gaan moontlik sy lot op sy 31ste verjaarsdag aanhoor wanneer regter Dayalin Chetty na verwagting sy uitspraak Donderdag in die Port Elizabeth-hooggeregshof sal lewer.

Chetty het ná die slotbetoë Dinsdag laat hoor dat hy sy uitspraak binne die volgende twee dae sal lewer.

Dit is in dié stadium nog onduidelik hoe lank die uitspraak sal duur omdat daar ʼn magdom bewyse is wat opgesom moet word.

Verlede jaar het die Panayiotou-familie sy verjaarsdag met koek en wegneemetes in die polisie se aanhoudingselle gevier.

Panayiotou, Sinethemba Nenembe en Zolani Sibeko staan tereg op aanklagte wat verband hou met die sameswering om Jayde Panayiotou te ontvoer en vermoor op 21 April 2015. Die moordverhoor het verlede jaar Mei begin.

Peter Daubermann, vir die verdediging, het aangevoer die feit dat Nenembe, Sibeko en die ontslape vermoedelike huurmoordenaar Siswe Vumazonke met mekaar kommunikeer het, is nie aanduidend van die inhoud van daardie gesprekvoering nie.

“Daar is geen bewyse voor hierdie hof oor die verhouding tussen Nenembe, Sibeko en Vumazonke en waaroor hulle met mekaar gekommunikeer het nie,” het Daubermann gesê.

Daubermann het aangevoer die staat steun bloot op omstandigheidsgetuienis en gebruik “bespiegeling en opgemaakte scenario’s” wanneer dit by sy kliënte [Nenembe en Sibeko] kom.

Daubermann het beklemtoon daar is geen bewyse wat aandui dat Sibeko bewus was van die sameswering nie.

“Daar is nie bewyse wat Nenembe en Sibeko in die motor waarmee Jayde ontvoer is, “plaas” nie. Selfs al bevind die hof Sibeko het saam met Vumazonke en Nenembe gereis na Jayde se woning op 15 en 16 April in die Toyota Etios, beteken dit nie hy het ingestem om enige misdaad te pleeg nie,” het Daubermann gesê.

Hy het bygevoeg indien Sibeko aanvanklik aan die uitvoering van die moord deelgeneem het, het hy hom duidelik daarvan gedistansieer deur sy samewerking te beëindig. Die staat het nie op die klagstaat beweer dat Sibeko teenwoordig was op 21 April 2015 toe Jayde buite haar huis ontvoer is nie.

Hy het verder aangevoer die staat se getuies wat die selfoonrekords van die beskuldigdes moes ontleed, is nie kundiges op dié gebied nie. Die staat het ʼn selfoondata-ontleder ingespan om te probeer bewys dat Nenembe en Sibeko aandadig was aan Jayde se moord deur die ligging en beweging van hul selfone op verskillende tye in die tydperk nét voor Jayde se moord te meet.

Daubermann het melding gemaak van wetenskaplike hulpbronne en prof. RP Coutts aangehaal oor hoekom die staat se selfoondata-ontleders glo nie as betroubaar geag kan word nie.

“Thereza Botha het self erken sy is nie ʼn kenner op die gebied van selfoonnetwerke nie en is dus nie opgelei om enige mening oor die ligging of beweging van die betrokke selfone te lug nie.”

Die saak is tot Donderdag uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.