Panayiotou hoor volgende week sy lot

Jayde Panayiotou. Foto: Verskaf

Jayde Panayiotou. Foto: Verskaf

Christopher Panayiotou, die man van Port Elizabeth wat daarvan beskuldig word dat hy sy onderwyseres-vrou vermoor het, sal nog ʼn week moet wag om te hoor of sy aansoek om borgtog goedgekeur is of nie.

Adv. Mike Hellens, vir Panayiotou, het Maandag lang betoë aan die hooggeregshof in Grahamstown voorgehou waarom sy kliënt se borgtogaansoek goedgekeur moet word. Panayiotou appelleer teen ʼn besluit van ʼn landdros in Port Elizabeth wat sy aansoek in Junie afgekeur het.

Hellens en senior staatsadvokaat Marius Stander het voor regter Glen Goosen verskyn.

Goosen het gesê hy sal op 28 Julie uitspraak lewer.

Jayde (29) is op 21 April buite haar huis in Kabegapark, Port Elizabeth, ontvoer terwyl sy gewag het op ʼn saamrygeleentheid na Riebeeck College, waar sy ʼn onderwyseres was. Haar liggaam is die volgende dag buite die Kwanobuhle informele nedersetting in Uitenhage gevind.

Lees alle vorige berigte oor Jade Panayiotou op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae