Panayiotou, medebeskuldigdes in hof vir moord op Jayde

Jayde Panayiotou en haar man Christopher. Foto: Facebook

Jayde Panayiotou en haar man Christopher. Foto: Facebook

Christopher Panayiotou, wat daarvan beskuldig word dat hy die moord op sy vrou, Jayde, gereël het, het Vrydag saam met sy twee medebeskuldigdes in die Port Elizabeth-landdroshof verskyn.

Panayiotou, Luthando Siyoli en Sizwe Prince Vumazonke was al drie in verskillende selle voor hulle die hof ingebring is. Hulle word aangekla van moord, sameswering tot moord, roof met verswarende omstandighede, ontvoering en regsverydeling.

Jayde se familie, sowel as familielede van Vumazonke, die beweerde skieter, was in die hof. Siyoli, wat glo teen sy medebeskuldigdes gaan getuig, is deur lede van die polisie se getuiebeskermingsprogram in die hof ingebring.

Die drie verdagtes het nie oogkontak gemaak of met mekaar gepraat terwyl hulle in die getuiebank was nie. Die staatsaanklaer, Marius Stander, het die hof versoek om die saak tot 13 Augustus uit te stel vir verdere ondersoek. Die versoek is toegestaan.

Jayde se suster, Toni Inggs, het gedurende die hofgebeure in trane uitgebars en is deur haar ma, Michelle Inggs, getroos.

Panayiotou het Siyoli glo betaal om die huurmoord op sy vrou te reël. Siyoli het as uitsmyter gewerk by ʼn nagklub wat Panayiotou besit. Siyoli het glo vir Vumazonke genader om die moord te pleeg. Panayiotou het na bewering R70 000 vir die moord betaal, waarvan Vumazonke R40 000 ontvang het en Siyoli R30 000.

Jayde (29) is op 21 April buite haar huis in Kabegapark, Port Elizabeth, ontvoer terwyl sy op ʼn saamrygeleentheid na Riebeeck College, waar sy ʼn onderwyseres was, gewag het. Haar liggaam is die volgende dag buite die Kwanobuhle informele nedersetting in Uitenhage gevind.

Klik hier vir alle vorige berigte oor die Jayde Panayiotou-saak op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Capt. (Retired) Paulus Antonio ·

Only time will determine his (her husband’s) final destination.

CHRISTA ·

Word ons Suid-Afrikaanse vroue gesien as wild waarop net goedsmoeds jag gemaak word – as dit nie deur hulle mans gedoen word nie word dit deur vreemdelinge gedoen!! Dis jammer ons regering is nie so besorg oor ons vroue se veiligheid soos oor hulle president s’n nie!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.