Panayiotou: Kwessie oor selfoonrekords in die hof

Jayde Panayiotou en haar man Christopher. Foto: Facebook

Die hofsaak van die moordbeskuldigde Christopher Panayiotou is Donderdag in die hooggeregshof in Port Elizabeth opgeskort toe die verdediging vir Sinethemba Nenembe en Zolani Sibeko ʼn aansoek gebring het om die manier te verwerp waarop die staat beplan om getuienis voor te hou oor selfoonkartering.

Volgens die staat wys selfoonkartering dat Sibeko saam met Vumazonke en Nenembe buite Jayde Panayioutou se huis by Stellen Glen-kompleks was, net vyf dae voordat sy ontvoer, in ʼn kattebak gedruk en daarna na Kwanobuhle geneem en vermoor is.

Jayde se man, Christopher Panayiotou (29), die beweerde meesterbrein agter die misdaad, is kort ná haar moord in April 2015 in hegtenis geneem.

Prokureur Peter Daubermann het Donderdag tydens die hofverrigtinge ʼn aansoek gebring om beswaar aan te teken teen die manier waarop die staat sy saak oor selfoonrekords wil stel. Hy het gesê die manier waarop die bewyse aangebied sal word, is ongrondwetlik en verhinder sy kliënte se reg tot ʼn regverdige verhoor.

Die saak teen Nenembe en Sibeko is byna uitsluitlik gebaseer op selfoonrekords. “Die selfoonrekords is in die besit van ʼn derdeparty, Vodacom, MTN en Cell C. Die beskuldigde het nie toegang tot die rekords nie en daar is nie ʼn manier hoe hulle kan bewys dat dit nie akkuraat is nie, hulle kan dit nie daag nie,” het Daubermann gesê.

Staatsaanklaer Marius Stander het egter gesê die aansoek is voortydig en Nenembe en Sibeko se verdediging kan die bewyse daag wanneer dit in die hof aangebied word. “Die beskuldigdes kan die selfoonbewyse bekom, die Wet op Toegang tot Inligting maak voorsiening daarvoor, indien dit hul eie nommers is. Daar is ʼn manier hoe hulle dit met die diensverskaffer kan verifieer. Hulle word definitief nie in die duister gehou nie.”

Regter Dayalin Chetty sal na verwagting Maandag sy uitspraak lewer.

Lees alle vorige berigte oor Christopher Panayiotou op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

karen ·

Ai tog shame arme man ! hoeveel bewyse het die regter nodig om die “waarheid te sien en te hoor” volgende sal hy seker ontken dis sy stem en gesig ….. ! hy kon sy familie duisende spaar deur maar liewer die skuld erkenning te doen maar dan hoe langer die saak uitgerek word hoe groter word die fooi….

Ongelooflik ·

Dit is ongelooflik hoe hierdie kriminele regte het, om n hele regstelsel op sy kop te draai met n flou verskoning van nie regverdige verhoor. Ek respekteer Marius Stander en Regter Chetty, dit moet op die ou einde oor die waarheid gaan en nie 100de ontglippingsmetodes vir misdadigers nie!

schalk ·

Sluit die wetter toe!!! Hys nie eers mans genoeg om verantwoordelikheid te aanvaar vir sy dade nie!!!

Rina ·

Ai dis vir my ook so sleg dat gewetenlose misdadigers en moordenaars kan aanspraak maak op hul grondregtelike en menswaardige regte – hulle het geen respek of gevoel gehad vir daardie beeldskone jong onderwyseres nie – dit het net om geld gegaan! Vra verskoning vir my volgende woorde dog ek se dit altyd: Ledigheid en origheid is die begin en einde van alle ellende – voeg nog geld by en jy het al die elemente om lewens te vernietig. Al wat agterna oorbly is gebroke families wie se lewens boonop ook vernietig is!

DS ·

Sluit hom toe en gooi die sleutel in die see. Hy is ‘n arrogante leuenaar wat geen berou toon vir die pyn wat hy veroorsaak het nie.

Valk ·

Wat van die video waar hy en die moordenaar saam konkel? n VIDEO!!! Waar hy die moordenaar vra hoekom hulle nie haar beroof het nie , en dit nou lyk na n “hit”….

Dis al wyd op FB versprei

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.